ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

In die kroeg ‘n sopie, in die kerkhof ‘n hopie

First published in Die Burger, February 2018

Deelnemers aan die Bull Run stop vir verversings by die Blikkies Bar by Carnarvon Hotel

Deelnemers aan die Bull Run stop vir verversings by die Blikkies Bar by Carnarvon Hotel

Só lui die ou spreekwoord. Te veel sopies in die kroeg lei tot nuwe hopies in die kerkhof. En: van kroeg tot kerk sleep Satan sy vlerk.

Maar: droëbek kan ‘n mens mos nou ook nie deur die lewe gaan nie.

Wat’s dan nou lekkerder as om jou sit op ‘n kroegstoeltjie te kry – veral as dit in ‘n dorp is wat jy nie ken nie – ‘n knertsie te bestel en na die stories te luister wat ieder en elk by die kroegtoonbank uitruil?

Klapmuts Hotel, tussen Stellenbosch en die Paarl

Klapmuts – en die hotel – se naam het sy oorsprong aan ‘n berg in die omgewing wat soos ‘n matroos se mus lyk. Die naam is in 1657 deur ‘n Hollandse ekspedisie aan die area gegee.

Klapmuts Hotel dateer uit die 1800’s en roem hulle daarop dat hulle die tweede oudste hotel in die Wes-Kaap is. Die oorspronklike houttoonbank uit die 1900’s is nog steeds in die kroeg.

Agter die toonbank is oom Duggie aan diens. Hy is amper so oud soos die toonbank! Darem nie heeltemal nie, maar oom Duggie werk al meer as vyftig jaar by die Klapmuts Hotel.

Dis seker net by die Klapmuts Hotel waar jy sal sien dat ‘n kroegvlieg met sy trekker daar aankom. ‘n Mens sien baie gereeld óf ‘n groen óf ‘n rooi trekker voor die deur geparkeer staan.

Bestel ‘n pizza uit die kombuis en kry vir oom Duggie aan die praat oor alles wat hy al by die Klapmuts Hotel se kroeg gadegeslaan het.

www.klapmutshotel.co.za

Botrivier Hotel, op pad na Hermanus

Die Botrivier Hotel is een van die oudste geboue in die Overberg. Dis die einste Botrivier waar die televisieprogram, Nommer Asseblief , van die sewentigerjare kwansuis afgespeel het hoewel dit nie hier geskiet is nie.

Tóé het Calviniste nog hul neuse vir kroegkuiers opgetrek. Tóé is vroue nog tot dameskroeë – gewoonlik as hotelsitkamers verdoesel – beperk. Dit laat my ‘n uitjaag in die tagtigerjare by die Bellevue Hotel in Stilbaai herroep, maar dis ‘n storie vir ‘n ander dag.

Die huidige Botrivier Hotel het nie net een kroeg nie – daar ‘s ‘n volle drie kroeë.

By die gewildste kroeg kan jy buite op die stoepie of binne omring deur dosyne landsvlae en honderde der honderde dasse sit. Daar is ook sportmemorabilia en naaktonele – op ‘n bieretiket en brandewynadvertensie.

Gaan loer ook na die uitgestalde skoene – van ‘n vorige eienaar se vrou – in die eetsaal. Die danssaal is leeg behalwe vir droëblommerangskikkings en stoele wat uit wynvate gemaak is.

Skuins oorkant Botrivier Hotel maak Manny’s Kitchen die sappigste garnale in die Wes-Kaap.

www.bothot.co.za

Drie musketiers, drie kroeë – Baardskeerdersbos, Overberg

Baardskeerdersbos het amper meer kroeë as wat daar permanente inwoners is.  Dít in ‘n dorpie wat weinig meer as ‘n handvol huise het.

Hik! Wag, dalk het ek nou ‘n glas of drie te veel rooiwyn by Marietjie’s Pub & Grill genuttig. Neffens ‘n sak patats, ‘n mankolieke radio en onstigtelike graffiti op die mure.

Dis ietwat van ‘n oordrywing. Oukei, ‘n gruwelike oordrywing. Maar die feit bly staan: so klein as wat Baardskeerdersbos is, is daar drie kroeë.

Daar’s Marietjie’s Pub & Grill waar jy vir ‘n glas wyn in munte kan betaal, daar’s die Strandveld Pub in die ou skool waar jy buite op die stoep kan sit en waar ‘n paartjie soms met ‘n skaap aan ‘n leiband verbygeloop kom, en dan’s daar Rusty’s Treintjie Pub waar ek nog moet aandoen hoewel mense my al probeer bangpraat het.

  • Kyk op Facebook na die onderskeie kroeë se bladsye (nie vir spelpuriste nie).

The Historic Pig and Whistle Inn, Bathurst, Oos-Kaap

Gegewe die Kaap (Oos- en Wes-) se geskiedenis is daar heelwat ou kroeë waarvan die stories wat die mure sou kon vertel, jou hare sal laat rys. Só ‘n kroeg is die Pig and Whistle wat met die oudste aaneenlopende dranklisensie in die land spog.

Bly in 'n historiese kamer of besoek die gesellige kroeg by The Pig and Whistle Inn

Bly in ‘n historiese kamer of besoek die gesellige kroeg by The Pig and Whistle Inn

DSC_0096

Die vark met die fluit

DSC_0049 (2)

No thirst like Bathurst

Agter die kroegtoonbank by The Pig and Whistle

Agter die kroegtoonbank by The Pig and Whistle

Die Bathurst Inn lok reeds sedert 1832 kroegvlieë soos ek.

As jy op ‘n stil dag by die hotel inklok, boek die kroegman jou sommer in. Daarby vergas hy jou met ‘n spookstorie soos julle met die trappe opklim.

Terug in die kroeg is die atmosfeer knus tussen klipmure en onder houtdakbalke, omring deur lugmagmemorabilia. In die winter brand die kaggelvuur; reg deur die jaar word hier whiskey gedrink en sport gekyk.

www.pigandwhistle.co.za/pub.html

Tweelingkroeë in Riversdal op die Tuinroete

Dis net by wyse van spreke wat die een kantien op Riversdal met die ander vergelyk kan word.

Die veronderstelde grandeur van die Royal Hotel in een van die agterstraatjies het reeds vergaan, maar koerantartikels in die portaal getuig nog daarvan.

In 1920 het Generaal Smuts Riversdal – en die Royal Hotel – besoek.  In 1959 was dit David Kramer se beurt.

Op geraamde spyskaarte is God save the Queen en Die Stem van Suid-Afrika gedruk.

In die voorportaal is koerantartikels wat van die Royal Hotel se vervloee dae getuig

In die voorportaal is koerantartikels wat van die Royal Hotel se geskiedenis getuig

In 2003 is ‘n nuwe bloeitydperk vir die hotel voorspel: “Riversdaller red die Royal met ‘n miljoen”. Die laaste woord van die berig het aan die afslaer behoort: “Ek dink die Royal Hotel gaan nog jare voortbestaan.”  Die Royal Hotel staan vandag nog en die kroeg doen flink besigheid.

Daarenteen is die Central Boutique Hotel splinternuut oorgedoen. Die oorspronklike gebou dateer uit 1876 toe dit die tuiste van ‘n gesin met 13 kinders was.

Die dameskroeg het oregonhoutvloere, kleurglasvensters en gemaklike rusbanke waar jy kan sit en televisie kyk.

www.centralboutiquehotel.co.za

Albertinia Hotel, op die Tuinroete

Die Albertinia Hotel is al sedert die jaar 1900 bekend vir hul kos.

Tydens die era toe posbote nog by Mosselbaai aangedoen het, is passasiers gereeld na Albertinia Hotel aangery om etes te kom nuttig. Selfs die legendariese Britse reisskrywer, H.V. Morton, het oor ‘n ete – wat hy as ‘n “riot of eatables” beskryf het – by dié hotel geskryf.

In die kroegie aan die agterkant van die hotelgebou ken ieder en elk mekaar of leer mekaar gou ken. Voor jy nog jou bestelling geplaas het, vra iemand al van waar jy kom, hoekom jy hier is en vertel so ietsie van die distrik om jou tuis te laat voel.

By die agterdeur uit staan ‘n winkeltrollie vol hout; in die eetkamer is ‘n vuurherd met ‘n houtstoof van vanmelewe se dae.

www.albertiniahotel.co.za

Blikkies Bar, Carnarvon Hotel in die Karoo, Noord-Kaap

Die Blikkies Bar – met sy versameling van sowat 7000 blikkies – is al wêreldberoemd. Die blikkieversameling is deur ‘n vorige eienaar, Nicholas Anthony Panos, in die 1960’s begin. Sy oupa wat ‘n Griekse immigrant was, het die Carnarvon Hotel geopen.

Blikkies net waar jy kyk in die Blikkies Bar by die Carnavon Hotel

Blikkies net waar jy kyk in die Blikkies Bar by die Carnavon Hotel

Een van die skaarsste blikkies is ‘n gekamoefleerde Budweiser- bierblikkie wat tydens die Tweede Wêreldoorlog aan soldate verskaf is.

‘n Blêrkas verskaf agtergrondmusiek terwyl jy jouself aan die bierblikkies se etikette verkyk. Die kroegetes is hoogs aanbevole.

www.facebook.com/Blikkies-Bar-1516525755315745/?_rdc=1&_rdr

Werkswinkelkroeg, Tankwa Padstal, tussen Ceres en Calvinia in die Tankwa-Karoo

Dis ‘n padstal, dis ‘n kroeg, dis in die middel van nêrens, dit lyk soos ‘n lugspieëling en dis gróót pret. Daar’s ‘n windpomp, daar’s ‘n plaasdam, daar’s ‘n tuindwerg met ‘n sonbril op die kroegtoonbank.

In die werkswinkelkroeg is daar windpomplemme teen die muur en ‘n dosyn of meer Barbie-poppe in ‘n braairooster vasgeklem. Dis só ‘n tipe plek.

As jy buite sit, kan jy jou drankie op ‘n groen en geel John Deere-konka neersit. Langs die konka is ‘n kaal pienk winkelpop.

Dié plek het skop. Gaan kyk maar self.

  • Sluit by die Tankwa Padstal-groep op hul Facebook-bladsy aan.

Nieuwoudtville Hotel, Noord-Kaap

Dis nie net in die blomseisoen wat daar ‘n geroesemoes van stemme in die kroeg van die Nieuwoudtville Hotel is nie. Dis die bymekaarkomplek van dorpenaars, boere en besoekers.

Diep stories word in die Nieuwoudtville Hotel se kroeg deur besoekers, dorpenaars en boere vertel

Diep stories word in die Nieuwoudtville Hotel se kroeg deur besoekers, dorpenaars en boere vertel

Teen een muur word Bokkeveld whiskey adverteer; daar’s ‘n boktrofeer met ‘n hoed op; bokant jou kop hang rugbybaniere en landsvlaggies. ‘n Handgemaakte houtbord waarsku: DiéBarmanVattikakki.

  • Voortrekkerstraat, Nieuwoudtville

The Lord Nelson Inn, Simonstad

Emily’s Bar klink nie soos die naam van ‘n egte kroeg nie, maar moenie laat dit jou mislei nie.

Emily’s voel soos ‘n klassieke Britse kroeg terwyl daar terselfdertyd ‘n kopknik aan die vlootgeskiedenis van Simonstad gegee word.

Hardy’s Club Lounge waar jy in stylvolle gemakstoele jou koerant kan lees, maak deel van die kroeg uit.

www.lordnelsoninn.co.za

Besoek ook:

  • Verrek jou nek om na die broekies teen die plafon te kyk by Die Panty Bar, Paternoster Hotel
  • Lig die doodskis se deksel by die Hermon Hotel
  • Ontmoet vir Ronnie by Ronnie’s Sex Shop op Roete 62
  • Verbeel jouself jy is so sorgvry soos ‘n student in De Akker, Stellenbosch
  • Verluister jou aan die kroegdame by die Elandsbaai Hotel

2 comments on “In die kroeg ‘n sopie, in die kerkhof ‘n hopie

  1. Tannie Frannie
    September 23, 2019

    Wanneer kom die dag vir die storie oor die uitjaag op Stilbaai?

  2. ilsez
    January 5, 2020

    Dis uit my prille jeug, Tannie Frannie!

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 22, 2019 by in Afrikaans foodies, Die res van Suid-Afrika and tagged , .