ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Laat dorpies op Britse platteland jou bekoor – BLY OOR IN BURY ST. EDMUNDS

First published in Die Burger, July 2011

Al van Bury St. Edmunds gehoor? Almal stroom mos na Cambridge. Of word ingesuig deur die ritme en inkopies in Londen. Ja, ja, Edinburgh het meer atmosfeer, Stratford-upon-Avon is meer bekend, en Guildford het groter en mooier huise en winkels.

Bury St E_0005

In Suffolk kan jy jou ponde laat rek en strek terwyl jy die Engelse platteland ervaar en net tjil. Hier’s genoeg dagekspedisies; jy hoor Afrikaans op ‘n straathoek (hier is juis baie Suid-Afrikaanse tandartse in die distrik) en die kronkelende paadjies lei jou van een verleidelike dorpie na die ander. Tussen die dorpies lyk die skape en koeie soos prentjies op die gras. Papawers blom rooi. As jy gelukkig is (en romanties daaroor dink), sien jy dalk ‘n sigeunerwoonwa êrens staan.

Bury St E

As jy nog nie van Bury St. Edmunds gehoor het nie, is dit nie ‘n skande nie. Bury (soos dit in die volksmond bekend staan) lok nie eintlik toeriste nie – behalwe as jy een van die tandartse ken. Jy hoef nie Dublin toe te vlieg om blou en rooi (en groen en oranje) deure met baksteenbogies aan die bokant te sien (en af te neem) nie. Bury het die oulikste huisies met klein tuintjies. Of jy kan vir lank in die Abbey Gardens ronddraal en die duiwe, eende en eekhorings voer.

Bury St E_0009

As die hongerpyne begin knaag, kan jy kies tussen Chinees, Thai, tipies Brits, seekos, Grieks, Indies, Italiaans, Meksikaans of plein pizza. Dis nou behalwe die meer-as-wat-jy-op-jou-vingers-kan-tel kroegies. En ‘n wynkroeg of twee waar jy ook ordentlike vis en tjips kan bestel. Dis hier waar ek ‘n meisie met ‘n T-hemp sien waarop daar staan: “I hate green peas.”

Bury St. Edmunds is ‘n markdorp van ouds. Lank gelede is dit deur William Cobbett (bekend vir sy reise en sy essays) as “the nicest town in the world” beskryf. Selfs Charles Dickens het iets oor Bury te sê gehad –  hy het gereken dis “a handsome little town.” Voor Dickens se tyd is Bury vir vyf eeue lank deur pelgrims besoek.

Bury St E_0010

Sedertdien het Bury homself geredefinieer. Die winkeltjies verkoop enigiets van ‘n hout-en-wol-skaap tot onderbaadjies, van jou ouma se drie vlak eende wat in formasie vlieg tot Australiese didgeridoo’s.

Twee keer per week word daar mark gehou by die Bottermark en trooskos deur die pensioenarisse verkoop. Daar’s selfs ‘n Hallmark kaartjie-stalletjie. Tot en met ‘n paar jaar gelede was lewende hawe deel van die mark, maar nou nie meer. Rondom my is ‘n warboel aksent; sommige sny deur murg en been. Daar’s stywe bolip Britse anties, verwarde jongmense en plaasjapies. Almal ken almal.

Om deur die strate te drentel, neem langer as wat jy beplan. In St Johnsstraat betrap jy jouself dat jy wil koffie drink, speelgoed bekyk, iets van die Verre Ooste huis toe neem, skoene aanpas en gordyne laat maak. Marchant’s Cookware Emporium maak jou lus vir kook. ‘n Paar deure verder is daar ‘n eiendomsagent en as jou beursie dit toelaat, kan jy by een van die twee haarsalonne inloer.

Bury St E_0004

As rekords en enig-in-hul-soort plekkies jou tiekel, kan jy nie ‘n besoek aan die kleinste kroeg in die wêreld misloop nie. The Nutshell is in die Guinness Book of Records as sodanig gelys.

Bury St E_0001

Van spys en drank alleen kan ons nie leef nie – voed jou siel deur na die St Edmundsbury Katedraal te gaan kyk, en loer ook in by die kleiner St Johns en St Mary’s kerke.

Beplan jou dag vooraf by www.stedmundsbury.gov.uk

NORWICH IS OOK NABY

Norwich is eintlik ‘n bestemming in eie reg. Jy kan jou verkyk aan die argitektuur; daar’s ‘n vars vrugte-en-groentemark wat ook ontbytburgers verkoop; daar’s ‘n boekwinkel met die interessante naam “At the Sign of the Pilgrim” en die Colman’s

Mustard Shop (Royal Arcade 15) is ‘n ontploffing van geel en rooi. Moenie uitloop sonder hul ou-styl yskasmagnete nie.

Colmans en Norwich kom al ‘n lang pad saam – amper 200 jaar om presies te wees. By die mosterdwinkel (www.colmansmustardshop.com) kan jy vyftien soorte mosterd, Art Deco mosterdpotjies asook blikadvertensieborde vir mosterd – koop. ‘n Mustard by Mail katalogus is ook beskikbaar.

Bury St E_0012

 

LAVENHAM IS LIEFLIK
Lavenham is gedistingeerd, maar jy sien tog ‘n kombi voor ‘n teëldakhuis en ‘n rooi telefoonhokkie langs ‘n rooi posbus voor ‘n geel huis. Die huise lyk komieklik skeef, maar oulik, en almal het skoorsteentjies. Die skeefste huis se naam is heel gepas “Crooked House.” ‘n Paar huise het klompje-baksteentjies om hul vensters; die meeste het vertikale swart balke tussen die pleisterwerk.

Die Swan Hotel is donker binne-in en dit het ‘n ouwêreldse sjarme, en soms ‘n Suid-Afrikaanse kroegmeisie wat daar werk.

Lavenham is een van die “koekieblik-dorpies” omdat dit mooi genoeg is om ‘n koekblikdeksel te versier.

Bury St E_0008

COLCHESTER IS OUD, MAAR NOG NIE KOUD
Colchester is nou wel nie die mooiste dorp in Suffolk nie, maar dis die oudste opgetekende dorp in Brittanje. Daar’s ‘n kasteel en daar’s ruïnes. By Poppy’s Victorian Tea Rooms is vars skons.

Bury St E_0011

ELY SIT OP ‘N HEUWEL
Ely Katedraal is massief. Van binne en van buite. Soos jy na Ely aangery kom, verrys die katedraal voor jou. Soos ‘n skip uit die see. Ely Katedraal sit op ‘n begroeide eiland in ‘n moerasdistrik. Dis ‘n moetsien.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 19, 2017 by in Europa.