ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Oral(s) in die Overberg

First published in Rapport, July 2016

Om in die Overberg-distrik te ry, is lafenis vir die siel

Om in die Overberg-distrik te ry, is lafenis vir die siel

Daar is net ses kontinente. Daar is net een Afrika. Die mees suidelike punt is in Kaap Agulhas in die Overberg. Dís nou ‘n goeie rede om in daardie rigting te ry.

Al met die plankpad vanaf die vuurtoring na die suidpunt is daar inligtingsborde om jou meer te leer

Al met die plankpad vanaf die vuurtoring na die suidpunt is daar inligtingsborde om jou meer te leer

By die suidpunt – waar die Atlantiese en Indiese Oseaan ontmoet, maar nee, jy kan dit nie síén nie – is ‘n baken wat jou sommer ‘n knop in die keel gee as die grootsheid van waar jy jouself bevind, jou tref. Wes van die baken –  om en by 3 kilometer later – lê die wrak van die Meishou Maru, ‘n Japanse vistreiler wat in 1982 op die rotse geloop het. Oos van die baken is Kaap Agulhas Vuurtoring waarvandaan jy ‘n poskaart in hul eie posbus kan pos.

Kaap Agulhas en Struisbaai loop die een oor in die ander. Struisbaai het een van die min egte vissershawetjies wat in die land oor is. Dis nie net die tjakkies (visserskuite) wat kleurvol is nie, dis die taalgebruik van die vissers ook! Soms te veel met kleur gespek, sal sommige reken.

A good day's work with lots of yellowtail caught by the fisherfolk of Struisbaai

‘n Goeie dag se vangs

By Pelicans, ‘n sonder-fiemies restaurant waar jy nie altyd te veel van die kos of diens moet verwag nie, is ‘n ongeëwenaarde uitsig oor die kaai en bote wat wieg in die oseaan.

By Elim, die koel wynstreek van die Overberg, het Conrad Vlok, die wynmaker by Strandveld Wingerde, onlangs met sy Strandveld Shiraz 2012 stof in die oë van ‘n hele paar wynmakers aan die ander kant van die berg geskop. Dié wyn is as een van die top 12 in die SA Shiraz Uitdaging – uit 202 inskrywings – gekroon. Strandveld se Sauvignon Blanc is ook nie te versmaai nie.

BESPRE~1

Mmmm, hier eet ‘n mens lekker

Mik nou vir Black Oystercatcher Restaurant – met hul eie wyne deur die eienaar, Dirk Human, op die wynlys – om die draai. Net mooi alles uit Sandra Human, Dirk se vrou, se kombuis is heerlik verby, maar glo my, as iemand aan jou tafel die biefstukpan met parmesaan en room bestel het, en dis nie jy nie, gaan jy “kwyl van lus” soos die ou Overbergers gesê het.

Maak n draai in Elim, ‘n Morawiese sendingdorpie, met rye en rye gekleurde huisies wat diegene wat deurry, laat rem trap om eers ‘n string foto’s te neem.

Baardskeerdersbos se donkies laat hulle nie deur 'n doringdraad onderkry nie

Baardskeerdersbos se donkies laat hulle nie deur ‘n doringdraad onderkry nie

‘n Entjie daarvandaan – die pad is deesdae geteer –lê die inhamdorpie van Baardskeerdersbos. Dis seker die enigste kerkbasaar –in Maart gehou – waar witblits verkoop, en sommerso met die oggendkoffie genuttig, word. Twee keer per jaar maak die kunstenaars hul huise tydens die Baardskeerdersbos Kunsroete oop.

Terug in die hoofpad se rigting lê Bredasdorp, dorp van merino’s en kanola-velde, waar die Skeepswrakmuseum vir ieder en elk fassinerend sal wees.

As jy met die grondpad vanaf Struisbaai na Die Dam ry, begroet hierdie gesig jou as dit baie gereen het

Sorg dat jy nie nét ‘n naweek in die Overberg tjil en verken nie.

By De Hoop Natuurreservaat kan jy walvisse – of 260 voëlspesies – kyk; die De Hoop-staproete word as een van die mooiste ter wêreld beskou en The Fig Tree Restaurant het ‘n allemintige wynlys. Verblyf is in kothuise, die herehuis of die Melkkamer Manor wat ideaal vir ‘n groep vriende is.

Turkoois rotspoele steek geheimpies weg

Turkoois rotspoele steek seegeheime by De Hoop weg

Die enigste dorp-met-twee-name in die land – waarvan ek weet – is Arniston oftewel Waenhuiskrans. Dis sonder voorbehoud die mooiste vissersdorpie in die land. Die grot waarna die dorp oorspronklik vernoem is, kan met laaggety besoek word; op Arniston Hotel se stoep bedien hulle die koelste Bloody-Mary-met-selderyroerstingels sowel as oesters, viskoekies en vars vis; en by Willeen’s eet jy geurige, tradisionele geregte.

Vir ‘n klein dorpie soos Napier is daar nogal baie Engelssprekendes, en meer as ‘n handvol restaurante. By Napier Plaasstal en Restaurant eet jy die bakker van formaat, Marlene Fourie, se pasteie, die lekkerste wat ek ken. Ook die geurigste kerrie buite die grense van Indië. By Pascal’s laat die lamskenkel jou vingers aflek en oorweeg om oor te slaap. By Suntouched Inn sit jy op die stoep, knibbel aan ‘n pizza en kyk hoeveel motors met CA-nommerplate jy kan raaktel.

Waar jy ook al in die Overberg ry, sien jy die mees imposante kerke – Napier, Bredasdorp en Swellendam.

Greyton herinner aan ‘n ontwerpersdorpie met kunsgalerye en antiekwinkels wat jou beursie laat jeuk.

Neig jy na ‘n gevoel vir stadsgewoel, druk jou motor se neus na Hermanus.

Hoewel daar nie meer in elke Overbergse tuin rose en ‘n granaatboom pryk – soos wat die Audrey Blignaut, gevierde skryfster wat in Bredasdorp gebore is, so gepas beskryf het nie – roer hierdie uitgebreide distrik jou hartstringe met elke aandoen.

3 comments on “Oral(s) in die Overberg

  1. Selma Ohlsson
    April 9, 2019

    Ag lovely! Sommer feel like doing a road trip there now! I love those beautiful cloud formations!

  2. Toortsie
    April 9, 2019

    Dankie vir hierdie uitstekende bloginskrywing oor ons Overberg. Ek kon dit beslis nie beter doen nie.

  3. ilsez
    September 22, 2019

    Dankie vir jou mooi dankie en woorde. Overberg is deel van my lewe ook; al woon ek nie permanent hier nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 9, 2019 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .