ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

WILD WILDER WESKUS

First published in Die Burger, January 2015

Die rokie trek en die son sak

Die rokie trek en die son sak

Dis nie net die getye – veral met springgety – wat roeringe by Brand se Baai bring nie. Sedert ‘n vorige besoek twee jaar gelede is hier sprake van ontwikkeling.

Hô nou, dis ontwikkeling by wyse van spreke. Dis nie nodig om summier die ritteltit te kry nie.

Brand se Baai(e) is in die meeste opsigte nog dieselfde Brand se baai(e) as wat dit nog altyd was.

Als goed en wel

Die eerste teken van opgradering wat ons teëkom, is ‘n padteken of twee, dalk drie, anderkant Lutzville oppad na die see wat nie vantevore daar was nie.

‘n Ander – wat niks met Brand se Baai uit te waai het nie – is die sierlike gesig van windturbines wat jou van ver af begroet. Knap oor die dertig, tel ek, waarvan almal nog nie hul lemme aanhet nie.

Be bler die skape ;n groet met die inry

Skape groet en staar nuuskierig met die inry

Ons kom anderkant die soutpan nuwe hekke teë. Gelukkig nie smoelslaners nie en gelukkig ook nie gesluit nie. Ag, dis so lekker as ‘n plaashek ‘n paar sentimeter bo die grond hang en nie op die grond sleep nie, mymer die hoofhekoopmaker onder ons.

Soos ander jare is hier mense – een met ‘n gitswart tent – wat vooraf kom kleim afsteek en dan vermoedelik – seker maar onder protes – na Skoonma verkas vir Kersfees. Net gehawende karavane word hiernatoe gesleep, want dit kos sléép, pappa. Plek-plek is die pad die ene los sand en het jy ‘n viertrekvoertuig nodig.

Sommige van die kampplekke het deesdae name

Sommige van die kampplekke het deesdae name

Baie Noord-Kapenaars kom vroeg om staanplekke op die begroeide duine te (noord)-kaap. So asof ‘n mens net dan al die pad tot by die horison kan sien. Ander families verkies kreefduikbaaitjies, die nabyheid van ‘n sandstrand of die windskuiling van ‘n krans.

Anderjaar se busblyplek is weg; ons bespeur wel ‘n fuchsia-pienk Volla-kewer wat nugter weet hoe tot hier gekom het.

Al die veld is vrolik

Vanjaar blyk daar ‘n sameswering tussen die veldblomme en vetplante te gewees het. Almal pryk met skakerings van pers en lila blommetjies.

As jy dit gelukkig tref, wip ‘n skaam meerkatfamilie onverwags voor jou op. Ons sien min skilpadjies – dalk omdat ons aan die Overberg gewoond is – maar tog van hul spoortjies. Ook min veldmuise, maar daar moet genoeg van hulle wees, want op die grensdraad sien ons ‘n hele paar valkies wat die bossies stip dophou.

Oeps. hoe laat skrik jy my nou dat my ore penorent staan

Oeps, hoe laat skrik jy my nou dat my ore penorent staan

Vir ‘n tweede sameswering is die weergode klaarblyklik verantwoordelik. Kom Kerstyd, kom rowwe water. En was die water nou nie omgeëellie nie! Dis die ene vuilbruin skuim in die klipskeure. Dus g’n krefie op die kole nie, en net een aand wat daar mossels in die pot was.

Ons buurkampeerders – nie binne sig nie, want dis hoe daar by Brand se Baai gekamp word – reken dis die rofste wat die see oor hierdie tyd van die jaar in die afgelope dekade was. Die nie-swemmer in ons kampterrein kou bietjie naels hieroor.

Pret op die strand voor die son sak

Pret op die strand voor die son sak

Einste bure ken van kamp mét honde. Hul vyf terriërs jaag op vasgestelde tye bamboes; die res van die tyd pas hul kamp op en nét vir hul gerief het hulle hul eie opblaasswembadjie. Hulle kan hul netsowel verbeel dat hul gepamperlangde poedels is.

Brand se Baai is hondvriendelik en orals waar ons kom, ken die hondekampers – onderskeidelik ‘n skaaphond, Jack Russell en basterbrak – hul plek. Ons word met ‘n blaf, en soms ‘n lek, verwelkom en dan verder geïgnoreer.

Vooruitgang op klein skaal

Deesdae het baie – maar nie alle – kampplekke naam gekry. Dit lyk na ‘n naamgeeproses in wording.Op nuutgeboude klip-en-sement buksiepilare staan Tietie(s)baai, Sewejaarskop, Ruitersvlei, Bruinklip Loop en Volwaterbaai Loop.

Die pilare dien ook as afgeepunt vir vullissakke vanwaar dit opgetel kom word. Net jammer party mense gooi sommer hul bierbottels net so neer – komaan, plaas dit in ‘n swartsak en knoop dit netjies toe.

Daar’s bespiegelinge dat Parkeraad meer betrokke by Brand se Baai aan’t raak is en op die oog af lyk dit definitief so.

Worsie Visser Kampplek word sommer dubbeld aangedui –op die pilaar en op ‘n losstaande motorband. Nou hoef niemand meer langer te bespiegel of dít nou regtig sy ou wegbreekplekkie was nie. As jy by die huisie se vensters inloer, sien jy daar het al baie water in die see geloop sedert iemand hier kom uitspan het.

So trots op sy kampeerplek dat hy naam gee

So trots op sy kampeerplek dat hy naam gee

Daar’s ook die manne wat hul eie staanplek naam – soos Kamp Rooi Gety – gee. Of sommer ‘n helderrooi of geel sak aan ‘n bossie knoop sodat hul maters weet waar om af te draai en te kom tentpen inkap.

By Brand se Baai skep jy jou eie vermaak. Pak ‘n sak vol boeke in, tel pampoentjies op die strand op, gaan stap lang ente, bekyk die strandvoëls (seemeeue, kormorante, strandlopertjies en swartoestervangers), en dink na oor die lewe.

Stop die lorrie

Ook verfrissend om te sien, is hoe al die onnodige tweespoorpaadjies – veld in en af na die see – nou op natuurlike wyse – met twee paaltjies en gepakte klippe – versper is. Hoeveel veldpaadjies het ‘n mens dan nou ook nodig?

Deesdae word daar seker gemaak daar word net op spesifieke plekke gery

Deesdae word daar seker gemaak daar word net op spesifieke plekke gery

So kan die veld herstel en word die enkele werfwetters – op ‘n vorige besoek opgemerk – wat hier – nie in hul eie jaart nie – goedsmoeds deur die veld ry, verhoed om dit te doen.

Ons wou nog by Gert du Toit se Baai ook ‘n draai gaan maak, maar gelukkig bel Vriend Faffa om te waarsku dat van die hekke op die paaie soontoe nou gesluit is. Maak dus seker voordat jy ‘n trippie soontoe beplan.

Hoe om daar te kom:
·        Vanaf Kaapstad is dit 325 km met die N7 tot by Lutzville. Dit behoort jou so net-net oor die vier uur te neem om daar te kom.
·        Vanaf Lutzville tot by die afdraai na Brand se Baai (deesdae duidelik aangedui) by Namakwa Sands se myn neem nog sowat ‘n halfuur.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 5, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .