ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kloof Street House – ‘n visuele en gastronomiese fees

First published in Die Burger, October 2016

20190920_070750

‘n Visuele fees wag op jou by Kloof Street House

Met die eerste betree van die drumpel voel dit of ek moet rondkyk of Sjeherezade, wat 1000 stories oor 1001 nagte aan die koning vertel het, êrens op ‘n fluweelstoel sit. Dalk hier by die sagte gloed van die betosselde lamp, terwyl sy teen die Tretchikoff-kussing terugleun.

By Kloof Street House is dit die ene boudoir – kandelare weerkaats in spieëls, fraiings versier kussings en lampskerms, feetjieliggies verfraai die tuin, ‘n kristalkraffie skuur skouer met ‘n Oosterse teepot op die kaggelrakkie.

Wat hierna volg, sou die oumense gesê het is wat iemand doen wat niks gewoond is nie. Só oorentoesiasties raak dat jy onoortuigend oorkom.

Maar glo my, selfs na ‘n tweede besoek aan Kloof Street House wil ek steeds aan die wêreld – of ten minste aan alle Kapenaars – verkondig dat dit nie net die atmosfeer en dekor is wat jou laat terugkeer nie, maar ook die uitmuntende kos.

Dit sê nogal iets as ‘n mens met die tweede besoek twee van dieselfde geregte weer kies. Die camembert-voorgereg, gebak met knoffel en truffel, en bedien met piekels, smelt in jou mond. Dis verskriklik lekker net soos die vorige proeslag.

Ek kry dit net-net reg om die stadig-stowe lam met eiervrug, tahini en soemak te systap en my vinger op die vegetariese lensiegebak te druk.

Met die eerste happie kondig ek my gereg as onoorwonne aan hoewel die aartappelgnocchi met botterneutskorsie, gorgonzolaroom en geroosterde okkerneute in die bord oorkant my ook verruklik proe.

Die lensiegebak is ‘n kosstillewe toe die kelner dit uit die kombuis bring. Hy lyk tróts, asof hy dit self gestileer het.

Geurige lensies rus op wortel-en-komynpuree (dis wat ek volgende self in my kombuis gaan uitprobeer) met chevin-kaas en sade besprinkel, vars avokadoskywe waaier uit bo-op die lensies en die uie-bhaji is ‘n krabbeltoring wat soos ‘n abstrakte skildery lyk.

‘n Mens torring nie aan ‘n resep, of gereg, wat werk nie; dus bestel ek wéér die soutkaramelkaaskoek met gekarameliseerde soutspringmielies en vanieljeroomys. My metgeselle volg summier my aanbeveling.  ‘n Wenresep oftewel –bestelling, want niemand beny die ander een se nageregkeuse nie.

As ‘n knorrige-Karel-leser daarop aandring dat iets uitgelig moet word waaroor ek nie geswymel het nie, is dit dalk dat daar tamatiesous, hoewel in ‘n delikate potjie, op die tafel verskyn het. Al is daar biefstuk wat met skyfies bedien word, bestel, pas dit nie by die res van die prentjie as daar nie spesifiek daarvoor gevra word nie.

Op Sondae is daar tussen 13h00 – 15h00 jazz waarna jy kan luister. Sien jou daar.

Wat het ons gedink?

Kos: 5/5

Prys: 5/5

Atmosfeer: 5/5

Diens: 4/5

Kloof Street House, Kloofstraat 30, Kaapstad

Bespreek by: 021 423 4413/082 775 4945 of info@kloofstreethouse.co.za

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 23, 2020 by in Afrikaans foodies and tagged .