ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Ontmoet Alfons Mucha – die vader van Art Nouveau

First published in Rapport, June 2019

Sy styl is bekend, hy nie

Die brosjure van die Mucha Museum

Die brosjure van die Mucha Museum

Alfons Maria Mucha (1860-1939) se naam val nie lig op die tong – of geheue – nie. Die meeste mense sal egter sy speelse advertensieplakkate herken sonder om te weet wie die skepper was.

'n Foto van Alfons Mucha uit die brosjure van die Mucha Museum

‘n Foto van Alfons Mucha uit die brosjure van die Mucha Museum

Mucha word as die vader van Art Nouveau beskou. Aanvanklik is die styl van sy skilderye, plakkate, advertensies en boekillustrasies Mucha-styl gedoop. Later het dit as Art Nouveau ( “nuwe kuns”) bekend geword.

Mucha, ‘n Tsjeggiese kunstenaar, het daarvan gehou om aantreklike vrouens met krullerige lokke in los gewade te skilder. Die vroue is omring deur blomme en blomkranse wat soms stralekranse uitgebeeld het. Hy het baie pastelkleure gebruik wat teenstrydig met die tekengiere van daardie era was.

As kind kon Mucha blykbaar van vroegs af teken. In die museumbrosjure lees ek sy ma het ‘n potlood om sy nek vasgemaak sodat hy kon teken terwyl hy rondkruip.

Mucha het in sy vroeë dertigerjare heel toevallig bekendheid verwerf. Net voor Kersfees 1894 het hy by ‘n drukkery ingeloop. Soos die geluksgodin dit wou hê, het die mense by die drukkery juis ‘n advertensieplakkaat vir ‘n toneelstuk waarin Sarah Bernhardt optree, nodig gehad. Sarah Bernhardt was toe die beroemdste en gewildste aktrise in Parys.

Mucha het onderneem om ‘n litografie-plakkaat binne twee weke gereed te hê. Op daardie stadium van sy lewe was hy ‘n suksesvolle boek- en tydskrifillustreerder, maar niemand het sy naam geken nie.

Op 1 Januarie 1895 is Mucha se plakkaat vir die toneelstuk Gismonda orals in Parys opgeplak. Die Parysenaars was gek daaroor.  Mucha se naam was skielik op almal se lippe.

Op die plakkaat is Sarah Bernhardt met ‘n stralekrans op haar kop geteken. Haar profiel is lank en maer en sy dra ‘n vloeiende tabberd. Die woorde ‘Gismonda’, ‘Bernhardt’ en ‘Theatre de la Renaissance’ lyk of dit met fyn mosaïekteëltjies uitgepak is.

Sarah Bernhardt was só beïndruk dat sy ‘n kontrak van ses jaar met Mucha gesluit het.

Hierna het strale- of blommekranse, skraal profiele en pastelkleure kenmerkend van Mucha se plakkate geword.

Een venster in die Sint Vitus-katedraal in Praag is deur Mucha ontwerp, maar niemand weet hoekom hy net een in plaas van meer ontwerp het nie

Een venster in die Sint Vitus-katedraal in Praag is deur Mucha ontwerp, maar niemand weet hoekom hy net een in plaas van meer ontwerp het nie

Later het Mucha ook juweliersware, breekware en messegoed ontwerp.

Daar word vertel dat Mucha baie joviaal en vrygewig was. In ‘n kas in sy ateljee was ‘n laai vol kontant geprop. Almal het hiervan geweet. Die onuitgesproke ooreenkoms was as van sy vriende finansieel aan die swaar kant getrek het, hulle hulself uit die laai kon help.

Die Mucha Museum in Praag is op 13 Februarie 1998 geopen.

Die museum bestaan uit sewe afdelings met die volgende uitstallings: dekoratiewe panele, plakkate uit Parys, versierde dokumente, plakkate uit die Tsjeggiese Republiek, olieverfskilderye, tekeninge en pastelle en foto’s en persoonlike aandenkings.

Die museumwinkel verkoop van Mucha se afdrukke asook skinkborde, borsspelde, kaartjies, inkopie- en geskenksakke, notaboeke, kersblakers en juweliersware van Mucha se Art Nouveau-motiewe.

Die Mucha Museum is slegs agt minute se loop vanaf die Astronomiese Horlosie in die hartjie van Praag

Die Mucha Museum is slegs agt minute se loop vanaf die Astronomiese Horlosie in die hartjie van Praag

 

 

Die Mucha Museum is agt minute se loop (650 meter) vanaf die Astronomiese Horlosie op die Staromestska-plein in die hartjie van Praag.

Loer in by Obecni Dum, die Munisipale Huis, om te sien hoe Mucha die Burgemeestersaal versier het

Loer in by Obecni Dum, die Munisipale Huis, om te sien hoe Mucha die Burgemeestersaal versier het

Loer in by Obecni Dum (Munisipale Huis) na jou museumbesoek. Die Burgemeestersaal in Obecni Dum is deur Mucha versier.

Terwyl jy daar is, sal jy dit nie kan weerstaan om by Kavarna Obecni Dum, een van die mooiste koffiewinkels in Praag, koek en tee te geniet nie. Veral nie as jy die soetgoedtrollie van nader sien nie.

Mucha Museum

Waar: Kaunicky Palac (Paleis), Panska 7, Praag, Tsjeggië

Wanneer: Daagliks van 10h00 tot 18h00

Toegang: 260 Tsjeggiese koruna (R166) per volwassene, 180 koruna (R115) vir kinders, studente en seniors (bo 65 jaar) en 650 koruna (R450) vir gesinskaartjies (2 volwassenes en 2 kinders)

Tee en koek by Kavarna Obecni Dum: 4 minute se loop vanaf die Mucha Museum in Munisipale Huis, Republiky-plein 5, Stare Mesto, Praag

Lees meer: www.mucha.cz/en/

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 24, 2019 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .