ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Waar Breyten gebly het

First published in Rapport, November 2016

(Since this article has been published some details might have changed)

Beleef die Breytenbach Sentrum

Wat vandag die Breytenbach Sentrum heet, was eens die Commercial Hotel in Wellington. Ook ‘n studentehuis, die basis van die Voortrekkerkommando, ingenieurskantore en ‘n daghospitaal.

In 1953 het Breyten Breytenbach, die gevierde digter, se ouers, Hans en Kitty, die statige gebou, toe bekend as The Grevilleas, gekoop en as losieshuis ingerig. Breyten was toe 13 jaar oud.

Na die eiendom op ‘n stadium erg verwaarloos was, is dit, met die ondersteuning van die Breytenbach-familie, opgekoop en oor ‘n handvol jare gerestoureer. In 2007 het die Breytenbach Sentrum sy deure oopgemaak.

Van toe af is dit so besig soos ‘n miernes by dié multi-dissiplinêre sentrum. Dis kunsuitstallings – van die kuns is te koop; daar’s werkswinkels en opleiding; hul doen gemeenskapswerk en bied ’n skryfskool en kunssinnige kursusse aan.

Die gemeenskapsprojekte waarby die Breytenbach Sentrum betrokke is, word breedvoerig op hul webtuiste (www.breytenbachsentrum.co.za/Breytenbach_Sentrum/Projekte.html) bespreek. Daar is musiekprojekte met die Wellingtonse Jeugorkes, ‘n musiekskool en ‘n talentsoek-kompetisie; daar is drama-projekte met ‘n dramageselskap en –opleiding; en daar is skryf- en leesprojekte by verskillende skole.

Twee jaarlikse skryfskole word aangebied: die eerste is vir prosa-skrywers en word deur Rachelle Greeff aangebied, dit kos R1500 per maand en begin elke jaar in September; die tweede is deur Diana Ferrus en word oor naweke vir digters uit die gemeenskap teen R150 as inskrywingsfooi aangebied.

Volgende jaar is die tienjaar-herdenking van dié sentrum. Die uitvoerende bestuurder, Theo Kemp, vertel dat hulle aan’t werk is om ‘n boek oor die geskiedenis, werksaamhede en belewenisse van die Breytenbach Sentrum uit te gee. Hy verwelkom insette van enige lid van die publiek. Kontak hom vroegtydig by theokemp@breytenbachsentrum.co.za

Soos hulle leuse, of kompas, self sê: Die Breytenbach Sentrum is nie ‘n plek van opgee, afgee of weggee nie, dit gaan oor aangee. En: Nie om verdeel of opdeel nie, maar oor deelname en deelword.

Die Bôrdienghuis is ‘n intieme buitegebou waar gereeld konsert gehou word. Dit was eens die ou buitekamer wat as Breyten Breytenbach se slaap- en studeerkamer gedien het. Altans, so is daar gedink tot Breyten sy storie verander het en ‘n kamer aan die punt van ‘n lang gang ín die huis as sy eertydse slaapkamer uitgewys het. Met elke besoek kom hy met nuwe staaltjies vorendag, vertel die personeel van die sentrum.

Terselfdertyd het hy vertel hoe sy ma op ‘n keer terwyl hy uithuisig was, sy kunswerke van die Michaelis Kunsskool ingekleur het omdat sy gereken het dat dit te donker vertoon.

Neffens die ingang van sy grootword-huis hang nou ‘n swartwit foto van Breyten se ouers, Oubaas en Ounooi, soos hulle alombekend was. Die gedeelte tussen die hoofgebou en Bôrdienghuis-teater staan steeds bekend as Ounooi se Jaart.

'n Viering van woorde by die T-aansluiting Koffiewinkel

‘n Viering van woorde by die T-aansluiting Koffiewinkel

Breytenbach Sentrum is trots Afrikaans. By die T-aansluiting Koffiewinkel is die muur bedek met speelse Afrikaanse woorde: rooinek, hengel, sondebok, skenkels, spiekeries, kniediep, broskors, prutpot, kafoefel, skoonskip, sielsalig, vertelseltjies, soebat. Swig voor vlapoffers, bloubessie-Hertzoggies, roomkaas-sjokoladebruintjies,koeksisters of dadel-en-okkerneutkoek saam met ‘n koppie tee.

By die Kardoes Kunswinkel kan jy van ‘n keramiektuindwerg (R5500) tot biddende hande (R500 elk) wat in drieë soos die vlieënde eende van ouds hang, aanskaf.

In die Tuin van Digters – waar die jaarlikse Fees van die Digters aangebied word – wag ‘n gedig jou om elke hoek en draai in, oftewel teen die stam van ‘n boom (ek lees die woorde van Johan van Wyk,“’n Boom is ‘n beskermheer van voëls”), om die rand van ‘n fontein (“agterplaas” en “verweer” vang my oog), en op voetpaadjies ingemessel. Ek glimlag oor “O gomgomgai!” van George Weideman onder my voete. ‘n Sementengel se vlerke getuig saam met N.P. van Wyk Louw van “eenselwigheid” en “Hoeders van die tuin”.

“Here” van Jeanne Goosen laat jou eers snak na jou asem, dan besin. Olga Kirsch dig van “ligte reën” wat haar wange “prikkel”, maar in die Tuin van Digters voel dit of die son elke dag skyn.

‘n Blaar verbloem ‘n deeltjie van die keramiekteëls waarop “Twee kleuters in die Vondelpark” van Elisabeth Eybers geskryf staan. “Vier mure teen die suidewind” uit “Reën in die Voorwinter” van G.A. Watermeyer is gepas teen ‘n buitegebou se growwe muur neergepen.

Ek bepeins saam met Daniël Hugo: “Vandag beproef die duif sy toonlere, môre lê die kat tussen bebloede vere” en “tot daardie dag van die leeu en die lam, die kat en die duif”.

Wat jy nog wil weet:

* Die Breytenbach Sentrum is op weeksdae 9h00-17h00 en op Saterdae van 10-13h00 oop.

* The Book Traders is ‘n self-help tweedehandse boekwinkel by Breytenbach Sentrum.         Hier word ‘n wye verskeidenheid kwaliteitboeke uit vele genres – van reis tot kook,           van  seevaart tot politiek – te koop aangebied.

 * Kyk wat volgende by die teater aan die beurt kom: 

    www.breytenbachsentrum.co.za/Breytenbach_Sentrum/Teater.html

 

4 comments on “Waar Breyten gebly het

  1. Tannie Frannie
    May 16, 2019

    Sulke interessante inligting!

  2. ilsez
    May 16, 2019

    Dankie, Tannie Frannie.

  3. Anna-Karien
    May 20, 2019

    Great artikel, jy moet nog ‘n een skryf oor die Digersfees, dis regtig fantasties.

    • ilsez
      June 23, 2019

      Ek was nie verlede jaar by die Digtersfees nie. Beplan om tentatief om hierdie jaar te gaan. Was nog net een keer daar, twee of drie jaar gelede. Het dit toe erg geniet. Dankie vir kompliment.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 16, 2019 by in In die Boland and tagged .