ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die mooi en die lekker van Pole

First published in Rapport, August 2016

Neem poolshoogte oor Pole

In ‘n ideale wêreld moet elke mens op aarde Auschwitz besoek ten einde gekonfronteer te word met of poolshoogte in te neem (inligting in te win) oor hoe ‘n wêreld lyk wat só ver van ideaal is as wat ‘n mens kan kry. Sodat soiets nooit weer gebeur nie.

Vir die res van jou besoek aan Pole kan jy jou dan aan die móóí van die land verwonder. Vanuit ‘n treinvenster – dis maklik en bekostigbaar om van treinvervoer in Pole gebruik te maak – lyk die platteland soos wat dit in kinderstorieboeke geteken word – netjiese hooimiedens, spitsdakhuisies waarlangs ‘n wolfhond soms blaf, geploegde lande, koeie wat wei, klein meertjies nie veel groter as plaasdamme nie, dunstambome en piepklein trekkertjies. Hier en daar windturbines.

Vanaf Krakow is Auschwitz (Oswiecim in Pools) ‘n ‘gemaklike’ dagreis ver. Baie van die oorspronklike geboue van die konsentrasiekamp het behoue gebly.

Staal jouself om na die 15 minute-dokkie in die besoekersentrum te kyk. Loop dan deur die soldaatbarakke, die slaapsale, die gaskamer, die martelkamer. Sale is met glasmure afgeskort en daaragter sien jy hope brille, of babaklere, of kunsledemate. Duisende, duisende skoene. Afgeskeerde hare om matrasse mee te stop.

Ek wou die heeltyd huil. Ek kon dit nie regkry om iets hardop vir my reismaat te sê nie. Dis eenvoudig net te oorweldigend. Wat sê dit van menswees? Sal daar ooit ‘n antwoord vorendag kom?

Oppad terug na Krakow, en selfs vir ‘n paar dae daarna, was ons twee Suid-Afrikaners wat saam daar was, stiller as gewoonlik. Aan die een kant wil jy onthou wat jy gesien het, aan die ander kant glad nie.

Rynek Glowny in die middel van Ou Krakow was tydens die Middeleeue die grootste plein in Europa. Naby die Wawel Kasteel spoeg ‘n draakbeeld vuur om die legende van hoe ‘n prins of die vakleerling van ‘n skoenmaker – afhangende van watter weergawe jy glo – ‘n draak die loef afgesteek het, te herdenk. In Kazimierz, die ou Joodse buurt, kan jy museums, sinagoges en koffiewinkels soos Ariel Cafe & Restaurant besoek.

Wieliczka-soutmyn is 15 kilometer buite Krakow. Dis diep onder die grond, dis eienaardig, en alles is van sout gemaak. Daar is selfs ‘n katedraal van sout waarvan die bouwerk 30 jaar geneem het.

Waar Krakow in die suide lê, is die hawestad van Gdansk in die noorde. Die burgherhuise in skakerings van kaneel, mosterd, paprika en olyf herinner sterk aan dié van Amsterdam. Ul Dluga (Langstraat), Dlugi Targ (Langmarkstraat) en Ul Mariacka (Sint Maria-straat) spog met Renaissance-geboue en is van die mooistes, hoewel dit maar moeilik is om strate uit te sonder.

Gegote ysterstaanders met amberjuweliersware verlei jou om die talle amberwinkeltjies binne te gaan, waar jy meer van die geskiedenis van amber kan leer by winkelassistente wat wel Engels kan praat.

Sou jy eers voorbetragting oor ‘n amberhalssnoer of -ring wil doen, is Cafe Mariacka net die plek daarvoor. Die warmsjokolade-met-rissie met die gepaste naam van Cafe Daiblo sal jou kans laat sien om ‘n draak te verslaan of jou beursie te skud.

Amber staan nie verniet bekend as Baltiese goud nie. Die Ambermuseum en twee katedrale, Sint Katherine en Sint Mary, kan ook besoek word.

In die hoofkerk van Gdansk

In die hoofkerk van Gdansk

Buitekant die Maritieme Museum is die pikswart Gdansk Gotiese Hyskraan wat uit die vyftiende eeu dateer. Op daardie tydstip was dit die grootste hyskraan in Middeleeuse Europa en dit kon vragte van tot 2000 kilogram op ‘n skip laai.

As die replika van ‘n galjoenskip – nee, nie galjoenvis nie – voor die hyskraan vasgemeer is, sal jy jou verkyk aan die wulpse boegbeeld van ‘n meermin met ontblote borste wat ‘n kruik water in ‘n kammossel giet.

Die Malbork Kasteel is die grootste Gotiese kasteel in Europa. Dit was voorheen bekend as Marienburg toe die Teutoniese Ridders die septer hier geswaai het. Op ‘n stadium het hier 3000 ridders in die kasteel gewoon. Aangesien Malbork op die Nogatrivier geleë is, was dit baie maklik om tolgeld van die handelskepe in te vorder. Ek’t my verkyk aan hoe die Hanseatiese Koopmans daar uitgesien het.

Kaart van Malbork

Kaart van Malbork

Sopot, sowat 12 kilometer van Gdansk, is al sedert die negentiende eeu ‘n gewilde wegbreekplek waar jy seelug kan inasem. Voor jy besluit by watter een van die talle restaurante jy pierogi (aartappelkluitjies), vleiskrokette of borscht (beetsop) wil gaan eet, loer eers na die Crooked House (Krzywy Domek). Na ete mag jy dalk skrik en dink dat jy te veel bisongraswodka gedrink het.

Hiert, hoe voel dit dan nou of ek skeeftrap

Hiert, hoe voel dit dan nou of ek skeeftrap

Dit lyk kompleet of ‘n reus voor die Skewe Huis gestaan het en van weerskante die huis inmekaar gedruk het sodat dit na bo uitbult. Die vensters is skeef en krom sodat jy onwillekeurig jou kop draai – om beter te kan sien, my kind. Die trap – nie jy nie – slinger na bo.

As jy teen hierdie tyd al ‘n bietjie terug na Afrika verlang, kan jy die Restaurant Rucola (met Morokkaanse dekor en Spaanse tapas) binne-in die Skewe Huis besoek.

Die Skewe Huis, ‘n inkopiesentrum, is in 2004 gebou. Die ontwerp is deur die feeverhaalillustrasies van Jan Szancer asook deur Gaudi geïnspireer. Die ontwerp het al ‘n toekenning as die vreemdste gebou in die wêreld ontvang.

As jy van die Skewe Huis met Bohaterow Monte Cassinostraat na die see toe stap, kom jy ‘n vuurtoring (Stara Latarnia Morska) teë wat lyk of dit tussen winkels staangemaak is eerder as om as ‘n wagter vir vaartuie te dien. Die vuurtoring is in 1904 voltooi. Tot my groot spyt was ons net-net te laat om met die kliptrappe boontoe te klim. Ek kon my maar net verbeel hoe die sofa halfpad op daar uitsien wat so ewe daar geplaas is sodat jy kan rus voor jy die res van die 25 meter na bo klim.

Net ‘n entjie met die strand langs is ‘n klein vissermuseumpie. Jy kan dit nie miskyk nie – daar’s rasta-kleurige bootjies met bondels vlaggies op die strand en afgetrede pyprokende vissermanne wat ronddrentel. As die son jou te warm bak, kan jy die skadu van die bootjies benut.

Nou is dit net mooi tyd vir die volgende bisongraswodka-sopie.

Sou jy gaan:

* Lees vooraf meer oor Auschwitz: www.auschwitz.org/en/museum/news/

* Verstom jouself aan die Wieliczka Soutmyn: www.wieliczka-saltmine.com

* Meer oor Malbork Kasteel: www.castles.info/poland/malbork/Malbork

* Lees oor die kusdorpie, Sopot: www.sopot.net/english.htm

* Draai jou kop skeef vir die Skewe Huis: www.krzywydomek.info/home-page.html

* ‘n Virtuele proe van Zubrowka  oftewel bisongraswodka:

www.wsj.com/articles/SB10001424052748704515904576075521026203578

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 1, 2019 by in Europa and tagged .