ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die Lady Stanford volg nie kielwater nie

First published in Rapport, April 2019

Vaar saam op statige dame

Vooraf bespreking is noodsaaklik

Lady Stanford River Cruises is ‘n wonderlike ervaring

Lady Stanford is ‘n dame uit ‘n ander klas. Sy vaar nie sommer net saam met die stroom nie en sy vaar ook nie opsetlik teen die stroom nie. Sy laat, by wyse van spreke, die gety draai. En as die gety gedraai het en die stroom loop, dan skep sy.

Van waar kom die dame, vra jy. Lady Stanford is ‘n rivierboot wat spesiaal gebou is om op die Kleinrivier in Stanford te vaar. Die vaart begin in die dorp en loop tot by die Hermanus-riviermonding.

Die boot vaar stadig sodat passasiers die natuurlike skoonheid kan waardeer. Dit voel kompleet of die Kleinrivierberge jou omvou.

Daar is tot 120 voëlspesies insluitende reiers, arende, valke, ibisse, ooievaars, lepelaars, eende en ganse in die habitat rondom die rivier. In die omliggende Stanford-distrik is 250 voëlspesies al waargeneem.

As jy nie ‘n wafferse voëlkyker is nie en geneig is om spottenderwys na ‘n groot gros klein voëltjies as LBJ’s (little brown jobs) te verwys, kan jy daarop reken dat die skipper jou – soos vir my – uit jou verleentheid sal red.

Op die boot is ook verskeie voëlgidse om deur te blaai, voëllysies waarop jy kan afmerk wat gesien is en verkykers vir daai gevogeltes wat te ver draai.

Nie net was ons skipper se kennis van voëls uiters indrukwekkend nie, maar ons kon ook nie glo hoe goed hy was om allerhande soorte voëls van ver raak te sien en uit te ken nie.

Vanaf Lady Stanford drink 'n mens die natuurlike skoonheid in

Vanaf Lady Stanford drink ‘n mens die natuurlike skoonheid in

Ons was uiters gelukkig om drie visarende – ‘n broeipaar met ‘n jongeling – te sien waar hulle hoog in ‘n boom met ‘n goeie uitsig oor die rivier gesit het. Toe ons boonop hul kenmerkende roep hoor, was ons in ekstase. Dit klink inderdaad soos ‘die stem van Afrika’ soos wat die roep van die visarend soms bekend staan.

Soms word otters en waterskilpaaie ook opgemerk.

So moet 'n mens op die Lady Stanford ontspan terwyl die skipper sy voelkennis en staaltjies oor die omgewing deel

So moet ‘n mens op die Lady Stanford ontspan terwyl die skipper sy voelkennis en staaltjies oor die omgewing deel

Ons skipper het nie net sy voëlkennis gedeel nie, maar ook vir die bootpassasiers meer oor die geskiedenis van die area sowel as ‘n paar amusante staaltjies vertel.

Moenie stroomop wees nie; bespreek ‘n vaart op die Lady Stanford – jy sal nie spyt wees nie!

Werd om te weet:

Wanneer:

Met sonsopkoms 8h00 – 10h00

Laatoggend 10h30 – 12h30

Oor middagete 13h00 – 15h00

Laatmiddag 15h30 – 17h30

Met sonsondergang 18h00 tot die son sak

Afhangende van die seisoen kan die tye soms ietwat wissel.

Waar: Langs die sleephelling op die hoek van Kerk- en Du Toitstraat, Stanford

Draai regs by die eerste straat, Daneelstraat, na jy Stanford binnegery het.  Draai links in Du Toitstraat wat jou tot by die sleephelling sal neem.

Koste: R225 per persoon. Alternatiewelik kan as ‘n groep bespreek word. Die Lady Stanford kan maksimum 26 passasiers akkommodeer. Om die boot vir ‘n eksklusiewe vaart te bespreek, kos R3000. Bespreking is noodsaaklik.

Piekniek: Jy kan óf jou eie piekniek pak óf vooraf ‘n piekniekmandjie by die Lady Stanford bestel. ‘n Piekniekmandjie vir twee bevat ‘n verskeidenheid brode, kase, kouevleise, slaaie, patee en nagereg en kos R395. Verskillende soorte pizzas teen R130 elk kan ook bestel word.

Pak jou eie drankies en piekniek in - as jy jou self in die Overberg bevind, bestel by Table Cafe; Lady Stanford verskaf glase en ys

Pak jou eie drankies en piekniek in; Lady Stanford verskaf glase en ys

As jy van Bredasdorp se kant kom, bestel jou piekniekhappies by www.tablecafe.co.za en verlustig jou daarin hoe jaloers die ander passasiers is oor waaraan jy knibbel.

Op die boot: Voëlgidse, voëllyste, verkykers, komberse, glase, ys en ‘n chemiese toilet

Besprekings: bookings@ladystanford.co.za

Lees meer: www.ladystanford.co.za

                                        * * * Die geskiedenis van Stanford * * * 

 Die eerste keer wat Stanford, toe nog bekend as Kleijne Rivier, opgeteken is, was in 1707 toe die hooftuinier van die VOC, Jan Hartog, tydens ‘n ruilhandelreis na die Overberg beeste in die omgewing laat wei het.

In 1838 het ene Robert Stanford saam met sy vrou vanaf Brittanje na die Kaapkolonie geïmmigreer. ‘n Ruk later het Stanford die plaas Kleine Riviers Vallei gekoop. In 1865 (volgens ander bronne was dit in 1857) is die dorp Stanford op die plaas uitgelê.

                              * * * Wat kan jy nog in die Stanford-omgewing doen * * * 

Die pragtige NG Kerk is Stanford se trots

e pragtige NG Kerk is Stanford se trots

 Die NG Kerk is ‘n besonderse sandsteengebou. Die kerk is ontwerp deur die argitek Wynand Louw. Louw het ook Napier se pragtige kerk ontwerp.

  • Ontspan by Yum Eat Café, Table 13 of La Trattoria, eet roomys by Don Gelato, koop antiekware of heuning by The New Junk Shop en loer in by Stanford Trading Store in die dorp self.
  • By Klein River Cheese kan jy nie net ‘n reeks uitstekende kase koop nie, maar ook piekniek hou. By hul Picnic Shed-deli is vars produkte uit die Overberg-distrik te koop. Jacko van Beulen is reeds 25 jaar lank die kaasmaker op die plaas.

www.kleinrivercheese.co.za

  • By Stanford Hills kan jy in een van twee kothuise of in ‘n luukse tent – daar is vyf tente – oorbly. Die Tasting Room Restaurant bied uitstekende kos (die spyskaart verander daagliks) en jy kan ook hier wynproe. Van die plaas se eie proteas en speldekussings word verkoop. Stanford Hills is bekend vir hul musiekkonserte waar Louise Carver, Arno Carstens, Watershed en Ard Matthews al opgetree het. Op Paassondag maak GoodLuck hier musiek; kosstalletjies en ‘n kontantkroeg sal beskikbaar wees.

www.stanfordhills.co.za

 

 

 

 

 

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 28, 2020 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .