ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Glo jý aan spoke?

Oorspronklik gepubliseer in Joernaal, Lente 2021

Stilering deur Hannes Koegelenberg

Kry jy sommer hoendervleis aan die gedagte van spokerasies, geeste, hersenskimme en soortgelyke gedoentes?!

Gee dit jou die ritteltit om ‘n spookhuis of –dorp te besoek?

Of het legendes soos dié van De Vliegende Hollander (oftewel die Vlieënde Hollander) jou al kleintyd bekoor en laat jeuk om ‘n spooktoer te doen?

As jou antwoord op die laaste vraag ‘n onomwonde ja is, gaan wat jy lees, by jou bly spook.

Wie onthou nie vir Antjie Somers uit hul kinderdae nie?

Antjie Somers kom uit ‘n kinderbangmaakstorie oor ‘n man – moontlik ‘n struikrower – wat bedags teen die hange van Tafelberg woon. Snags vermom hy hom soos ‘n vrou en vang stout kinders wat hy in ‘n sak op sy rug wegdra. Altans, dis die bekendste weergawe van dié storie wat reeds sedert 1866 die rondtes doen.

Dis net ‘n spook wat só lank die Kaapse strate op somersaande – dis kwansuis waar sy/haar ‘van’ vandaan kom; die Kaapse winters is te koud om buite rond te dwaal – kan patrolleer.

Die Kaap bly Hollands

Ene Van der Decken was – of is! – die kaptein van De Vliegende Hollander. Volgens oorlewering het dié seerot in die 1700’s gesweer hy sal om Kaap die Goeie Hoop vaar; al duur dit tot Oordeelsdag.

Die wind was stormsterk, die wolke het begin saampak en die branders het al hoe wilder geslaan. Die bemanning het die kaptein gesmeek om om te draai, maar Van der Decken was onversetlik. Helaas, almal het vergaan.

Daar word geglo dat dié spookskip nog stééds om die Kaap probeer vaar, oor en oor, tot ewig verdoem.

Die legende lui ook dat die bemanning van De Vliegende Hollander steeds boodskappe en briewe vir hul families by die huis aan ander skepe probeer oorhandig. Sou ‘n ander skip of kaptein een van die briewe aanvaar, is hulle ook vir ewig verdoem!

De Vliegende Hollander het selfs in die Pirates of the Caribbean-flieks ‘n verskyning gemaak.

Elke hond kry sy dag

Dis seker ondenkbaar dat die Kasteel de Goede Hoop in Kaapstad, die oudste gebou in Suid-Afrika steeds in gebruik, nié ‘n spook of twee sal huisves nie.

Die (spook)storie loop dat ‘n groot, swart hond met bloedbelope oë in die gange van die Kasteel mense die skrik op die lyf jaag.

Dan dwaal hier ook ‘n ouerige vrou met grys hare en ‘n hartseer uitdrukking op haar gesig. Sommige vertel dat ‘n ondergrondse tonnel die Kasteel met Tuynhuys verbind en dat dié vrouespook soms na die ampswoning van die president sweef.

Wagte wat snags diens by die Kasteel doen, vertel grootoog van bloedstollende gille, onaardse stemme en onverklaarbare voetstappe wat hulle noop om buite om die gebou, eerder as in die gange, te loop.

Dis dalk die gille en stemme van honderde gevangenes wat toentertyd in Donker Gat in die Katzenellenbogen-bastion gemartel en aangehou is. Dit gee ‘n mens nou nog rillings om vir ‘n wyle in dié donker sel te staan.

‘n Swewende liggaam sonder bene is klaarblyklik ook al in die Leerdam- en Buren-bastion opgemerk. Spookkenners bespiegel dis die spookgestalte van ‘n soldaat wat homself ‘n paar eeue gelede in die kloktoring gehang het.

Laastens maak ‘n spook in ‘n balrok soms haar verskyning in haar voormalige tuiste – dis die nimlike Lady Anne Barnard, die vrou van die voormalige koloniale sekretaris aan die Kaap, wat vir vyf jaar in die Kasteel gewoon het.

Selfs cntraveler.com/gallery/most-haunted-places-in-the-world noem Kasteel de Goede Hoop (castleofgoodhope.co.za) een van die top 43 plekke ter wêreld wat bekend is vir spoke wat daar uithang.

‘n Spook is ‘n spook is ‘n spook

Volgens die HAT (Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal) is die definisie van ‘n spook “gees van ‘n afgestorwene wat aan lewendes sou verskyn; vreesaanjaende verskyning wat hom meestal snags openbaar; dwaalgees; skim”.

Die vertel van spookstories kom in alle kulture (insluitende antieke kulture) voor en word mondelings of skriftelik oorgedra.

Die antieke Romeine het spoke as die rustelose siele van oorledenes beskou. Hulle het geglo jy kan ‘n spook inspan om op ‘n vyand of iemand wat jy wou vervloek, wraak te neem. Al wat jy moes doen was om ‘n vervloeking op ‘n stuk lood of erdewerk te krap en dit dan in ‘n graf te plaas.

In Middeleeuse Europa is geglo dat spoke in een van twee kategorieë val: die siel van dooies, óf demone. Siele van dooies het ‘n spesifieke rede gehad waarom hulle teruggekeer het soos om ‘n persoon wat nog leef, te versoek om vir hulle te bid om hul lyding te beëindig of om die persoon aan te moedig om hul sondes te bely voor hulle self sterf. Demoniese spoke wou bloot die lewendes se lewe hel maak.

Soos orals anders, toon Suid-Afrikaanse spookstories baie kruiskulture bestuiwing.

Selfs die dokter-skrywer-digter-dramaturg C. Louis Leipoldt se belangstelling was geprikkel deur bonatuurlike verskynsels; dit het daartoe gelei dat verskeie kortverhale wat as spookstories getipeer kan word, uit sy pen gevloei het. In een van Leipoldt se bundels “Waar spoke speel” lys die skrywer in sy inleiding ‘n paar reëls wat op spookstories van toepassing is insluitende die kuns om bang te maak in die letterkunde.

Skrik jy vir koue pampoen?

Dis nie lekker om bang te wees nie. Waarom hou mense dan daarvan om spookstories te vertel of daarna te luister?

‘n Toonaangewende teorie is dat dit vrees ontboesem wat jy kan beheer. Terwyl jy die spookstorie oorvertel of bloot luister, wéét jy dis nie rêrig nie.

Terselfdertyd weet jy die lewe het só baie om voor bang te wees, dat die hele ervaring eintlik ‘n tipe gerusstelling inhou. ‘n Spookstorie het altyd ‘n gelukkige einde, want dis maar net ‘n storie!

Spookstories saam met moedersmelk

Reeds van kleintyd af onthou ek die stilsit-om-nie-uitgestuur-te-word-nie om ‘n Overbergse kombuistafel tydens familiekuiers wanneer daar spookstories gesels word.

Die Overbergstreek (met hoofdorpe Caledon, Hermanus, Bredasdorp en Swellendam asook die kusroete insluitende Kaap Agulhas) besit oor ‘n skatkis van spookstories soos veral opgeteken deur die bekende skrywer C.G.S. de Villiers oftewel Con de Villiers (1894-1978).

Om Kaap Agulhas binne te ry – daar is net een pad – moet jy deur Spookdraai ry. Volgens ‘n inligtingsboekie oor die Spookdraai-staproete is die oorsprong van die naam Spookdraai “omtrent so duister soos ‘n spookstorie”.

Een verduideliking lui dat ‘n skip lank gelede in St. Mungobaai in Spookdraai gestrand het. Daar was slegs een oorlewende, ‘n mooi jong vrou met opvallend slanke hande, wat op die strand uitgespoel het. Sy het noodgedwonge in ‘n grot teen die berg ingetrek; dis waar sy ook gesterf het. Haar siel het egter nooit tot ruste gekom nie.

 ‘n Ander lui dat ‘n man in ‘n grieselrige ongeluk op Spookdraai heeltemal onthoof is. Sy spook het ook vir lank hier rondgedwaal.

Laastens vertel inwoners dat daar lank terug net één huis op dié draai gestaan het. Dié huis het net ‘n enkele inwoner gehad. In die volksmond het die man as “Man Alone” begin bekendstaan; lateraan is sommer van die “Spookhuis” gepraat en nog later van die “Spookhuis op Spookdraai”.

Die spookvrou van Spookdraai is ‘n vriendelike gedaante. Blykbaar loer sy af en toe by Agulhas Country Lodge (agulhascountrylodge.com) in, maar sy jaag niemand die skrik op die lyf nie. Sou sy die dag in ‘n omgekrapte bui wees, is dit niks wat een van dié gastehuis se uitmuntende etes of ‘n verposing in die sigaarsitkamer nie sal regstel nie.

Die volle Spookdraai-staproete is nie meer oop vir die publiek nie. Volg die witgeverfde spokies op strategies-geleë klippe vanaf die beginpunt (by Mount Pleasant) tot by St. Mungobaai.

In nabygeleë Bredasdorp het die Bredasdorp Skeepwrakmuseum so onlangs as 26 Junie 2021 op hul Facebook-bladsy aangekondig dat die spookvrou van die museum gewaar is. Dié spookvrou kan soms bespeur word waar sy op verskillende plekke in die museum ‘n uiltjie knip.

Die Bredasdorp Skeepwrakmuseum bied sedert Junie 2021 Spookloop-en-Skattejagaande aan (wanneer covid-reëls dit toelaat).

So ook het De Hoop-natuurreservaat (dehoopcollection.com) in die Bredasdorp-distrik sy eie grillerige storie.

Ene Pieter Cloete van die plaas De Hoop wou sy nuwe bruid met ‘n vars uitgehaalde oester verras. Tot die bruidegom se algehele verbystering het sy bruid verstik aan die oester. Hy het daarop sy geweer teen sy kop vasgedruk en die sneller getrek. Die koeël het in die plafon vasgeslaan, die voordeur van die plaasopstal het ‘n gat bygekry en die bruidspaar het op dieselfde dag gesterf.

Die oesterskulp is later bokant die opstaldeur vasgemessel.

William Stephens van De Hoop Collection vertel sy span moes die bloedvlekke van die houtvloer afskuur voor die Opstal-herehuis in gebruik geneem is; die koeëlgat – en die oester – is steeds daar vir almal om te sien.

Beide Cloetes sweef nog daar rond – mevrou Cloete loop snags met laaggety wanneer dit tyd is om oesters uit te haal; meneer Cloete hang rondom die opstal rond.

Die spookmeisie van Uniondale

Die bekendste spookstorie in die land is seker dié van die duimgooiende spookmeisie van Uniondale.

Meer as 50 jaar gelede is ‘n jong vrou, Maria Roux, in ‘n motorongeluk buite Uniondale oorlede. ‘n Rukwind het die motor waarin sy en haar verloofde gereis het, van die pad geruk.

‘n Paar jaar later het ‘n paartjie van Cradock die eerste keer ‘n duimgooiende spookmeisie in ‘n lang wit rok op pad na Uniondale gewaar. ‘n Radiogeselsprogram het kort daarna oor die verskyning berig.

Van toe af lóóp die storie. Oftewel die spook.

‘n Vrou staan en ryloop langs die Uniondale-pad. Sy word deur ‘n motoris – soms ‘n motorfietsryer – ‘n saamrygeleentheid gegee. ‘n Rukkie later verdwyn sy in die niet. Soms hoor die barmhartige Samaritaan motordeure klap, partykeer ‘n skril gegil.

In die Oudtshoorn-distrik, tussen Klaarstroom en Meiringspoort, kom nog ‘n ryloperspook – ‘n ou afgestorwe smous – voor wat ook eensklaps verdwyn.  

Onthou jou ma se waarskuwing: moet nooit rylopers oplaai nie.

Oud, maar nog nie koud

Hoe ouer die gebou, of dorp, hoe groter die kans dat spook se kind jou die skrik op die lyf sal jaag.

In Suid-Afrika se oudste hospitaal, Somerset-hospitaal, in Groenpunt, Kaapstad dwaal meer as een vrouespook waaronder ‘n blonde meisie wat onophoudelik haar hare kam.

In die Ou Tronk in Philippolis in die Vrystaat – waar jy kan oorslaap! – hoor gaste soms snags vioolmusiek. Dit is die vioolspel van Willem Bitter, ‘n musikant uit die distrik wat in ‘n motorongeluk oorlede is. Sy onthoofde lyk is na die tronk (die destydse polisiestasie) gebring; sy viool is daardie nag gesteel.

In Erasmuskasteel, ook bekend as “Die Spookhuis”, in Pretoria (Tshwane) is die gekerm van mense snags hoorbaar. Die ligte skakel ook onverklaarbaar aan.

 In die Sammy Marks-Museum (Samuel Marks (1843-1920) was ‘n Suid-Afrikaanse nyweraar) in Tshwane knyp ‘n ondeunde spook so dan en wan vrouebesoekers se boudjies.

Daisy de Melker (1886-1932), SA se berugte gifmoordenares, se spook het ook nog nie gaan lê nie; sy gee hofgangers in Hof 3 van die Johannesburgse Hooggeregshof ‘n krieweling langs die ruggraat af. Sy loer ook af en toe uit by die boonste venster van die huis waar sy in Turffontein gewoon het.

By Nottingham Road Hotel in die Midlands Meander, KwaZulu-Natal skuif ‘n voormalige kroegmeisie potte en panne in die kombuis rond of lui die diensklok net omdat sy so voel.

Die Hoofbiblioteek is maar een plek in Gqeberha waar dit spook; volgens oorlewering, word ‘n onvergenoegde polisieman hier gewaar. Soos Gqeberha, het Kimberley, Simonstad en Pelgrimsrus elk ‘n goeie kwota spoke.

Die Ou Tronk in Grahamstad is in 1824 gebou. Vanaf die tronk is terdoodveroordeeldes in oorlogstyd na die militêre paradegrond gelei. Tot vandag toe het van die terdoodveroordeeldes se geeste nie tot ruste gekom nie.

Jaag spoke op

Lus om ‘n slag uit die huis te kom? Gaan soek ‘n spook!

As Groot Constantia (grootconstantia.co.za) jóú werf was, sou jy ook nie wou penne uittrek nie. Dis dus g’n wonder Simon van der Stel drentel tot vandag toe tussen die imposante Kaaps-Hollandse geboue en wingerde rond nie; voor jy by Jonkershuis of Simon’s Restaurant aansit, loer eers of jy nie dié kommandeur gewaar waar hy in die swembad afkoel nie.

Selfs ‘n waterval kan spook! By Spookfontein (spookfontein.co.za) in die Hemel-en-Aarde-vallei, Hermanus lyk dit of die waterval op die plaas in die wintermaande as daar stormwinde waai, na bo vloei, eerder as na onder. Die dartelende missluier het aan die plaas sy naam gegee. Teug aan ‘n glasie Phantom Bordeaux-versnit by die wynproelokaal of restaurant en ruil spookstories uit.

As jy by The Laird’s Arms by die Lord Milner Hotel (matjiesfontein.com) in Matjiesfontein aandoen vir ‘n glasie sjerrie, vat dit nie lank nie voor kroegman Johnny Theunissen jou amper sleep om na die spookfoto in die hotel te gaan kyk.

Op die foto poseer Johnny saam met twee dogtertjies; na die foto ontwikkel is, kon gesien word dat ‘n langhaarspook oor een dogtertjie se skouer loer. Daar word vertel dat een dogtertjie gevra het, “Wie is die tannie?” toe die foto geneem is, maar niemand het ag daarop geslaan nie. Daar word bespiegel dat “die tannie” die skrywer Olive Schreiner (1855-1920) kan wees wat reg langs The Laird’s Arms gewoon het.

As jy nie omgee om ‘n spook om elke draai te sien nie, kyk uit vir spooktoere as jy jou volgende sloertoer beplan. Dorpe soos Montagu (flyingfeet.co.za/ghost-historic-town-walking-tour/), Kimberley (kyk op Facebook), Stellenbosch (adventureshop.co.za/stellenbosch-tours/historical-walking-tour-of-stellenbosch/) , Simonstad (kyk foto’s en bespreek op Facebook) en Grahamstown (thegrahamstownproject.com/the-grahamstown-ghost-tour/) bied spooktoere – wanneer covid-reëls dit toelaat – aan.

Op my volgende Karoo-sloertoer beplan ek om by Hanover aan te doen. In die Hanover-museum is daar ‘n spook wat graag aan jou been vat!

Aikôna, ek hou verby!

Die oumense het geglo: Hou spoke weg met ‘n bos knoffel!

Daar is nie verniet vir amper alles onder die son ‘n boereraat – of bygeloof – nie.

Dra ‘n lyk met die voete eerste na die graf; as jy hom kop eerste dra, kan hy sy paadjie terugvind huistoe. Jy kan ook water agter ‘n lykstoet sprinkel, want spoke is kwansuis bang vir water.

Sou ‘n grieselrige spook jou klap, smeer melk of room aan!

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 2, 2023 by in Die res van Suid-Afrika.