ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Suurbraak: Waar die tyd nou nog stilstaan

First published in Die Burger, September 2014

Suurbraak – langs Buffeljagsrivier, maar net by wyse van spreke – is in 1812 as sendingstasie gevestig. Dit voel amper of nie veel sedertdien verander het nie.

OLYMPUS DIGITAL CAMERA

Hierdie ou sendingdorpie is op die oewer van die Kleinrivier geleë. Kleinrivier is tagtig kilometer lank, maar tog is dit die rivier met die kortste afstand tussen sy oorsprong en sy monding in die hele wêreld  – slegs vyf kilometer soos wat die kraai vlieg.

Die boustyl van die huisies is tipies van nedersettings van daardie tyd; skape wei in voor- en agtertuine (soos lewende grassnyers wat blêr); ‘n verdrietige donkie balk luid; ou gekopdoekte tannies loer oor onderdeure; lui katte lê in die son en slaap; en stowwerige honde blaf hulself hees.

‘n Hele paar huisies het individuele bruggies oor ‘n waterkanaal na hul draadhekkies. As jy gelukkig is, sien jy ‘n perde- of donkiekarretjie. Blykbaar gebruik baie van die inwoners nog ou koolstowe.

Mik vir Suurbraak

‘n Mens ry nie toevallig verby Suurbraak nie; jy moet vanaf die N2 afdraai om spesiaal daar uit te kom. Vanaf Swellendam is dit net duskant twintig kilometer tot jy by hierdie dorpie tussen die Langeberge uitkom.

As jy regdeur Suurbraak ry, ry jy ‘n paar kilometer verder deur die mooie Tradouw-pas wat jou na Barrydale neem.

Suurbraak vra egter vir meer as ‘n deurry. Moenie voet in die hoek sit nie; luier deur die dorp en vind die plekkies wat jou roep om ‘n wyle te vertoef.

Geen bitter (of suur) smaak in die mond

Lank terug was die San-benaming vir Suurbraak Xairu – wat pragtig of paradys beteken – genoem. So word dit trots op hul verwelkomingsbord vertoon.

Die naam Suurbraak het nie ontstaan as gevolg van brak grond soos baie besoekers aanneem nie. Hollandse avonturiers het ‘n tipe varing genaamd zuurbraak hier aangetref en die area daarna vernoem. Baie van hierdie varings word steeds in die rivierbeddings aangetref.

Omring deur berge met heelwat akkerbome en redelik verwaarloosde huisies met lendelam heinings is die dorpie steeds strelend op die oog.

Bekslanerhekke en parate honde

Hou ‘n oog oop vir die smoelslanerhekke wat ‘n mens nie sommer meer teëkom nie. Ook op die hondwaarskuwingsborde. Een lui sonder seremonie: “Pasop. Jy sal gevreet word.”

‘n Ander verkondig: “Oppas. As die honde kom, lê plat en wag vir help. As niemand kom … sterkte.” By hierdie spesifieke huisie genaamd Pondjie Botter is daar ironies genoeg nie ‘n hond van ‘n dag oud in sig nie. Net twee astrante katte.

Die dorpsmeent is groter as ‘n rugbyveld. Die pragtige kerkgeboutjie van die Verenigende Gereformeerde Kerk van Suider-Afrika het in 2012 sy 200-jaar oue eeufees gevier. Die kerk spog met ‘n rietdak; die toerismekantoor net ‘n klipgooi verder het ‘n geboë sinkplaatnok.

Die toerismekantoor is net mooi 1.5 kilometer vanaf die uithangbord aan die begin van die dorp as jy vanaf Buffeljags inry.

So ‘n karnallie

Eerwaarde Seidenfaden was die eerste verteenwoordiger van die Londense Sendinggenootskap wat hier in bevel was.

Maar soos Wikipedia dit so gepas stel: Omdat Seidenfaden die geestelike belange van sy kudde aan die bevordering van sy eie stoflike belange ondergeskik gestel het, is hy in 1825 ontslaan.

Na hierdie ongelukkige sameloop van omstandighede was lede van dieselfde familie – sommige van hulle aangetroud – vir meer as honderd jaar in beheer van hierdie sendingstasie.

‘n Lemmetjiegroen tuisbedryf

Spensjolyt se fleurige lemmetjiegroen mure roep jou na binne. ‘n Spaansrietprieël gooi streepskaduwees. Sit aan vir skons of melktert, koeksisters, kolwyntjies of klapperys. Neem ‘n pastei – daar is verskeie vulsels insluitende wildsvleis om uit te kies – vir padkos.

Die rakke is volgeprop met een- of tweelaagkoeke; Tant Pop se vye en Tant Lenie se suurlemoenstroop (of was dit nou andersom?); Spensjolyt se eie heuning; iemand anders se tamatiekonfyt en nog allerlei daarby.

Net ‘n entjie af in die boomryke straat is Paradise Organic. Dit was ongelukkig toe met ons besoek. Dis ‘n dagrestaurant waar van die plaaslike kuns te koop is.

‘n Van Gogh-stoel of nie

Moet net nie Xairu Rustic Garden Furniture misry nie hoewel dit maar sal knor om dit reg te kry. Op die sypaadjie staan ‘n kruiwa vol vuurmaakhout waaraan laslappies soos gebedsvlaggies wapper. Pak sommer jou kattebak sommer vol kaggel- en braaihout teen ‘n prys wat jy nêrens in die stad sal raakloop nie.

Xairu se kreatiewe heining bestaan uit allerhande krom takke met kinkels en draaie. By hierdie winkel van PL Botha koop jy tuinmeubels en tuinhoutskerms teen ‘n appel en ‘n ei. Bloekom, populier en akkerhout word gebruik.

Loer in die agterste vertrek na die lessenaar wat vanaf dag een diens by die besigheid doen. Ek wonder hoeveel aanbiedinge daar al vir hierdie einste lessenaar gemaak is.

Verblyfopsies in Suurbraak
·        The Green Fig Gastehuis is in die middel van die hoofstraat.
www.swellendamtourism.co.za/sleep/the-green-fig-guesthouse/
·        ‘n Selfsorg-gastehuisie vir rugsakreisigers is ‘n hanetree van Spensjolyt geleë.
www.tradersproperties.co.za/template/Property.vm/propertyid/138

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 15, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .