ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Sit die bloute buite

First published in Tuis, April 2016 – in conjunction with Johane Neilson & Francois Oberholser (this article has been adapted)

Omdat water so skaars is, moet ons al slimmer tuinmaak. Skep kleur met dekorhoekies buite, soos Marieta Nel op haar werk in Welgemoed gedoen het.

Muur vir ‘n meermin

‘n Vrolike turkoois muur (die kleur is Mermaid Jewel van Plascon) heet jou welkom in Marieta se tuin. En wanneer jy vir jou ‘n glasie menttee skink, groei die kruisement binne plukafstand in ‘n emmer neffens ‘n tafeltjie waarop ‘n Marokkaanse silwerteepot gereed staan vir die teeritueel.

Sy het die idee om die knalblou blikke en die waskom so teen haar turkoois muur uit te stal, by Aspidistra Tuinsentrum op Stellenbosch gekry.

Blou is die wolke

blou is die maan

blou is die venster

waarby ek staan… – Uit “Alles is blou” van Laurika Rauch

Die stervormige fontein met sy Marokkaanse tema

Daar is ook ‘n mosaïekskopgraaf teen die turkoois muur. Op die steel van die graaf gedy ‘n spekboompie in ‘n pot, selfs al kom daar vir weke nie ‘n lekseltjie water sy kant toe nie.

‘n Sementengel dra tot die atmosfeer by

Plek-plek hang ook blou glasbottels wat die lig vang.

‘n Gelukkige inwoner knip ‘n uiltjie op die Frans-geïnspireerde vloerplanke in die huis; in die tuin is ‘n ou garagedeur in panele gesaag en dien nou as blad op ‘n buitetafel en bankies.

Rinkel in die rondte

‘n Versameling vintage-glasbottels wat kunstig aan ‘n fietsvelling vasgemaak is, vang die lig in die treffende installasie op die stoep.

Lap dit uit

Marieta se tuin is op twee vlakke, en in die daktuin is daar verskeie elemente wat aan die soeks van Marrakesj, Marokko, herinner: ‘n stervormige fontein, baie blou en ‘n tikkie silwer, en die teëls as beddingrande. Die kleurspel van laasgenoemde is visueel aantreklik en skep die indruk van ‘n tekstuurryke lappieskombers onder jou voete. Groepeer hier en daar vier van dieselfde teëls saam – soos die blom hier – om nuwe patrone te vorm.

‘n Bakspeltafeltjie nooi jou om aan te sit

Die naambordjie, Avenue des Champs Elysees, fluister dat hier ‘n dekortema met ‘n verskil binne – en buite – op besoekers wag.

2 comments on “Sit die bloute buite

  1. Dr Christa van Staden
    October 3, 2023

    Baie mooi!

  2. ilsez
    December 30, 2023

    Enigiets Marokkaans trek my dadelik, Christa.

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 3, 2023 by in 'n Titseltjie dekor / A touch of decor.