ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Roer jou litte na Robertson

First published in Die Burger, February 2013

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)  

Ry stadig op die pad na Robertson - daar is baie om te sien ongeag watter seisoen dit is

Daar’s ‘n rustigheid aan Robertson. Met ‘n skeut brandewyn, ‘n proesel chardonnay, ‘n inkommer van Uniondale (darem nie die vroulike duimgooi-spook nie) en ‘n outydse roostuin by die museum.

Oulap se rooi maak mooi

Eintlik te vroeg vir ‘n lui Saterdag sit ons aan vir ontbyt by Bodega de Vinho by Rooiberg. Vlytige kelnerinne, vars lemoensap en boeretroos sorg dat ons gou-gou opgewek gesels. ‘n Falanks brode loer oor ons skouers – van rogbrood met rosyne tot patatbrood en Italiaanse ciabatta.

Daar is 'n paar skilderye van Graham Beck in hul moderne proelokaal

Om die opgewektheid verder aan te help, word daar ingedraai by die Graham Beck Wynlandgoed. As hul vonkelwyn goed genoeg vir Nelson Mandela en Barack Obama is, moet ons onsself darem weer vergewis dat hulle die regte keuse gemaak het. Teen die muur pryk die geskiedenis van die ontstaan van die landgoed in vrolike sketse deur Daniël du Plessis. Graham Beck het sy eerste notas oor verskillende varieteite op die agterkant van ‘n Lexington-boksie gemaak.

Voëlverskrikkers van strooi

DSC_0294

Al met die aankom, sien jy die buksie-strooipoppe met hul motorbandhoede raak. Ek sal myself nooit as ‘n bakster uitgee nie, maar sou ek beskuitpanne (die ware Jakob) soek, is dit by Affie Plaas(stal) te kry. So ook boeremeisies (maar nie die soort wat by jy by ‘n opsitkers aantref nie), rooinekke (nie Engelsmanne nie) en boegoetee, bokmelk-fudge sowel as kwarteleiertjies.

Met passie bedryf

Net mooi op die eerste dag wat Passio Restaurant (Voortrekkerstraat 30) oopmaak, bevind ek myself op hul drumpel. Met die binnestap wil-wil dit my herinner aan seker die mooiste gastehuis (in Uniondale) wat ek nog in hierdie land van ons gesien het, maar nee, my verbeelding speel parte met my. Na ‘n vinnige ontmoeting is dit toe wel so, maar wat die Klein Karoo verloor het, het die Breederiviervallei bygekry. Die engele en ikone is nog nie uitgepak nie, maar ou skilderye in swaar rame, vertoonkaste en ornamente wat lyk of dit aan aristokrasie behoort het, pryk al teen die mure en op die tafels.

Selfs al sou jy beplan om reguit deur Robertson te ry, sal jou oog iets vang wat jou wil laat indraai en afdraai.

By Grand Café word koffie gedrink; by Van Tonder Oudhede is meer eetkamerstoele as wat jy al ooit saam gesien het; by Vanilla Rose word die boere-kugel in jou wakkergemaak; by Abundance loop jy ietsie vir jou volgende werksfunksie raak.

Voor ‘n koffiedrinkplek lê koffie-streepsakke met stempels van plekke waarvan jy nog nie eers vantevore gehoor het; jy bespeur ‘n plek met ou klerekaste en koperskinkborde; jy onthou ‘n maaltyd van lank terug by Bourbon Street voor al die ander plekkies nog hul deure oopgemaak het.

La Verne Wynboetiek bedryf ook steeds flink sake – maak plek in jou bagasieruim vir wyn waarvoor jy hier net ‘n appel en ‘n ei betaal in vergelyking met wat dit jou nader aan die stad gaan kos.

Brandewyn laat my staan

 Die eerste Klipdrift-brandewyn is in 1938 deur ene oom Kosie in hierdie einste distrik gestook. Al is jy dalk nie ‘n hardehoutdrinker nie, is daar seker nie ‘n siel in Suid-Afrika wat nog nie van “met eish, ja” gehoor het nie. Dis ook nie net in Robertson waar Klipdrift se wortels lê nie – Klipdrift staan ook bekend as Worcestersous én Matie-sous. Van Klipdrift se advertensiespreuke soos “stadig oor die klippe” en “naweeksous” is al deel van alledaagse gesprekke.

Almal praat daarvan

 Dit vat ‘n rukkie se rondry voor jy op The Robertson Small Hotel afkom. Ook maar goed so, anders besef jy dalk nie watter mooi, statige huise daar in Robertson is nie. Met oordadige broekieslace, met lang stoepe, met palmbome, met kannas wat blom.

Juis in een – eintlik meer as een – van hierdie huise is hierdie vyfster-boetiekhotel. Binne-in voel dit so half na ‘n bewolkte dag – dis saggrys en wit; daar’s proteas in glasvase; en Reuben Riffel se naam hang in die lug en teen die muur.

Dit lyk na ‘n lugspieëling

Spaces maak ruim gebruik van die skuurspasie waaroor hulle beskik

Net voor jy die dorp uitry, hang daar ‘n wit stoel wat in Jan en die Boontjierank kon gewees het, ‘n vurk groter as ‘n hark, en ‘n beker so groot soos ‘n emmer, in die lug. Dis nie ‘n hersenskim nie – dis hier waar jy inry om voor ‘n allemintige sinkplaatskuur tot stilstand te kom. By Spaces is van skemerkelkrokkies tot staan- en hanglampe van doringtakke. In die damesbadkamer is ‘n uitgetrapte rooi polvy teen die deur vasgespyker en ‘n winkelpop spog met ‘n romp van ‘n ou rokpatroon; by die mansbadkamer hang ‘n Grootrivier-padtekenbord teen die buitenste muur.

Moenie noual terugdraai stad se kant toe nie. By Viljoensdrift kan jy piekniek op land of op die rivier hou. Op ‘n stil dag vloei die water net-net en lê die heuwels onderstebo langs die boot of so lyk dit in die weerkaatsing as die son net mooi reg val. Maak ook ‘n draai by die mooie kelder van Springfield.

Diegene met groen vingers moet nie die geleentheid laat verbygaan om Van Loveren se tuin te sien nie. Hier vier gasvryheid hoogty. As jy vroegoggend daar indrentel op soek na ‘n drinkdingetjie terwyl jy noodwendig tyd moet verwyl, word daar ‘n skinkbord aangedra; al is hulle nog nie oop nie. Sulke diens laat ‘n mens weer, en weer, teruggaan.

Dit weerspieël net mooi die onpretensieuse ontvangs wat jy by Robertson en sy mense kry.

Wat jy moet weet:
·       Lees by www.rooiberg.co.za meer oor hul Robertson se bewaringsprojekte, Rooiberg se wyne sowel as hul restaurant en plaasstal.
·       Sluit aan by die Graham Beck Signature Wine Club by www.grahambeckwines.co.za
·       Vergewis jou van Passio se spesiale aanbiedinge by www.robertsonr62.com/index.php/info/restaurants/fabdeli
·       By www.lavernewines.co.za kan jy aanlyn wyn teen kelderpryse bestel.
·       Lees meer van Klipdrift Brandewyn by www.klipdrift.co.za

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 4, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .