ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Dis g’n hondelewe in Klein- en Groot-Brak: Drink Vaaljapie op ‘n stasie

First published in Die Burger, March 2012

Moenie volgende keer verbyswiep op die N2 nie. Draai af en loer in by Klein Brakrivier en daarna by Groot Brakrivier – die rivier se water is brak vandaar die naam. Daar is meer te sien as wat jy dalk vermoed.

Aan Klein Brakrivier se kant is die absolute moet-beleef die opgekikkerde stasie. Daar is by die reistema gehou en orals op die platform staan ou, verweerde soetkyse opgestapel. Jy wonder sommer watse stories hulle sou kon vertel.

Klein Brakrivier se stasie is nou 'n kuierplek sommer so op die perron (2)

Op die rand van die platform staan selfs ‘n staatsdepartement-bruin bagasietrollie vol tasse. Een koffer het‘n wit en oranje Union Castle stieker uit vervloeë dae op. ‘n Staaltrommel wat as koffietafel dien, het lank terug ‘n draai in Port Elizabeth gaan maak, net om nou hier tot ruste te kom.

In die sinkplaatgeboutjie is hekelkomberse, gedroogde blomme  (dit sien ‘n mens mos min deesdae),  ou skale en ‘n skildery van ‘n ou krok met ‘n CBS-nommerplaat. Jy kan hierbinne by ‘n ou tafel aansit of op ‘n lapbedekte rusbank buite op die platform – jou vaaljapie word by die sinkplaatgeboutjie ‘n entjie agtertoe bestel. Dis darem nie al wat bedien word nie.

Speel bal op die strand

Klein Brak het ‘n rivierstrand en ‘n see-strand. Lank en oop en wit met aan die rivier se kant ‘n vlugbalnet net reg vir speel. Leervis, kabeljou en witsteenbras lok vissermanne na die rivier. Dis gelukkig nie een van daardie strande waar daar ‘n vertrapping van mense is nie.

Soos by elke strandplek in Suid-Afrika is daar ‘n voorliefde vir huisname wat iets van die eienaars weerspieël. Vrekver  se mense woon dalk in die Vrystaat; Liewe Heksie het klaarblyklik hiernatoe verhuis; en Soutsmakie is ‘n blok of wat van die see.

Haak ‘n treiler vir al die ou meubels

Al is dit jou gewoonte om die pedaal oppad na die meer bekende dorpe plat te trap, ken die meeste vakansiegangers darem De Dekke. Met die instap ontlok ‘n sêding of twee op ‘n bord of drie ‘n glimlag by diegene wat rondkyk. Behalwe vir die amper ikoniese allemintige antiekwinkel – hier is ou plaasmeubels, kantonderrokke, nog ou tasse, kruike van koper of keramiek, Oosterse lappe, bolglasrame, eintlik eenvoudig net te veel om op te noem –  is daar ook nog De Katte-geskenkwinkel en meer as een plek om keel nat te maak.

See- en rivierlug gee inspirasie

Groot Brak is heelwat groter as sy kleinboetie. Lyk my hier hang baie kunstenaars en ander kreatiewes uit. Sit maar ‘n uur of drie opsy, want hier’s genoeg snuffelplekkies.

Een van die eerstes is die Peperboom Koffiewinkel wat lyk of die (Groot) Brakkenjanne graag hier uithang. Skuins na agter is Tafeltjiedek waarvan die naam my dadelik laat voel of ek hier wil vertoef.  Boomliefhebbers sal hul hande oor die stam van die grootste peperboom in Suid-Afrika wil laat gly.

Huise vir Poppe

‘n Entjie verder is die Pophuis Boetiek, ‘n pienk en lila geboutjie waar selfs soet dogtertjies ‘n vloermoer sal gooi as hul sien wat alles bestel kan word.

Waar die pad eensklaps na regs swenk, stop ek voor die Searle Memorial Church wat lyk of dit in die Suid-Spaanse platteland kon hoort.. Terwyl ek nog lees dat die pragtige wit kerkie uit 1930 dateer, stop ‘n vriendelike dorpenaar met sy bromponie om te beduie dat die deur oop is en ek maar na binne kan gaan. In die museum kan meer van die Searle-familie gelees word.

Die pad maak ‘n draai en hier kronkel die rivier deur die middel van die dorp.

Dalk is dit iets in die lug, maar  dit lyk of kunstenaars in Groot Brak floreer. Chris Spies skilder die mooiste kremetartbome – dis sy bome van die lewe – en jy kan hom dophou terwyl hy werk. Om die blok is L’Art in ‘n geel huis met ‘n groen dak. Dan is daar  Ouma Bettie’s met ‘n kordate pienk windpomp in die tuin.

Een van Chris Spies se Bome van die Lewe wat jy beleef eerder as sien

By Die Ou Pastorie word tee gedrink, koek gesny, geverf, in die tuin met sy koeltebome rondgedwaal, begeerlike objekte asook kuns verkoop en sommer net lekker gekuier. Die plek is kleurvol en kreatief en almal groet vriendelik asof hulle jou al jare lank ken of asof jy gereeld daar kom. Op die sypaadjie kondig ‘n swartbord aan dat hul kaiings(en afval) vanuit Die Plaaskombuis bedien. In die tuin hang blou-en-wit teekoppies, melkbekers en ‘n teepot in ‘n boom.

Na die gasvryheid van die pastorie-mense is ek eers spyt dat my tyd hier min is, want daar wag nog hoekies en draaitjies om te verken. Volgende keer draai ek weer af.

OM JOU BESOEK MAKLIKER TE MAAK

  • Vaaljapie Restaurant by Klein Brakrivierstasie: ek het ‘n voëltjie hoor fluit dat die appeltert lipafleklekker is.
  • Maak vooraf ‘n afspraak by die Pophuisboetiek deur 076 971 5082 te skakel of deur pophuise of pophuismeubels op dollhouse.co.za te bestel. Hier is ook ‘n poppedokter en –hospitaal ingeval Flaffie die gunsteling pop se been afgebyt het.
  • Beïndruk die Pophuisboetiek se mense deur jou dogtertjie(s) die volgende vooraf te leer uitspreek: Maisons de Poupées, Casa de Muńecas en Puppenhaus soos dit op die pienk bord buite geadverteer word.
  • Wees versigtig: by De Dekke is ‘n swartbord wat voorbarig aankondig dat onvergeselde kinders as slawe verkoop gaan word.
  • By Die Ou Pastorie is Laaf-klerereeks (Anneke Fritz 082 632 7202), juwele (Louise 082 298 3882) sowel as Beauty 4 Ashes (Anna Mart 074 178 2513) wat outydse kuns skep, te koop.
  • Bly oor in 3-ster verblyf by Stokkiesdraai Tuinkothuis: vergewis jou van hoe dit lyk by stokkies.co.za

 

DE VETTE MOSSEL
My tyd was min, maar volgende keer ruim tyd vir De Vette Mossel se 9-gang ete tussen my ander omswerwinge  in. Die laaste gang is boeretroos en koeksisters en hulle maak jou attent daarop dat hulle nie tee maak nie. Dus mense wat weet wat hulle wil en nie wil nie.
De Vette Mossel se tong-in-die-kies adres is Agter die naaste duin wat eintlik maar beteken dat  hulle tussen Klein- en Groot Brak aan Mosselbaai se kant lê.

One comment on “Dis g’n hondelewe in Klein- en Groot-Brak: Drink Vaaljapie op ‘n stasie

  1. Marlize Volschenk
    September 19, 2017

    Great!

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 31, 2017 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .