ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Neig noord in Tunisië

First published in Die Burger, February 2015

Gaan sluk ‘n koue in Bizerte

Hoera!

As jy van kindsbeen af in L’Agulhas (die mees suidelike punt van Afrika)  rondhang, en jy is oppad na Tunisië, móét jy mos net eenvoudig op die mees noordelike punt van Afrika gaan staan.

So gesê, (maar nie) so (maklik om te) gedaan.

Vanaf Tunis, die hoofstad, is dit moontlik, maar nie so maklik, om jou pad na Bizerte, die naaste stad aan die mees noordelike punt, te maak nie.

Hoe om daar te kom

Gelukkig bly ek oor in Tebourba, ‘n verdere dertig kilometer uit Tunis op die pad na Bizerte. Tebourba is ‘n voorstad (maar slegs by wyse van spreke) van Tunis – dis maar redelik gehawend en vir ‘n toeris is daar nie ‘n rede om hiernatoe te kom nie. Sou jy egter iemand hier ken, ervaar jy ongekende gasvryheid en leer jy die hart van Tunisië ken.

Dis maklik – en moeilik – om in Tunisië te reis as jy nie net in die gewilde toeristebestemmings belangstel nie. Baie min mense is dan Engels magtig en die infrastruktuur leen hom nie tot gemaksugtige Westerlinge nie.

Daar’s g’n niks om voor skrikkerig te wees nie. Soos een Tunisiër dit so gepas beskryf: “Die Arabiese Lente in my land was net vir twee weke. Ons weet mos hoe ons buurlande met soortgelyke problem sukkel.Ons sal dit nooit aan onsself doen nie.” Sela.

Birre-birre met ‘n bus

Met die hulp van ‘n eks-kollega, Josephine Ayari, van Senegal wat Arabies en Frans magtig is, gaan staan ons sommer langs die stowwerige pad in Tebourba wat na Bizerte lei.

Eers kom daar net donkiekarretjies met geplooide omies verby. Die meeste groet vriendelik deur hul fezze so in die ry te lig.

Jy skat maar naastenby hoe laat die bus gaan verbykom en sorg dat jy vir die wis en onwis vroeg genoeg staan en wag.

Ons hoor die ou kasarm-bus voor hy aankom. Dis R25 vir die rit van twee uur van Tebourba na Bizerte; jy betaal sommer op die bus. Almal wil weet waarvandaan jy kom, waarheen jy gaan, waar jou man is en hoeveel kinders jy het.

Waarheen nou, Gehasi

Vanaf die busstasie in Bizerte moet ons ‘n taxi vind wat wéét wáár die mees noordelike punt is.

Glo dit of nie – dit word nie aangedui nie; dit word klaarblyklik maar min besoek; en boonop stry hulle nog oor watter landpuntjie nou meer as die ander in die see uitsteek.

A beautiful sky

Dis nie net die taxi-bestuurders wat stry nie; dis die Tunisiërs ook; en as jy dit probeer naslaan, stem die bronne nie ooreen nie. Eienaardig genoeg vind ek nie eers ‘n reisigersgids wat aanbeveel of selfs noem dat die mees noordelike punt in Afrika, in Tunisië, besoek kan word nie.

Our taxi to the northernmost point of Africa

Met die geluk aan ons kant nader ons toevallig ‘n taxi-bestuurder wat vantevore vir die weermag gewerk het. Hy weet presies waar, verklaar hy, en ons trek daar weg. Net een keer weifel hy voor hy ons direk na Ras ben Sakka, die mees noordelike punt van die vasteland van Afrika, neem.

Volg die punt van jou neus

Ras ben Sakka (37°21′ N) is sowat vyftien kilometer buite die ou stad sowel as die hawe van Bizerte. Dis sowat 950 meter wes van Ras al-Abyad wat sommige as die noordpunt reken, maar Ras ben Sakka is 30 meter meer noord, word daar gesê.

Ras ben Sakka staan ook as Ras Angela (of Engelah) bekend.

Volgens ons taxi-bestuurder – en van die ouer inwoners van Tebourba wat ons vooraf geraadpleeg het – is die presiese punt waar ons staan, bekend as Cap Blanc.

Van hier kyk jy oor die oseaan en dit voel of jy verder as die horison – oor die plat, blou see – kan sien. Dis in skrille kontras met dit wat jy by L’Agulhas sien as jy by die mees suidelike punt van Afrika (sowat een kilometer wes van die vuurtoring) staan.

1st look of northernmost point of Africa

Net onder jou is wit kranse; jy sien ‘n paar verlate sandstrandjies, en donkergroen duinebossies. Hier’s nie eers ‘n naambord wat aankondig dat dít is waar jy jou nou bevind nie.

‘n Stootskraper is aan’t werskaf aangesien daar wel ‘n paar mense is wat waarde aan hierdie geografiese bestemming heg. ‘n Paar villa’s is reeds voltooi; ander is in aanbou. Op die oog af blyk dit luukse vakansiehuise te wees.

Snot en trane

En toe loop die trane! Van diep suid na ver noord. Op hierdie unieke, soms onverstaanbare, kontinent van ons. My bloed is van Afrika. Ek is deel van Afrika. En nou staan ek op die mees noordelike punt en dit laat my huil.

Josephine and I went to Cap Blanc

Die taxi-bestuurder sluk-sluk, vee ‘n ooghoek skramsweg. Josephine het hom nounet vertel waarvandaan ek gereis het en hoe graag ek die noordpunt van Afrika wou besoek – nee, meemaak. Selfs die stootskraper blyk ‘n oomblik van stilte te hou.

Dis tyd vir ‘n koue bier by Bizerte se vissershawe. Afrika is nie vir sissies nie. Meer noord in Tunisië kan jy nie! MEER NOORD IN AFRIKA KAN JY NIE!

Bizerte is nie meer besig nie
Bizerte was reeds in die tyd van die Feniciërs ‘n belangrike hawe. Dis juis hulle wat die kanaal wat die Bizerte-meer met die see verbind, gegrawe het.
In die Vieux Hawe (Ou Hawe) lê vissersbootjies en vissermanne drentel op die kaai rond. Tradisionele wit en blou huisies wat deel van die medina uitmaak, omsoom ‘n deel van die hawe. Net sekere restaurantjies bedien bier sou die groot dors jou pak.

Leave a comment

Information

This entry was posted on November 30, 2018 by in Afrika and tagged .