Teen Dag 3 op die River Royale van Uniworld Boutique River Cruise Collection het jy al so baie beleef – en geproe – dat dit kompleet voel of jy al ‘n week in absolute styl verwyl het.
Nog is het einde – o, saligheid – niet. Op Dag 3 vaar die River Royale na Pauillac, Patiras en Blaye.
Die oggendroetine van ‘n oorvloedige ontbytbuffet en Franse sjampanje voel noual of dit so hóórt. Vanoggend is dit egter nie net die vlees – en smaakpapille – wat gevoed word nie, maar ook die gees. ‘n Lesing oor Nieu-Akwitanië (Nouvelle Aquitane) se 3 riviere, 1 oseaan en unieke landskap wemel van interessante inligting en feite.
Net daarna word die River Royale-gaste verras met ‘n ‘tweede ontbyt’. Of dalk is dit eerder ‘n ‘teetydhappie’.
‘n Drielaag-toring plaaslike oesters word deur die hoofsjef, Manuel Marques, bedien. Ons kan kies tussen tradisionele suurlemoen, swartpeper en Tabasco of ‘n papajasalsa – of beide.
Só maak Sebastien
Oe la la, daar’s skaars tyd om met Sebastien Wendling, die menslikehulpbronkoördineerder oftewel gasheer, oor sy lewe by Uniworld te gesels, voor ons vir middagete in die Le Bordelais Restaurant op die River Royale aansit.
Sebastien loop oor van entoesiasme oor sy werk; hy werk al 12 jaar lank vir Uniworld en hy vertel dat 40-50% van die gaste van Uniworld terugkeer om weer saam met hulle te reis.
Dis ooglopend dat Sebastien ‘n mense-mens is. Hy dink dat geduld en die vermoë om te organiseer in sy guns tel. Hy’t reeds van jonks af geweet dat hy by toerisme betrokke wou raak en dat hy wou reis.
As hy op enige ander plek in die wêreld kon kies om te gaan werk, sal dit in die Seychelles wees. Interessant genoeg is sy gunsteling maaltyd nie Frans nie, maar Duits. Ja, hy hóú van sauerkraut, lag hy. Maar as hy sy laaste maaltyd op aarde sou moes kies, is dit foie gras gevolg deur ‘n sappige steak en dan ‘n éclair met vanieljesuiker.
Chateau du Tertre
Met ons aankoms by die elegante Chateau du Tertre kan ‘n mens nie glo hierdie wynlandgoed is al ‘n duisend jaar oud nie. Ek dog eers ek hoor verkeerd.
In 1997 is Chateau du Tertre deur ‘n Hollandse sakeman, Eric Albada Jelgersma, gekoop en dis hy wat dié wynlandgoed tot sy volle eer restoureer het.
In die kelder – net so elegant en spiksplinterskoon – fassineer ‘n eiervormige betonwynvat ons almal. Dié ongewone eierbetonwynvat fasiliteer opsigself die beweging van die wyn daarbinne.
Lees meer van Chateau du Tertre se geskiedenis en hul gebruik van die eierbetonwynvat: http://www.thewinecellarinsider.com/bordeaux-wine-producer-profiles/bordeaux/margaux/du-tertre/
Ons stap deur die tuin, waar ‘n verskeidenheid standbeelde ‘n mens se aandag trek, na die Orangerie waar die wynproe plaasvind.
Eers stap jy verby ‘n sprankelende swembad waar ‘n standbeeld afkoel. Suurlemoenboompies begroet jou by die glasdeure. Die tafeldoeke op die wynproetafel is – geen verrassing hieraan verbonde nie – eg Frans. Aan die kandelare hang speelse druiwetrosse. Die kuns is nie gewaagd nie, maar naakte swemmers word wel subtiel uitgebeeld.
Jy kan ook kies om die Go Active-wingerdtoer per fiets te doen. Eintlik is dit maar net ‘n ligte pedaaltrappie in die dorp rond.
‘n Vuurtoring op ‘n eiland
Skaars terug van ons onderskeie chateaus – almal word in kleiner groepies opgedeel wat dan verskillende chateaus besoek – meer die River Royale by die eiland van Patiras vas. Reeds tydens die oggendlesing wou my beker oorloop toe ek hoor dat ons selfs ‘n vuurtoring (le phare in Frans), boonop op ‘n eiland in ‘n rivier, gaan besoek. Dit voel of dit spesiaal vir my gereël is, synde ‘n vuurtoringliefhebber wat vuurtorings afneem waar ek oral reis om dit by my versameling vuurtoringfoto’s te voeg.
Die Patiras-vuurtoring is toe baie aantreklik. Met die naderstap sien jy eers net die syaansig. Aan die kante van die vuurtoring is oneweredige houtskoolkleur bakstene. Die vensters is van wisselende groottes en bo om die rand van die ‘lantern’ van die vuurtoring staan ‘Patiras’ geskryf.
Jy kan gemaklik met ‘n wye trap tot bo in die Patiras-vuurtoring klim. Van bo op die uitkykdek kan jy net-net die musiek van die musikant hoor wat ons op die eiland verwelkom het.
Terwyl die son besig is om stadig te sak, word vars artisjokke en bruschette met Franse wyn – hoe dan anders? – bedien.
Bon appétit!
Tydens aandete vaar die River Royale in die rigting van Blaye.
Die spyskaart vir aandete – o jinne, die keuses wat ‘n mens moet maak – lyk so:
Voorgereg
Gascony smoked duck breast with cherry compote & string bean walnut salad
‘Mouclade Charentaise’ – Black mussels in parsley, shallots, white wine & creamy sauce served with roasted baguette
Sop
Consommé Aurore – Tomato consommé with chicken strips & tapioca pearls
Cream of leek and potatoes Chevriere with lettuce julienne, sorrel and chervil
Entrées
Pan fried fillet of salmon with braised Savoy cabbage, pommes noisette & grilled baby red pepper beurre blanc
Pork tenderloin with tarragon sauce, Basquaise vegetable & potato gratin
Stuffed bell pepper with dried tomatoes, carrots, zucchini & chick peas, gratinated with cheese, served with paprika sauce
Nagereg
Passion fusion – White chocolate soup with oriental flavour biscuits and sorbet of passion fruit
Sou een van bostaande jou nie geval nie, is daar nog ‘n paar á la carte keuses ook.
Ons sluit die aand – o, so dekadent – af met … eers met Chartreuse-likeur en daarna met konjak. Die lewe voel of dit nie beter kan word nie!
Aijaijai, hoe laat jy my mond water!
Ek laat my eie mond ook water, Tannie Frannie!
Dit was nie n goeie idee om hierdie post te lees voor ontbyt nie…ek was so meegevoer, het salig geglo ek gaan nou oesters en foie de gras kry vir ontbyt. Maar helaas moes ek maar berus met roosterbrood. Wat n ervaring! Dankie Ilse, hierdie gaan verseker op my ‘to go list’.
Nou maak jy MY lus vir oesters! Hier kommie roosterbrood!