First published in Die Burger, May 2014
(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)
Die sigsagpatroon van sinkplaat herinner aan delwersdorpies met kroeë in die laat 1800’s waar vrouens met uitskoprokke op toonbanke dans. Buiten vir informele nedersettings, sien jy amper nooit meer ‘n regte sinkhuisie nie, maar daar is nog hier en daar op verskillende dorpies so ‘n sinkplaatplekkie wat aan jou hart vat.
Lê jou kop neer by Blikhuisie
In ‘n stil straatjie van Riebeek-Kasteel is Tin House liefdevol gerestoureer. Suzanna du Preez wou nog altyd ‘n sinkplaathuisie gehad het en sy’t die visie gehad om hierdie lelike eendjie in ‘n swaan om te tower.
“Jy sal nie glo hoe dit eers gelyk het nie!” vertel Suzanna. Daar is sommer aan motorenjins in die een vertrek gekarring en kolle motorolie het orals gelê.
Dis amper onmoontlik om te glo as jy na die Musiekkamer en Rooskamer se keurige binneversiering kyk. Nostalgiese stillewes met ‘n ou skaal, lampetbeker, reisigertas, porseleinteestel en vars rose staan rond en bont. Die hoofslaapkamer is ‘n oase van wit op die solder; jy kyk uit oor die tuin – waar bruide gereeld hul foto’s laat neem – tot by die wingerde op die oorkantse heuwel.
Selfs die een stortmuur is van sinkplaat! Teen een tuinmuur is ‘n projek in wording – met sinkplate word ‘n tafereel van ‘n dorpie (kompleet met kerkie en stootwaentjie) geskep. ‘n Kleiner sinkhuisie – met ‘n stoepstoel op die dak en gieters op die heining – dien as kwekerytjie vir Tin House se eie tuin.
Die onderdakstoep nooi jou om ‘n glasie wyn te skink. En vir langer te bly as wat jy oorspronklik beplan het.
Die reuk van koffie en die see
Wie sou nou kon raai dat ‘n ou bootsinkskuur nou só kan uitsien? Vanaf die systoep kyk jy uit oor die hawe en die see; saans twienkel Mosselbaai se liggies op die heuwel aan die ander kant. Binne sit jy tussen koffiestreepsakke op ‘n ou leerbank of ‘n koninklike stoel.
By die Blue Shed – en potblou is dit beslis – is die leuse: Soms is dit die kleinste dingetjie wat ons red – die weer raak koud, ‘n kind se glimlag, en ‘n koppie uitstekende koffie. Veral daardie koppie koffie natuurlik.
Die Blue Shed Coffee Roastery glo hul koffie kan verslawend blyk te wees. Hul koffiebone kom onder andere van Ethiopië, Nicaragua, Antigua, Brasilië en Tanzanië.
Voor op die strand of met ‘n uitsig oor die baai
Dis seker net in ‘n vissersdorpie waar daar sommer twee sinkplaatrestaurante is – Voorstrandt wat óp die sandstrand geleë is en Blikkie Pizzeria wat oor die baai uitkyk.
Beide is in eertydse vissershuisies – Voorstrandt het ‘n rooi dak en woudgroen sinkplaatmure; Blikkie is mentgroen en wit. Voor Voorstrandt is ‘n afgetrede vissersbootjie; by Blikkie is bootjies in prettige sitplekkies omskep.
By Voorstrandt gaan jy aansit omdat jy jou skoene kan uitskop en met enkele treë jou tone in die sand kan steek. Dis nodig om vooraf – selfs in die week – te bespreek.
By Blikkie eet jy dunkorspizza’s met gemarineerde bokkem, ansjovis of gerookte snoek. Die uitsig strek tot by die gesigseinder terwyl jy terselfdertyd die straatverkeer kan dophou.
Sinkplate kry ‘n tweede lewe
Amanda Cliengen het net minder as ‘n dekade gelede op ‘n skrootwerf rondgeloop aan’t soek na verweerde bedkopstukke en “ou ysters”. Op die ingewing van die oomblik het sy op ‘n stuk sinkplaat wat sy daar aangeskaf het, geskilder; die einste skildery is sommer die volgende dag verkoop, en dís wat sy van toe af begin doen het.
Amanda raak liries oor sink – solank die sink geroes is, gee dit so ‘n misterieuse gevoel. Kyk net, wys sy uit – sink het die mooiste vorms en kleure soos hulle weggevreet is; dis vol gate, dis gebuig, dis so mooi.
Sinke, soos wat Amanda dit noem, is vir haar soos mense – almal het mos maar roeskolletjies êrens.
Om op sink te skilder, is amper soos pottebakkery. Amanda sal weet, want sy was eens ‘n pottebakker. Om op sink te skilder, gee dieselfde gevoel aan die siel as wat jy ‘n stuk klei vorm wat uit die aarde kom. En as die lewe aan haar ‘n klap uitdeel, slaan sy haar frustrasie uit op die sinke.
Amanda skilder graag gesigte, veral van vroue. Sy gebruik doringdraad om te illustreer hoe iemand wat vasgevang was, haarself kon bevry. Dan ook visblikke, visse in emaljebakke en flessies Bovril.
Amanda is gek na die eenvoud van die lewe. Sy het ses jaar gelede vanaf Warmbad na Riebeek-Kasteel verhuis en hier skilder sy nou “dat die spoeg spat”. Haar sinkkuns is getuie daarvan dat “andersheid haar sielskos is”.
Recent Comments