ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Gandhi se inspirerende tuiste

First published in Beeld, February 2017

Slaap sag by Satyagraha Huis

Katoenpanele bedruk met foto's van Gandhi in die museum

Katoenpanele bedruk met foto’s van Gandhi in die museum

Net meer as 100 jaar gelede – 108 jaar om presies te wees – het Mohandas Karamchand Gandhi, algemeen bekend as Mahatma (wat Groot of Verhewe Siel in Sanskrit beteken), Gandhi in ‘n rondawelhuis in Orchards, Johannesburg gewoon.

Tóé was daar ‘n put en ‘n koeistal neffens twee rondawels en het die eiendom as die Kraal bekend gestaan; nóú is daar sewe luukse dog eenvoudige gastekamers waar subtiele dekor jou op verskeie maniere aan Gandhi – en Indië – herinner.

Díé huis heet nou Satyagraha Huis en is in 2009 deur Voyageurs du Monde, ‘n Franse gespesialiseerde reisagentskap, gekoop en gerestoureer.

Regdeur Satyagraha Huis is dit monochroom swart en wit; die tuinkamers is lig met gordyne was soos lendedoeke gedrapeer is

Regdeur Satyagraha Huis is dit monochroom swart en wit; die tuinkamers is lig met gordyne was soos lendedoeke gedrapeer is

Satyagraha beteken letterlik ‘gryp die waarheid aan’ of ‘behou die waarheid’, maar mettertyd het die uitdrukking die betekenis van vreedsame protes soos deur Gandhi aangehang en verkondig, aangeneem.

Orals is foto's van Gandhi opgehang sodat jy nooit van sy mistieke teenwoordigheid vergeet nie

Orals is foto’s van Gandhi opgehang sodat jy nooit van sy mistieke teenwoordigheid vergeet nie

Mahatma Gandhi was ‘n diep denker en ‘n charismatiese leier. Hy het die Britse koloniale heerskappy in Indië bevraagteken en terselfdertyd onder die wêreld se aandag gebring.

Gandhi het vir die eerste keer in 1893 in Suid-Afrika aangekom en het tot 1914 hier gewoon. Hier in Suid-Afrika het hy die Natalse Indiërkongres gestig en met sy eie geld die Indiërsaak bevorder deur onder andere vreedsame protes te gebruik.

Van 1908 tot 1909 was die huidige Satyagraha Huis sy tuiste. Die rondawelhuis is in 1907 deur die Duitse argitek en lewenslange vriend van Gandhi, Herman Kallenbach, gebou.

Tydens Gandhi en Kallenbach se verblyf het hul daagliks gemediteer en fisiese oefeninge gedoen. Hulle het ‘n lewe van eenvoud gelei.

Gandhi het verkies om op die soldertjie te slaap. Om daar te kom, moes hy by ‘n leertjie opklim. Die oorspronklike leertjie is nie meer daar nie, maar ‘n plaasvervangerleertjie is steeds teen die eetkamermuur staangemaak.

Gaste wat in Satyagraha Huis oorbly, kan in Gandhi se eertydse slaapkamer – langs ‘n oopgeslane boek met ‘n ronderaambrilletjie – sit en lees of mediteer. Daar is ook ‘n bedrol op ‘n geweefde grasmat op die vloer. Dis darem nie meer nodig om met ‘n leertjie tot bo te klim nie! Dis ook nie Gandhi se oorspronklike bril nie, sou jy daaroor wonder.

Satyagraha Huis dien terselfdertyd as gastehuis én museum.

'n Spinwiel voor panele van Gandhi in die museum

‘n Spinwiel voor panele van Gandhi in die museum

In een van die vertrekke van die hoofrondawel is Gandhi se filosofiese beginsels – soos fisiese of ‘brood’-arbeid, beheer jou eetlus en jou plig teenoor jou medemens – sowel as treffende swart-wit foto’s van Gandhi op verskillende stadiums van sy lewe – op lang gedrapeerde katoenlappe gedruk wat teen die mure hang.

Op een foto staan Gandhi as jong prokureur in ‘n pak klere, op ‘n ander hou hy ‘n lang kierie vas en op ‘n derde is hy heelwat ouer en in tradisionele Indiese gewaad geklee.

Regdeur Satyagraha Huis is daar met-die-hand uitgesoekte meubels en interieurelemente soos ‘n kaartkabinet; bliktrommels; ‘n plat tafel waarby jy jouself kruisbeen voor die kaggel kan neervly; ontblote koperpype en ‘n steierstoeltjie in die stort; en glasvertoonkabinette wat as klere- en linnekaste in die slaapkamers ingespan word .

Gandhi se lewe was sy boodskap

Gandhi se lewe was sy boodskap

Baie van die meubels, materiale en beddegoed kom van Gujarat, Indië waarvandaan Gandhi afkomstig was.

Orals staan spinwiele (wat charkhas genoem word) en groot lampskerms in verskeie vertrekke herinner aan dhoti-pofbroeke wat deur  tradisionele Indiese mans gedra word.

Die kleurskema is deurgaans monochroom swart en wit; die gordyne hang soos los, ongesoomde lendeklede; en jou oog val dan en wan op nóg ‘n ou boek wat oor Gandhi handel.

Dis alles so inspirerend dat ek opsluit ‘n boek oor Gandhi lukraak in my huis wil plaas om my aan sy menswees te herinner.

In die tuin is Pride of India-bome geplant as nagedagtenis aan Gandhi. Op ‘n muurpaneel kan jy Gandhi se handtekening in elf tale insluitende Persies, Bengalie en Tamil bekyk. Saans stap jy in die geel gloed van lanterns wat op die tuinpaadjies staan, na jou kamer verder af in die tuin.

'n Opgepofte lampskerm weerkaats in die venster van die biblioteek

‘n Opgepofte lampskerm weerkaats in die venster van die biblioteek

Die kamers is elk vernoem na familielede van Gandhi of na mense wat ‘n prominente rol in sy lewe gespeel het. Daar is ook ‘n biblioteek waar jy meer oor Gandhi kan lees.

Vegetariese etes word saam met vrugtesap, koffie van Ethiopië of Kenia, tee van Indië of Nepal of rooibostee bedien.

Sou jy gaan:

Boek in teen 14h00, boek uit teen 11h00.

Geen alkohol – as ‘n teken van respek teenoor die oorspronklike inwoner van Satyagraha Huis – word op die perseel toegelaat nie.

Daar is geen televisie op die perseel nie.

Gratis wifi is wel beskikbaar.

Daar is vyf slaapkamers in die tuin en twee in die hoofhuis tesame met die museum en die mediteervertrek.

Alle vars produkte wat gebruik word, is organies en seisoenaal.

Daar is geen lugverkoeling nie. Sekere van die kamers het dakwaaiers. Daar is altesaam drie kaggels.

Dagbesoekers aan Satyagraha Huis is daagliks tussen 10h00 en 16h00 welkom. Toegang vir Suid-Afrikaners is gratis.

Besoeke aan die museum is ook gratis. Die museum is daagliks van 11h00 tot 17h00 in die somer en van 11h00 tot 16h00 in die winter oop.

Joga- en meditasiekursusse word aangebied. Vooraf bespreking is noodsaaklik.

Bespreek by: http://www.satyagrahahouse.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 21, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .