ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Melodieuse waansin in VSA

First published in Rapport, July 2023

Musiekdriehoek in Amerika

New Orleans, Memphis en Nashville. Dié drie stede maak die Amerikaanse musiekdriehoek uit. Voeg Lafayette en Clarksdale by en jy het ‘n orkes van formaat.

Op www.americanamusictrianglecom is hul slagspreuk ‘Waar geskiedenis musiek voortgebring het… daarna het musiek geskiedenis gemaak’.

Vóór ons nog hierdie webwerf ontdek het, het ons reeds besluit dat ons sloertoer deur die diep suide van Amerika dié bestemmings moet insluit.

Dink jy aan New Orleans, dink jy aan die boogie-woogie-musiek van die Mardi Gras-karnaval, in Memphis, is dit soul, gospel, blues en natuurlik Elvis Presley se rock ‘n roll en Nashville roep countrymusiek maar ook bluegrass en honkytonk op.

Gooi los in New Orleans, Louisiana

Ons skop af in New Orleans, Louisianna. Met die inboek by ons Airbnb tref die eerste golf waansin ons. Ons gasheer is eienaardig en tik ons op die vingers omdat ons nie die sekuriteitskode by die voordeur met die regte ritme inpols nie. Daar speel egter sagte jazz in die agtergrond … ons het skaars ons bagasie neergesit voor ons pad vat.

Ons val die wêreldbekende Bourbonstraat (neworleans.com/plan/streets/bourbon-street/) eerste binne. Dis ‘n kakofonie van fuifendes, polsende ligte, musiek in die kroeë én strate, uitspattige kostuums, lewensgrootte opgestopte alligators en ander onverwagte verskynsels. Dis ‘n oorrompelende waansin van ‘n ander aard. Ons vergaap ons en weet nie waar om te kyk en waar om te los nie.

Die polisie staan op die straathoeke en toekyk, die sypaadjies is vuil, die boemelaars en dwelmbeneweldes steier rond, maar dis ‘n belewenis wat jy éénkeer in jou lewe moet ervaar.

Ons wil nog verder wandel, maar die jazz-klanke by Fritzel’s Jazz-kroeg  (fritzelsjazz.com) verlei ons met die eerste hoorslag. Fritzel’s is die oudste jazz-kroeg in New Orleans; die musikante wat hier optree kén hul storie.

In Jean Lafitte’s Old Absinthe House (ruebourbon.com/old-absinthe-house) is dit altyd skemer binne; dis hier waar die immergewilde Absinthe Frappé-drankie die eerste keer in 1874 uitgedink is.

Gepraat van drankies, New Orleans is een van die enigste plekke in Amerika waar jy in die openbaar met ‘n drankie (in ‘n oop houer) kan stap en teug, bekend as die ‘open container law’.

Jy stap nog so, dan kom jy ‘n koperblaasorkes teë wat musiek maak wat verbygangers se voete laat jeuk.

Frenchmenstraat (neworleans.com/plan/streets/frenchmen-street/), ‘n paar blokke verder in die Faubourg Marigny-woonbuurt, is minder kakofonies, maar ontbreek geensins aan gees nie.

Sorg dat jy vroeg by The Spotted Cat (spottedcatmusicclub.com/) opdaag, want hier raak dit vinnig vol. The Spotted Cat het nie net ‘n koel, katterige naam nie; hulle het ook ‘n reputasie as een van die beste jazzkroeë in New Orleans.

By DBA (dbaneworleans.com) het die Washboard Chaz Blues Trio ons in vervoering.

Sou jy ‘n reis na New Orleans beplan is my eerste wenk om deur die strate te draal en eenvoudig jou ore te spits; as jy hou van wat jy hoor, betree die kroeg/klub. Dit geld ook vir die ander musiekbestemmings. Party plekke het wel meer gewilde musiekgroepe, maar jy weet nie wié wanneer gaan optree nie.

My tweede wenk is google waar Washboard Chaz (washboardchaz.com/home) optree. Jy wil nie sy wasplankkielie misloop nie!

Die lafenis van Lafayette

Lafayette, en Clarksdale (meer hieroor later), is nie so hoog op die radar waar dit  Amerikaanse musiekbestemmings aangaan as wat New Orleans, Memphis en Nashville is nie. Moet egter nie Lafayette of Clarksdale laag skat nie.

Reeds in die 1700’s was bal de maison (huisdanse gehou in plantasieherehuise en klein plaaswonings) gewild in Lafayette en die res van Suid-Louisiana. Musiek is gekenmerk deur viole (fiddles) en trekklaviere. Lateraan is les salles de danse (danssale) gebruik.

Toerismekantore versprei steeds Lafayette Dancehalls-brosjures waarin inligting oor lewendige musiekvenues, jam sessions, musiekfeeste en -konserte vervat word.

Ons bly by die Blue Moon Saloon and Guesthouse (bluemoonpresents.com/web/). Verblyf en musiek, als op een plek. Jy kry dit nie sommer beter nie.

Die gastehuis is elkeen-vir-homself; by die Saloon is op die meeste aande lewendige musiek. Toegang – en jou eerste drankie – is gratis vir gaste.

Ons luister die eerste aand na honkytonk-musiek en wens die aand moet nooit ophou nie. Die tweede aand word daar gerock. Medemusiekliefhebbers raai ons aan om nie verby Clarksdale te ry nie!

Clarksdale is koel, Mississippi is die ene musiek

Ons mik vir Clarksdale, geleë op een van die kruispaaie (crossroads) van Hoofweg 61 en 49 in Mississippi.

Die blues-liedjie Cross Road Blues (of net Cross Roads) is in 1936 deur Robert Leroy Johnson (1911-1938) geskryf en is sinoniem met Clarksdale (en ander dele van die Mississippi-delta).

Volgens oorlewering het Johnson, ‘n rondreisende blues-musikant, een laat nag die duiwel by ‘n kruispad teëgekom. Tydens die ontmoeting het hy sy siel verkoop in ruil vir uitsonderlike musiektalent. Waar hy sy talent gekry het, is nie meer ter sake nie; wat wel is, is dat hy as een van die mees invloedryke blues-musikante ooit beskou word.

In Clarksdale gee jy jou oor aan hoorsê om agter te kom waar jy op enige gegewe aand moet wees. Só beland ons in die agterplaas van die Bluesberry-kroeg (visitclarksdale.com/blog/music/bluesberry) in ‘n verwaarloosde stegie waar kabels los hang en motorfietse brul, maar graffitikuns die mure opvrolik. Ons ore tuit van plesier terwyl die wêreldbekende Deak Harp (deakharp.com) sy slag op onder andere sy mondharmonika wys.

Maak nou ‘n nota. Akteur Morgan Freeman is mede-eienaar van Ground Zero-bluesklub in Clarksdale; ongelukkig was dit toe met ons besoek.

Memphis maak musiek

Blues, soul en rock ‘n’ roll. Dís Memphis in Tennessee, ook die geboorte- en grootwordplek van Tina Turner (1939-2023).

As jy in Memphis is, wil jy natuurlik Graceland (graceland.com), eens die tuiste van Elvis die Pelvis, sien. Wees bedag op die volgende: dit gaan jou beursie ruk, jy staan keer op keer in rye om te wag om binne te gaan, die huis self is, wel ‘n huis, nie ‘n mansion nie en jy sien net die onderste verdieping, én die verheerliking van Elvis ken geen perke nie. 

Bealestraat (https://www.memphistravel.com/trip-ideas/beale-street), hoewel baie korter, herinner aan Bourbonstraat in New Orleans. Volg jou neus, of altans jou ore, en stap in as die beat jou aanstaan. As jy ‘n James Brown-liedjie herken, staan nader!

Party aande parkeer – en rev – die petrolkoppe hul vintage motors, of motorfietse, voor die kuierplekke, als vooraf gereël om vermaak aan omstanders te bied. Só ‘n plesierige spektakel het jy nog nie beleef nie. Koop ‘n bier oor die toonbank en verlustig jouself in ‘n musiekkarnaval soos nét die Amerikaners dit kan doen.

Ons stap in mede-Suid-Afrikaners vas wat liries oor Sun Studio (sunstudio.com) raak, maar die tyd haal ons in.

Naglopers in Nashville

In Nashville Music City, soos die stadsvaders hulself noem, gaan jy nie veel slaap kry nie! In Broadwaystraat (nashvilletodo.com/explore-the-best-of-broadway-in-nashville-tennessee/) hou die musiekpret nooit op nie!

Nashville is egter veel meer as Broadwaystraat. Skeur jouself weg van die honkytonk-kroeë (maar nie vir te lank nie) en …

besoek veral die Country Music Hall of Fame and Museum (countrymusichalloffame.org), National Museum of African American Music (https://www.nmaam.org) en Ryman-auditorium (ryman.com).

In Nashville het ons in die Margaritaville Hotel Nashville (margaritavilleresorts.com/margaritaville-hotel-nashville) gebly. Tussen al ons gerinkink kon ons binne ‘n paar minute se stap eers in die hotel se swembad wat oor die stad uitkyk, afkoel. By Margaritaville heers ‘n strandatmosfeer, glo dit of nie!

In Nashville, Memphis en New Orleans is dit belangrik om sentrale verblyf te bespreek sodat jy laataand veilig – en nie te ver nie – huis toe kan stap.

  • Luister na:

           Cross Road Blues van Robert Leroy Johnson:     

           youtube.com/watch?v=Yd60nI4sa9A

           Deak Harp: youtube.com/watch?v=DCwWod7VCRU

                                                                        ***

Wat jy moet weet as jy nou na Amerika reis

Vlugte: Delta Airlines vlieg ‘n paar keer per week direk van SA (Kaapstad en Johannesburg) na Atlanta, VSA. Kaartjiepryse wissel baie. ‘n Kaartjie wat aanlyn gekoop is (bv. deur Travelstart), is heelwat goedkoper.

Visum: ‘n Amerikaanse visum word benodig. Die aansoekproses is tweeledig: voltooi die aansoekvorm op https://ceac.state.gov/genniv/. Betaal dan en maak ‘n afspraak by die ambassade.

Reisbeperkings: Geen reisbeperkings tans. Ons moes bewys van Covid-inentings saamneem en ‘n aparte vorm van die VSA invul, maar dis nie op die lughawens aangevra nie.

Begroting: Die wisselkoers is om van naar te word! Met die skrywe van hierdie artikel was dit R19.36 vir een dollar. Ons het bespaar deur sommige nagte in Airbnb’s te bly, alle maaltye te deel (Amerikaanse porsies is gróót) en padkos by supermarkte te koop. Ons het deeglik navorsing gedoen voor ons ‘n motor gehuur het (by Alamo Rent A Car) ten einde ‘n goeie prys, sonder verskuilde kostes, te kry.

2 comments on “Melodieuse waansin in VSA

  1. Tannie Frannie
    February 23, 2024

    Dit lyk na vet pret!

  2. ilsez
    February 23, 2024

    Dit was, Tannie Frannie! 1 v my beste trips ooit, en dit in Amerika! Ek sou dit nooit kon raai nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 22, 2024 by in Noord-Amerika.