ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oupa Uil(e) lê besoek af

First published in Die Burger, May 2015

Uilkaskenades

Uilkaskenades

Waar sou die bygeloof vandaan kom dat die hoe-hoeeee van ‘n uil op die nok van jou dak die dood voorspel? Dit voel so onsinnig.

As ‘n uil jou met sy nabye teenwoordigheid seen, is dit eerder asof ‘n seëning oor jou uitgespreek word. Of die lewe hierna goeie dinge oor jou pad gaan stuur.

‘n Weesuiltjie

Met ‘n besoek aan ‘n oud-klasmaat bespeur ek ‘n klein uiltjie van liniaallengte  op haar voorstoep nog voor ek gegroet het. So ewe langs die Labrador. Ek vergeet sommer om enigsins te groet.

Twee troeteldiere by een huis

Twee-troeteldiere-by-een-huis.jpg

Oela die (Kaapse Oor)Uiltjie is op ‘n plaas naby Ceres as amper veerlose kuiken gevind. Hy is deur die familie – almal gróót diereliefhebbers – grootgemaak waarna hulle hom na Robertson Birds  Paradise geneem het.

Die grootmaak was nogal ‘n tydrowende taak en het beplanning geverg. Maar hierdie gesin het eenvoudig geen moeite ontsien nie.

Oela is gevrieste muise gevoer. Voor ‘n muis op Oela se pote neergesit is, is dit eers in ‘n plastieksakkie in lou water gedompel sodat dit darem nie so erg koud is nie. Per slot van sake is Oela mos nou nie ‘n sneeu-uil nie.

Louwarm – en verkieslik wit muise – blyk Oela se gunsteling te gewees het. Dit het gelyk of Oela sukkel om te sien.

Oela het sekere rituele, waaraan ‘n mens jou kon verkyk, gehad. As ‘n ligte windjie waai, het Oela met oop vlerke op die gras gehardloop en so nou en dan net-net opgestyg. Daarna het hy vreeslik vol van homself weer terug stoep toe gehop.

Grassies wat rondwaai, is bekruip, bespring en dan in een poot vasgehou. ‘n Mens kon sien nou is hy vrééslik trots op sy vangs.

Hier's nie oogkontak nie

Hier’s nie oogkontak nie

As hy met kostyd geroep is, het hy ewe gedwee nadergekom. As die honde vir ‘n middagslapie gaan inkruip, het hy lekker knus langs hulle gaan lê, uitgestrek en so hul mandjie gedeel.

Oela het goed aangepas by Robertson Birds Paradise, sy nuwe tuiste.

‘n Uil kom gesels saam

Skaars twee weke later kom sit ‘n  uil (óf ‘n Kaapse ooruil óf ‘n Gevlekte Ooruil) skaars 7 meter weg van waar ons op ons stoep in L’Agulhas braai.

Ons tienstuks bly doodstil en staar in verwondering. Meneer Uil bekyk ons heel geïnteresseerd. Na sowat tien minute begin ons in fluisterstemme praat. Wat oorgaan in ons vorige luidrugtige gesprek met gereelde skaterlag.

Doodluiters luister die uil na ons gesprek

Doodluiters luister die uil na ons gesprek

Meneer Uil bly egter sit waar hy sit. Dit lyk of hy luister na alles wat ons sê. Ons harde stemme en gepaardgaande gebare sit hom geensins af nie.

‘n Rukkie – en ‘n paar gespreksonderwerpe – later vlieg Meneer Uil doodluiters na die oorkant van die stoep om die kossies wat ek vir die fisante neergesit het, te inspekteer.

Eers toe vlieg hy die nag in, in die rigting van die vuurtoring.

‘n Uil met ‘n afbeen

Sowat ‘n maand later ry ek op ‘n Vrydagmiddag op die R45 tussen Caledon en Villiersdorp. Êrens naby die Greyton-afdraai dra ‘n man ‘n uil – of dalk ‘n valk – aan die oorkant van die pad, sien ek met die verby ry.

‘n Kilometer of wat verder sê my intuïsie vir my ek moet omdraai. Die beeld van die man wat die voël dra, spook by my.

By hom aangekom, hoor ek dat hy die langs die pad sien sit het. Die uil se een been is gebreek. Hy verseker my hy sal sorg dat hy die uil by hulp sal uitkry.

Na nog ‘n U-draai sien ek in my truspieëltjie hoe hy – dis soos dit vir my lyk – die uil twee keer laat val. Na nog ‘n hele paar kilometer draai ek wéér om. Weereens kan, en wil, ek nie teen my impuls stry nie.

Nie dat ek weet hoe ek vir ‘n vreemde man gaan sê, nee, daarop aandring, dat hy die uil aan my móét oorhandig nie. As ek net bietjie jonger was, kon hy my pa gewees het.

“Ek het weer teruggekom,” kondig ek aan sonder dat ek weet wat ek volgende gaan sê. Hy maak sy bakkieklap toe. Waar’s die uil, wonder ek benoud.

Op my vraag hoor ek dat hy die uil onder ‘n bos ‘n entjie verder – met water langs hom, sê hy – neergesit het. Hy gaan nou weg vir die naweek en kan die uil eers Maandag êrens gaan afgee. Ek byt my tong.

Ons laai die uil in my kattebak. Sy oë is so groot soos pierings en brand ‘n gat in my siel. Ek huil die heelpad oor die Franschhoek-pas tot by Eagle Encounters by Spier. Ek hoehoe desperaat tussenin om kwansius die uil beter te laat voel. Of self beter te voel.

Veilig by Spier se Eagle Encounters

Veilig-by-Spier-se-Eagle-Encounters.jpg

Teen die tyd wat ek daar aankom, het die Kaapse Ooruil (soos hulle my meedeel) sy veglus – en die vuur in sy oë – verloor. Een van die assistente kan hom soos ‘n babatjie optel.

Hulle verseker my my uil gaan heeltemal gesond word; al gaan dit ‘n lang tyd neem. Ek huil weer – hierdie keer van verligting.

Oos wes, tuis bes

Die uil-seëninge reën op my neer. In die middedorp van die Paarl sit deesdae saans ‘n uil op die nok van ons dak. En roep na sy maat ‘n hele paar blokke weg.

Sela, ek’s geseën.

KAAPSE OORUILE EN GEVLEKTE OORUILE
Die Kaapse Ooruil (Bubo capensis) en die Gevlekte Ooruil (Bubo africanus) word maklik met mekaar verwar.
Die Kaapse Ooruil is ‘n bonkige, bruin uil wat bra skaars is. Die Kaapse Ooruil is groter as die Gevlekte Ooruil. Die duidelikste verskil is die dwarsstrepe op die Kaapse een se onderkant. Hul  voete en kloue is ook groter en hul oë is oranjegeel (oranje as hul jonk is).
Die Kaapse Ooruil roep HOE-hoe-hoe of HOE-hoe met die klem op die eerste ‘hoe’. As hul gevaar gewaar, maak hulle ‘n wak-wakgeluid.
Die Gevlekte Ooruil is meer algemeen. Die uile is kleiner as die Kaapse Ooruil; hul dwarsstrepies aan die onderkant is kleiner; en  hul oë is liggeel.
Die mannetjies roep hoe-hoeee; die wyfies roep hoe-hoe-hoeee. Hulle sê mos mans praat altoos minder as vrouens!
Die uiltjie hou van hoog sit

Die uiltjie hou van hoog sit

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 17, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .