ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

!Khwa ttu – ‘n stukkie Bosveld naby die stad

First published in Die Burger, November 2017

Onthou die naam as jy weer lus is vir 'n wegbreeknaweek en nie te ver uit die stad wil ry nie

Onthou die naam as jy weer lus is vir ‘n wegbreeknaweek en nie te ver uit die stad wil ry nie

Dis nie net die uitroepteken as deel van hul naam wat !Khwa ttu so uniek maak nie. Hul hoenders – met name soos Stefanus, Marlientjie, Shereneze en Baby Rose (baie van hulle is na die personeel vernoem) – lê eiers in groen liasseerkabinette wat lyk of dit eens ‘in ‘n staatsdienskantoor diens gedoen het.

Die gelukkige hoenders by !Khwa ttu le hul eiers in liasseerkabinette - aan die een kant vlieg hulle by die oop laaie in; aan die ander kant word die laaie oopgetrek om die eiers uit te haal

Die gelukkige hoenders by !Khwa ttu se eiers is in hierdie liasseerkabinette – aan die een kant vlieg hulle by die oop laaie in; aan die ander kant word die laaie oopgetrek om die eiers uit te haal

Net langs die hoenderhok groei kankerbossie, wildeals, klipdagga, wildedagga, wildement en kapokbossie in hul groentetuin.

Genoeg rede om !Khwa ttu net buite Yzerfontein aan die Weskus te gaan besoek? Wag, jy’t nog niks gehoor nie. By hul restaurant maak hulle die beste elandburger aan die Weskus, sê hulle.

Die son gooi lang skaduwees by die ingang van !Khwa ttu

Die son gooi lang skaduwees by die ingang van !Khwa ttu

!Khwa ttu bied ‘n unieke ervaring – of eerder ervarings – wat die lewe van die San uitbeeld. Die oogmerk van !Khwa ttu is om die gees van die San met ander te deel. ‘n Besoek aan !Khwa ttu gee aan jou ‘n fassinerende insig in die kultuur, erfenis, tradisionele kennis en lewenstyl van die San.

Vanaf !Khwa ttu kan jy al die pad tot by Tafelberg sien en sommer 'n skillie se rug ook kielie

Vanaf !Khwa ttu kan jy al die pad tot by Tafelberg sien en sommer ‘n skillie se rug ook kielie

Die museum by !Khwa ttu word jaarliks deur 100 000 mense besoek en daar is planne onderweg om heelwat uit te brei. Laasgenoemde staan as die Droommuseum-projek bekend. In die huidige museumgebou is daar ondere andere ‘n foto-uitstalling en handewerk van die San te sien.  Die museum is gewild onder skoolgroepe.

!Kwha ttu se gidse vergesel besoekers op ‘n wandeling na ‘n replika-dorpie. Die toere duur sowat ‘n uur en ‘n half en word daagliks om 10h00 en 14h00 aangebied.

As jy eers met die gidse – hulle word by die Kabbo Akademie wat in een van die aangrensende geboue gesetel is, opgelei – aan die gesels raak, skeur jy jou moeilik van hul stories weg.

Jy voel of jy saam met hulle liries raak as hulle die kwa-kwa-geluid wat houtkappers maak, naboots of van die heuningvoël vertel wat jou óf weglei óf na ‘n heuningnes lok. Net om die volgende oomblik te spekuleer of hadedas juis so hard skree omdat hulle bang is dat hulle uit die lug gaan val of omdat hulle ‘n oormaat selfvertroue het, al is hulle nie besonder mooi voëls nie.

Die gidse wys eers gou vir ons waar die San hul kos sou gebêre het. Dis bo-op hul ‘gazebo’ van pale en dekgras of -riet wat vir hulle as rusplek gedien het.

Die gesprek gaan draai by die speletjies wat ons twee gidse as kinders in Kimberley se omgewing gespeel het. Van ‘n kalbas vol sand wat bo toegestop word en waaroor seuns en meisies dan stoei. Dit kan maar rof met die stoeiery en oor die stoeiery gaan, vertel hulle nostalgies. Die span wat dit regkry om al die sand uit te strooi, is die wenner.

Volkspele en bordtelspeletjies – wat later met vooruitberekening in Wiskunde op skool gehelp het – was ook gewild. As hulle nie ‘n houtbord waarin gate uitgekerf was,  gehad het nie, het hulle gate in die sand gemaak en die klippies of sade wat getel en geskuif moet word, daarin gegooi. Hoe opwindender die spel geraak het, hoe robuuster is die klippies gegooi.

Terwyl ons deur die veld stap, wys hulle waar die zebras in die verte staan. Benewens zebra – daar is sowat 42 – is daar ook elande – sowat 30 – bontebokke, duikers, springkke en steenbokke by !Khwa ttu. Ook ystervarke, wildekatte en muishonde, maar hulle gaan jy nie sommer maklik te sien kry nie.

By !Khwa ttu is twee bergfietsroetes en vier kort staproetes.

Die Groen Bergfietsroete is 10 kilometer lank. Die Rooi Bergfietsroete is 29 kilometer lank en vir meer ervare ryers. Daar is ook ‘n roete van 3 kilometer vir die kleinspan. Bring jou eie bergfiets of huur een by die sentrum.

Die staproetes is die Piekniekroete (een kilometer), die Vleilandroete (ook een kilometer), die Sandveldroete (3.2 kilometer) en die Renosterveldroete (vier kilometer).

!Khwa ttu is minder as 100 kilometer van Kaapstad. Dit beteken dat dit nie te ver vir ‘n dagbesoek is nie. Dis egter terselfdertyd ver genoeg dat dit ideaal is om andersyds vir ‘n naweek te gaan.

Sou jy wou oorbly:

!Khwa ttu bied ‘n gastehuis, boshuis, boskamp – met vyf luukse toegeruste tente – en vier boslodgekampe. Met ons verblyf in die gastehuis wou ek vir die bestuur in die oor fluister dat hulle gerus hul pryse kan opstoot.

Die boshuis is naby aan die hoofpad, maar as die verkeer eers afgeneem het, is daar geen manier wat jy dit sou raai nie. Soos die naam aandui, is jy in die bos(veld) hoewel in ‘n goed toegeruste huis waar jy van alles en almal kan vergeet wat jou nie aanstaan nie.

Die boshuis het twee kamers – elk met ‘n en suite-badkamer.

Die slaapkamer met twee enkelbeddens het die mees romantiese bad wat buite agter ‘n rietskerm en langs ‘n skaduboom is.  As jy in die bad lê, sak die son net mooi voor jou. Bo-op die bad is ‘n reuse houtdeksel met twee handvatsels wat jy eers seremonieel moet aflig. Siedaar, ‘n bad sonder ‘n stoffie of los blaartjies en grassies; al is dit buite. ‘n Laataandbadritueel beteken jy kan na die sterre kyk terwyl jy jouself inseep.

Die kamer met die dubbelbed het ‘n meer tradisionele bad, maar een muur van die badkamer is glas. Jy kyk uit op vinknessies wat ligweg aan die takke wieg as daar wel ‘n briesie waai. Net anderkant die vinknesboom strek die veld tot waar die son sak.

Beide badkamers het stortgeriewe ook.

Die leefvertrek het ‘n knus kaggel. In die boma buite is braaiplek waar jy jou tjoppies op die vuur kan gooi.

Kyk hoe dit lyk: www.khwattu.org/things-to-do/staying-at-khwa-ttu/our-accommodation/bush-house/?id=83

Hoe kom jy daar: Neem die R27 vanaf die N1. !Khwa ttu is 84,2 km vanaf Kaapstad en 4 km voor die Yzerfontein/Darling-afdraai. Jy kan nie die groot borde met hul naam op miskyk nie.

Lees meer: www.khwattu.org

Kontakbesonderhede: Stuur ‘n epos aan info@khwattu.org of skakel 022 492 2998. Jy kan ook aktiwiteite of toere direk op die webwerf bespreek.

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 1, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .