ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

PETER VELDSMAN, DIE RIDDER VAN AFRIKAANSE FYNKOS

First published in Rapport, August 2019

Peter Veldsman en een van sy geliefde Maltesies; hy het al sowat 100 honde in sy leeftyd gehad

Peter Veldsman en een van sy geliefde Maltesies; hy het al sowat 100 honde in sy leeftyd gehad

Op 12 Oktober 2019 kry Suid-Afrika nie net sy eerste muskadelmuseum nie – by die Karoo Art Hotel in Barrydale – maar die Ridders van die Muskadelstok, die wie’s wie wat kán muskadel maak, word ingehuldig.

Die fynkok Peter Veldsman, die eerste kosredakteur van die tydskrif Sarie, 10 jaar lank kosskrywer van Rapport en in later jare die eienaar van die restaurant Emily’s in Kaapstad sowel as van ‘n kookklub en – skool, is een van die groot dryfvere agter dié muskadelmuseum.

20190813_143705-1

Tydens ‘n heerlike koffiekuier

Tydens ‘n onlangse koffiekuier wat onverwags oor vier uur uitgerek het, vertel Peter Veldsman met ‘n vonkel in sy oog en met groot  lekkerkry hoe sy eerste ordentlike kennismaking met muskadel afgeloop het.

Toe hy so ‘n kannetjie van vier of vyf jaar oud is, het sy oupa vir sy ma ‘n paar bottels muskadel as geskenk gebring. Die jonge Peter het nie op hom laat wag nie. Terwyl sy ma nog by die werk was – sy was ‘n kok by die Royal Hotel in Ladismith in die Klein-Karoo – het Peter “weggelê” aan die muskadel. Hoe hy die bottel oopgekry het, weet hy tot vandag toe nie.

Toe sy ma by die huis kom, was hy, die “snipperige klein smulpaap”, reeds “lekker aan”. Dit het sy sommer dadelik opgemerk toe sy hom oor die leliedammetjie knap langs die spuitfontein gedrapeer sien lê. Sy’t haar pantoffel uitgepluk en “op my agterstewe ingelê”, vertel Peter. Na elke hou of drie het sy sy kop onder die water gedruk. “Sy het my half versuip en dan moer sy my weer!” onthou hy.

Dit het egter niks gehelp nie; tot vandag toe is hy lief vir muskadel. Nooit sou hy egter in sy jongdae kon droom hy sou ‘n loopbaan in kos volg nie. Sy kop het kunsjoernalistiek toe gestaan.

Peter Veldsman vertel 'n staaltjie terwyl die twee Karoo-kokke, Marietjie Koekemoer en Annatjie Reynolds, saamluister

Peter Veldsman vertel ‘n staaltjie terwyl die twee Karoo-kokke, Marietjie Koekemoer en Annatjie Reynolds, saamluister

As jy ooit die voorreg gehad het om by sy restaurant Emily’s (hul deure was oop van 1992 tot 2015, in Woodstock, gevolg deur die kloktoring in die V&A Waterfront en die laaste paar jaar in Kloofstraat, Kaapstad) te geëet het, sal jy nou nog dankie sê dat wat die wêreld van kunsjoernalistiek verloor het, die Kaapse koswêreld gewen het.

As jy ooit destyds in die Emily’s in Roodebloemstraat, Woodstock aan sy eendlewerpatee met muskadel en port gesmul het, sal jy dit tot vandag toe onthou. En hunker na die smaakkombinasie.

Peter Veldsman klink 'n glasie met een van die gaste by die Karoo Art Hotel

Peter Veldsman klink ‘n glasie saam met ‘n gas by die Karoo Art Hotel

In ‘Wat die hart van vol is – Herinneringsreise van ‘n fynkok’ onthou Peter hoe kinders op sy grootwordplaas halwe glasies muskadel “tydens die Sondagmaal en Kersete” gekry het. Op die tafel was altyd “’n kraffie met die Klein-Karoo-nektar en so ‘n sestal Woodstock-soetwynglasies”. As daar vark geslag is, is die vark se lewer, hart en niertjies in ‘n bredie gestowe en voorgesit met perskes wat in muskadel gestoof is.

Na die laaste plaasbiduur van die jaar het sy oupa die mans van die distrik vir ‘n “mondnatmaker” na sy kelder genooi. Sy oupa het gesorg dat die “glase al vroegmiddag reggesit en die muskadel uit die vat in ‘n kraffie of twee getap” is. Muskadeldrink was ook een van die rituele van Oukersaande op die plaas.

Dis dus geen wonder dat een van sy geliefde honde Muskadel geheet het nie. Peter Veldsman het al meer as 100 honde in sy lewe gehad waarvan die meeste kos- en wynname gehad het. Op ‘n stadium was daar 14 honde in sy huis in Kenilworth waar hy al 40 jaar lank woon; nou is daar net twee.

Die “seuntjies” kry die wynname, die tewe kosname. So was daar Cuvée, Beurre Blanc en Gebakte Alaska.

“Hoe roep ‘n mens ‘n hond wie se naam Gebakte Alaska is?!” giggel ek. “Sommer net Alaska,” is Peter vinnig met ‘n antwoord gereed.

Dan is dit sy beurt om te giggel. “As ek met die Maltesie, Muskadel, in die park gaan stap het en hom moes roep omdat hy te ver afgedwaal het, het die bergies altoos gedink ek roep hulle om te kom muskadel drink!”

As Peter Veldsman oor kos of sy liefde vir die Klein-Karoo begin praat, hang jy aan sy lippe

As Peter Veldsman oor kos of sy liefde vir die Klein-Karoo begin praat, hang jy aan sy lippe

As jy met Veldsman gesels, raak jy lus vir kook. Hónger. Dis kosherinneringe, dis ‘n reseppie hier en daar, dis bestanddele en beskrywings, alles gegeur met ‘n reiswenk of twee.

Dit noop my om te vra watter kos Peter hoop in die hemel op hom wag.

“Vye! Mispels – deesdae weet mense nie meer wat mispels is nie. Dit kom uit my kinderjare”, begin Peter se lys. Kaas, baie kaas, veral Franse kaas.

Maar dan keer die lys terug na vrugte. As “vrugtemens” hoop hy daar is droë en vars appelkose, Elberta-perskes, druiwe, koejawels, veral wittes, die dag as hy daar Bo kom. Ook goeie vleis – “ek’s mal oor lam, ek hou van skaap, veral merino” – en gebakte poedings, “almal, die hele lot, van ‘tipsy-tert’ tot telefoonpoeding, skinderpoeding, gemmerpoeding”. Vis soos galjoen, elf en steenbras. Seekat. Gebakte oesters.

“Wag, ons het nog nie sop op die lys nie… my allergunsteling is kreef-bisque.” En die hemel kan nie sonder ‘n behoorlike omelet nie!

Peter Veldsman kook nog elke dag van sy lewe. Of dit nou ‘My ma se hoender’ is of ‘n gereg met sy gunsteling spesery, vars gemmer. Moet ook nie borrie, steranys, kruienaeltjies of rooi-, wit- of swartpeper agterweë laat nie, maan hy.

Uit sy pen het al die volgende kookboeke verskyn: Kos van die Eeu, Happies, Die Suid-Afrikaanse Vis en Seekos-Kookboek, Suid-Afrikaanse Seekosbanket, Eet saam met Leipoldt (met tekeninge deur Cora Coetzee), ‘n Mondvol Lekker, Teetyd Treffers en Kook met Peter 1 – Ontbyt, Kook met Peter 2 – Hoofgeregte en Kook met Peter 3 – Nageregte en nou, in samewerking met Elmari Rautenbach, Wat die hart van vol is (www.penguinrandomhouse.co.za/book/wat-die-hart-van-vol/9781770229716) .

Amper al sy boeke is ook in Engels vertaal. Kos van die Eeu lê hom erg na aan die hart; Happies het die beste verkoop, want ‘dit was seker maar die regte tyd daarvoor’.

Wat die hart van vol is sleur jou mee en leer jou van erfeniskos, soms met ‘n kinkel, soms ‘n ode aan die tradisionele.

Veldsman se beskrywings van ‘n plaaswerf in sy geliefde Ladismith in die Klein-Karoo en vertellings oor die plaaslewe in die mid-1940’s en 1950’s maak alleen die lees die moeite werd. As Die koms van die koskys (hoofstuk 6) jou nie ‘n knop in die keel gee nie, verdien jy om die res van jou lewe net droëbrood en water te eet en drink.

Met die inwyding van die Muskadelmuseum by die Barrydale Karoo Art Hotel gaan Peter Veldsman die Ridders van die Muskadelstok inhuldig en hy is ook een van die kokke by dié geleentheid op 12 Oktober 2019. Swepie le Roux van Doornkraal buite De Rust lewer die openingstoespraak. ‘n Muskadelproe word ook gehou.

Die benaming Ridders van die Muskadelstok is ontleen aan ‘n gewilde Afrikaanse radiostorie, Die Ridders van die Mielieblaarklub, wat vanaf 1950 – 1979 uitgesaai is en waarvan daar meer as 600 episodes opgeneem is.

Besoek die hotel se webblad karooarthotel.co.za vir die volledige spyskaart en ‘n lys van die verrigtinge tydens die inhuldiging van die Muskadelmuseum.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 18, 2020 by in Afrikaans foodies.