ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

HAASVLAKTE BIED MEER AS BUFFELS EN SEEKOEIE

First published in Die Burger, November 2012

Deesdae is daar seekoeie en buffels in die Overberg. In die Nuwejaarsrivierreservaat. Dis egter lánk nie al aantrekkingskrag in hierdie omstreke nie.

DSC_1657

Veral nie in die Hazenvlakte (wat in die volksmond sommer Haasvlakte geword het) nie. Nog nie daarvan gehoor nie? Wag ‘n bietjie – die wyne van die Elim-wyndistrik is alombekend. Party mense ken noem hierdie deel die Strandveld. Nou het jy ‘n beter idee waar dit is, nê. Moet net nie dink jy gaan alles wat die Haasvlakte (kan) bied, op ‘n Saterdagoggend se deurry ontdek nie. Às jy deurry, ry tog asseblief net stadig op ons grondpad, vra die boere (en hul vrouens). Hier word te veel bakoorjakkalsies, skilpaaie en otters (veral die Kaapse Kloulose Otter) doodgery. En natuurlik vlakhase – hierdie deel heet nie verniet Hazenvlakte nie.

Word stil en tjil

DSC_1743

Die Haasvlakte is ‘n kleiner gedeelte van die Agulhas Pleins. Hier gebéúr dinge. Weliswaar op ‘n erg getjilde manier. ‘n Outydse basaar met soetkoekies, pannekoek, proteas, roosterkoek en tradisionele borde Sondagkos van die befaamde Elim-tannies kry skop met glase Portugees-geïnspireerde katemba. As Suidpunt-dag nie met ‘n skeepswrakpraatjie ingelui word nie, skop Erfenisdag by Soutbos – ‘n tradisionele, gerestoureerde Strandveld-huisie – met ‘n medisinale fynbosuitstalling af.

Die Overberg kan stadskinders laat wonder of die sprokie van 'n pot goud aan die einde van die reenboog perdalks waar is

Elke hoeveelste naweek is daar ‘n bergfietswedren of drawwers hyg deur die fynbosveld. As die Nuwejaarsrivier en Zoetendalsvlei genoeg water het, klouter plaasjapies en besoekers van die stad in kajakke of kano’s en roei dat dit klap. Min mense weet dat daar al te lekker grootbekswartbaars in die Haasvlakte se plaasdamme gevang kan word. Die geheim is om vir die plaaseienaar waar jy oornag te vra of hy sal omgee as jy ‘n lyntjie in die water gooi. Party boere leen sommer ‘n kano aan hul oornaggaste, want hier is gasvryheid nog tweede natuur. So kom ons te hore van Strandveld Vineyards se dam. Praat maar mooi met die wynmaker, Conrad Vlok.

Al wat leef en beef

Die Hazenvlakte het ‘n stille bekoring. Dit lê in die ou opstalle met ouer melkhoutbome op die werf – Rietfontein, Ratelrivier en Renosterkop – van die Agulhas Nasionale Park. Dit lê in speldekussings wat in die veld groei; dit lê in sekretarisvoëls en bloukraanvoëls wat langbeen deur die veld stap. Hier’s muishonde, visarende, springbokke, vaalribbokke, rooikatte, ystervarke, veldpoue, elande, bontebokke en kwaggas. Op die soutpanne naby Springfield kom flaminke bymekaar. Hou dus jou kamera byderhand.

As hierdie distrik se mense besluit om iets te reël, doen hulle dit met oorgawe. By ‘n vorige Elim Food and Wine Festival het daar sowat ses loodse met hul gelukkige passasiers ingevlieg en ewe spiekeries voor die Black Oystercatcher Restaurant parkeer. Of parkeer vliegtuie nie?

Te midde van ‘n fees van oesters, snoekpatee in alikrukskulpe, waterblommetjiepiekels, laventelbroskoekies en groen toffie-appels verras die organiseerders van die Elim Food and Wine Festival die saamtrek met ‘n Hawk-straalvliegtuig van die Suid-Afrikaanse lugmag wat met ‘n oorverdowende geraas verbyswiep, net om die volgende oomblik in die lug rond te tol. Dis ‘n mini-lugskou terwyl aan geelstertsosaties geknibbel word.

Hier was Suz Juice (gemaak deur die wynmaker van Strandveld Vineyards se vrou en voorwaar die beste slaaisous wat jy op enige plek gaan teëkom; http://www.zush.co.za); Jars of Joy se flessies vreugde; By Dosyne se kreatiewe kolwyntjies waarop sjokkoekies of moutballetjies balanseer; die lekkerste Dragonfly bokmelkkaas; en Agulhas Heuningbostee. Almal knibbel aan spanakopita-minus-spinasie-maar-met-waterblommetjies. Jy kon jou spens aanvul of net hier sit en smul.

Japie, my skapie

As jy reeds weet watter naweek jy hier gaan kom uitspan, kan jy verder beplan. Skakel die Strandveld Slaghuis en laai voor jy terugry ‘n heelskaap, spesiaal vir jou geslag, in jou kattebak.

Hoewel aflewering na enige plek in Suid-Afrika gereël kan word, wil jy self inloer by Daniel Griffin se Fire Pots by Wolvengat. Daniel is ‘n tweede generasie pottebakker wat spesialiseer in vuurmaakplekke of –potte. Hy’s ‘n man van vele talente, want hy’s ook die eerste Suid-Afrikaner wat al internasionaal aan berede boogskiet (boogskiet vanaf ‘n perd se rug) deelgeneem het. Moenie te vinnig by die werf uitry nie – Daniel se parmantige Jack Russell het homself geleer om aan die slaweklok se tou te pluk sodat die klok koebaai lui as gaste vertrek.

By Jenny se Winkel in Wolvengat is seker net ‘n agtste van alles wat jy sien, te koop. Loer in, want net om dit te sien is al klaar ‘n belewenis. Bestel vooraf Strandveld Rooibostee van Kleinpietersielieskloof by Trevor (andersins is hierdie tee net by Woolworths verkrygbaar) en gaan haal dit sommer in Elim. Sy webtuiste is: www.strandveldrooibostee.co.za

Kyk tot daar doer

As jy deur Napier ry, is die selfoontoring duidelik sigbaar. Soek-soek tot jy agterkom hoe om tot daar te ry. Vandaar is ‘n kort staproetetjie, maar eintlik is jou oogmerk om oor die Strandveld uit te kyk. Dis ‘n amperse ongeëwenaarde uitsig van hierdie distrik en jy kan selfs Waenhuiskrans se wit sandduine sien. ‘n Tweede uitkykpunt is by Soetanysberg – van hier kyk jy uit oor Brandfontein se baai waar jy soms walvisse kan sien; jy kyk oor die hele duineveld en met een blik sien jy beide die Atlantiese en die Indiese Oseaan.

Min mense weet dat jy van De Damme na Agulhas strandlangs kan stap – die kanse dat jy iemand anders sal teëkom, is bitter skraal en daarin lê ‘n verdere bekoring.

Proe gou in jou verbeelding ‘n slukkie First Sighting Sauvignon Blanc. Hul First Sighting Shiraz is ook glad nie te versmaai nie. Sodra jy weer sien dat die Hazenvlakte se mense bymekaarkom, moet jy sorg dat jy sak en pak afsit soontoe.

  • By Strandveld Vineyards is twee kothuise met kaggels (hout word ook verskaf) te huur. Moenie ‘n wandeling deur hul tuin (wat onder andere die grondtipes baie kunstig uitbeeld) misloop nie. Bespreek op hul webtuiste: strandveld.co.za
  • By Black Oystercatcher is ‘n restaurant sowel as wyn en vlytbier om te proe. Kothuisverblyf is ook hier beskikbaar. Bespreek by: blackoystercatcher.co.za
  • Lees meer van die Nuwejaarsriviernatuurreservaat by: nuwejaars.com

MAIL Glas innie hand, soos dit moet wees

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 26, 2017 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .