ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

MONTAGU – ‘N DORP MET GROEN HORTJIES EN WIT ROSE

First published in Die Burger, August 2013

(Since this article has been published some places have closed down or changed ownership)

Spits dakvenstertjies en rose

Ek moet bieg dat ek Montagu ‘n oneer aangedoen het deur slegs ‘n warrelwindbesoek hier af te lê. Die kuierproeseltjie het my net lus gemaak vir meer.

'n Stil oggend in Montagu

Dis so ‘n allermooie dorp met kenmerkende argitektuur, baie bome, inloerplekkies en boonop ‘n mooi pad waarlangs jy ry om hiernatoe te kom. Montague is deel van Roete 62 en kan met ‘n Dorp van die Jaar-toekenning spog.

Dwarrel deur Montagu

Tipiese Montagu kothuisies

As jou tyd – soos myne – min is en jy nie soos ‘n hiperaktiewe woelwater wil voel nie, sou ek aanbeveel dat jy die strate van Montagu te voet aanpak. Of jy dit met of sonder kamera doen, hang af van jou belangstellingsveld, maar dit maak nie regtig saak nie.

Ywerige tuiniers sal in Montagu se stil buurte die een groen lushof na die ander sien. Rose gedy in hierdie streek se grond, of so kom dit voor. Granaatbome groei nog in dorpstuine. Ek sien selfs ‘n worsboom – ag toe nou, hou jou in, daardie grappie is nie baie oorspronklik nie.

'n Romantiese soldertrap laat 'n mens wonder wat daarbinne aangaan

Die worsboom of Kigel(i)a Africana is oorspronklik uit Wes-Afrika afkomstig en die boom wat ek sien, is in 1988 in Kerkstraat, Montagu aangeplant – so lui die bordjie voor die boom. Die einste boom is moontlik die mees suidelike worsboom in Afrika. O ja, die naam is na aanleiding van die lang worsagtige peulvrugte.

Groen dakke en wit mure, groen struike en wit rose

'n Leksel pienk op die mure en 'n roostuin wat blom

Dis nie net in Montagu wat hierdie tipiese argitektuur besigtig kan word nie, maar dis opmerklik hoe baie geboue en huise aan ‘n tipiese styl voldoen. Spits dakvenstertjies, streepdakke, skerp nokke, hortjies, broekieslace, gewelhuise en soldertrappe in wawye strate.

Die NG Kerk verrys aan die einde van Kerkstraat. Blykbaar was die kerk eers wit geverf, maar dit het geblyk te verblindend te wees as die son skyn waarna dit in ‘n sagter kleur geverf is.

By die Zolani Vaardighede-sentrum staan vrolike bliktarentale op die sypaadjie. Roesharte en –kruise hang teen die muur en batikdoeke wapper lui in ‘n skaars merkbare briesie. Tradisionele kralewerk, eikehoutmeubels, handgemaakte prenterame en les bes, kaasborde word ook hier verkoop.

Die dorp spog met meer as een kunsgalery – dit lyk egter of nie almal elke dag oop is nie.

Verwyl tyd hier

Koop kuns, eet lekker en kyk uit vir katte in Montagu

By The Olive House skree ‘n voorbarige papegaai kordaat by die voordeur. Hy maak alles en almal na en sy wolwefluit(e) gaan jou gewis vies laat omkyk. Steur jou nie aan hierdie vent nie en gaan loer hoe die buite-gemakshuisies in die tuin lyk.

The Olive House is die tweede oudste gebou in die dorp; die huis is in 1854 gebou. Saterdae word hier Art in the Garden gehou. Jy kan na kitaarspel kom luister of self kom sit en skilder. Uit die 45 kunstenaars wat in die dorp woon, stal 30 hier uit, word ek vriendelik meegedeel.

In Montagu kan 'n mens jou verkyk aan die mooie daknokke

Sit aan vir Kroasiese disse soos gansgoelasj, chacha (speserywors) of raznjici (varksosatie); of speel veilig deur geelstert, bobotie, bredies (“warmpotjies”) of koedoe te bestel.

Joubert Huis – deesdae ‘n museum – is in 1853 gebou en, sover mense weet, die oudste woning in Montagu. Die inheemse medisinale kruietuin is dit waarvoor Joubert Huis mees bekend is. Boererate en kruiekonkoksies word ook hier te koop aangebied. Elke laaste Vrydag van die maand word hier regte boere-melktert om tienuur soggens bedien. Sorg dat jy betyds is – ‘n skyf melktert is nie te versmaai nie.

DSC_1360

By The Rambling Rose staan ‘n wa op die stoep en as jy oor die drumpel tree, twienkel ‘n kleurvolle kitsch kandelaar aan ‘n rietplafon. Iets aards, en iets boheems – so voel dit. Skaf tuisgemaakte muesli of tuisgebakte beskuit aan – of doen navraag na hul kostema-aande. Locarno is dié plek vir songedroogde vrugte, rosyntjies, neute en konfyte.

Voor ek weer weggaan

Te voet sien ek ‘n Italiaanse restaurantjie en Ye Olde Tavern, ‘n familierestaurant (die kombuis sluit reeds om 21h30) asook die Thomas Bain Kroegie.

Ek lees eers van Montagu se warmwaterbronne. Toe van Die Stal buite die dorp wat ontbyt en tee met gebak in die ope lug bedien. Van die Victorian 1906 met sy eie spoggerige restaurant en van die Montagu Wynboetiek. Ek wens terstond elke dag het meer ure tot sy beskikking gehad.

RY SIT-SIT SO OP ‘N TREKKER EN WA
·        Op Protea Plaas (www.proteafarm.co.za) word reeds sedert 1985 trekkerritte in die Langeberge aangebied. Hoewel ek dit nog nie self beleef het nie, het ek deur die jare al oor en oor gehoor van die wonderlike uitsig en die lekkerte van die ervaring.
·        Protea Plaas is so 29 kilometer vanaf Montagu in die Koo-Vallei geleë.
·        Op die webtuise kan jy ook ‘n 3-gang potjiekos-ete sowel as kothuisverblyf bespreek.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 30, 2018 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .