ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

EET SOET DUIFPASTEI IN MARRAKESJ

First published in Die Burger, July 2012

Dalk het ek in my vorige lewe in ‘n riyad in Morokko gewoon. Dalk is dit maar net wensdenkery. Of miskien is dit ‘n verskoning om oor en oor terug te gaan.

Eintlik gee ek nie om nie. Solank ek weer – en weer – op Djemaa el Fna kan sit. En eet. Harira-sop. Skaapkop. Knoffelslakkies in knoffelwater. Amandelmelk. Tagines, tagines, tagines. Met pruimedante, met gepreserveerde suurlemoen, met amandels.

Bone en lensies op die mark

As die son sak

Snags is die straatjies rondom Djemaa el Fna met flou lanterns verlig. Dit voel of dit ‘n eeu of drie gelede kon gewees het. Donkiekarretjies ry vullis weg. Die drywers dra uitgebleikte fezzies en geel, uitgetrapte insteekskoene. Petit taxi’s vra dubbeld soveel as dit na donker is, maar dis steeds bekostigbaar as hulle jou nie probeer inloop nie.

Verdwaal in die medina

Toe ek die eerste oggend op Djemaa el Fna aankom – vyf jaar na die eerste keer – loop die trane. Ek kyk wéér grootoog en sluk aan die knop in my keel. Toe verloor ek myself in die medina. Ek koop impulsief ‘n pers kaftan. Toe sommer baie babouches. Babouches gemaak van harige bokleer om soos sebravel te lyk. En rou-leeronderbaadjies met baie sakke.

Om rigting in die medina te probeer hou, is vrugteloos. Vra liewer winkeleienaars – met ander woorde iemand wat nie kan saamstap om sodoende baksheesh te probeer afdwing nie – om aan die einde van jou inkopietog jou stap vir stap met aanwysings uit te lei. Soek die babouche(soos wat skoene hier genoem word)-souk. Soek die tekstiel-souk waar die sonlig in strepe deur die bamboesrietdak val. Die juwelier-souk roem nie op regte amber nie, al ontken hulle dit ten sterkste.

Oorkant die hoofingang van die medina is ‘n gangetjie wat na ‘n klomp ooievaarsneste op verbleikpienk stadsmure lei. Hier is die metaal-fondouk  waar al die filigrein lanterns, sterlampe, en muurversierings gemaak word. Daar’s baba-ooievaars (maar nie mensbabas nie) in sommige van die neste en ‘n ma wat haar kleintjie voer.

Ons drink menttee saam met een van die metaalsmede wat self al sy voorraad maak. Sy vrou vertel ons hoe party meisies op veertien trou, ander op twintig, maar dit is onvermydelik dat die eerste kind ‘n jaar later gebore is.

Laat jou neus jou lei

Ons dwaal in die mella (ou Joodse buurt) rond. Êrens is ‘n ou sinagoge wat in ‘n museum cum matwinkel omskep is, maar hierdie keer vind ek dit nie weer nie. Ons vind wel ‘n blou-en-wit sinagoge wat lyk of dit nie met die res van die mella gekleurkodeer is nie.

Naby 'n paleis in Marrakesj

Van die mella na die spesery-souk. Ons ruik amber parfuum met die inloop. Ons sien piramides geel, rooi en oranje. Ons sien droë vinkel wat as tandestokkies gebruik word. Stukkies bas is tandeborsels. Ons ruik amber wat linne geur. Daar’s verpoeierde papawerblomblare vir lifstiffiekleursel.

‘n Ander keer sien ons toordokterstalle. Hier is dit in die apteek-souk. Dis grillerig en ontstellend daarby. Daar’s lewendige, klein likkewaantjies. Lang luislangvelle. Ons stap liewers uit; al word ons oorywerig ingenooi terwyl allerhande poeiertjies en goetertjies gemeng word. Wie weet wat skuil nog daar agter in die donker, stowwerige hoekies?

Poskaart van 'n toordokter

Alle paaie lei terug na Djemaa el Fna. As jy eers bietjie rondgevra het, moet ek byvoeg.

Een van die talle lemoensapstalletjies

Leer nuwe ritmes en smake ken

Saans trek Djemaa el Fna ‘n ander djellaba aan. Daar’s Berber- en Gharouan-transmusiek. Tipies hiervan is dat die musiek tot ‘n crescendo opbou en dat dit dan eensklaps eindig, soms met iemand wat op ‘n drom wat in die middel staan, spring. Daar’s ook storievertellers waarom die mense kring staan.

Die grootste deel van die plein word egter opgeneem deur kosstalletjies waar jy jou lippe aflek ongeag wat jy bestel. Rondom jou sit enkele toeriste en verder Morokkane. Hulle glimlag na jou kant en punt wysvingers na wat aan te bevole is.

By die dakkafees rondom Djemaa el Fna vergader die meer gegoede Marrakesji’s en die minder avontuurlustige toeriste. Twee keer per aand roep die iman by die Koutoubia-moskee en die ander klein moskeetjie in die hoek van die plein. Dié wat wil, loop stadig na die naaste moskee waar hulle skoene uittrek, hulself reinig en na binne gaan om te bid.

Weefhoedjies

Soggens is dit ‘n likkewaan van ‘n ander kleur. Hanteerders laat hul apies toertjies doen. ‘n Toeareg-toordokter sit langs ‘n geskubde drakie in sy hokkie. Slangbesweerders waak by hul mandjies. Elke Jan Rap (of Abdoela Asiem) verkoop vars uitgedrukte lemoensap of dadels en neute.

Totsiens, maar nie vaarwel

Met ‘n baksteenrooi Berber-kelim en gangmat onderskeidelik pak ons op om huiswaarts te keer. Maar ons wil nie.

Sjoe, maar dis mooi

 

IN DIE MOOIE MARRAKESJ:
·            Vinnige feit: Marrakesj dateer uit om en by 1062.
·            Wees in jou pasoppens: Pasop vir taxi-streke: dis wel duurder in die nag, maar jy betaal nie ekstra vir jou bagasie nie. Die prys wat hul kwoteer, is per rit hoewel hulle sodra jy by jou bestemming aankom, voorgee dat dit per persoon was.
·            Besoek: Palais Bahia (Riad Zitour Jedid, ‘n paar minute se loop van Djemaa el Fna) – dit beteken die Paleis van die Gunsteling – is ‘n eenverdieping-paleis sodat die vir die gesette heerser maklik was om rond te beweeg.
·            Kyk van buite: Die Koutoubia-Moskee kan nie deur nie-Moslems besoek word nie, maar die minaret kan van amper enige plek in die stad gesien word.
·            Loop rond in die: Majorelle-tuine waarvan die hoofhuis aan Yves Saint-Laurent behoort het. Die tuin se kleuraksente is kanariegeel en petrolblou; daar is meer as 400 soorte palms en 1800 spesies kaktusse aangeplant. Vra ‘n taxi om jou na Yacoub el-Mansour Laan naby die busstasie in die Ville Nouvelle te neem.

 Aandete op Djemaa el Fna-plein

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 12, 2017 by in Afrika and tagged .