ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Elke plek het sy kroeg

First published in Rapport, January 2019

Die wêreld – en sy restaurante en kroeë – ís ons woning

Time for lunch

Elke plek het sy kroeg… en restaurant

 Soos wat stede en dorpe regdeur die wêreld besienswaardighede het wat jy móét sien, is daar ook‘n weggesteekte restaurantjie, ‘n kuierkroeg, ‘n knus koffiewinkel wat die siel van ‘n plek vasvang.

Soos die Taj Mahal in Agra, Indië, die Eiffel-toring in Parys, Frankryk, die piramides in Kaïro, Egipte is daar Café Tortoni in Buenos Aires, Argentinië, Harry’s Bar in Venesië, Italië en Yeliseev Deli Emporium in Sint Petersburg, Rusland.

As die reisgogga jou eers behoorlik gebyt het, leer jy gou dat verandering van spyse eetlus bring. So lui die ou spreekwoord mos.

Café Tortoni en Bar Plaza Dorrego in Buenos Aires, Argentinië

Café Tortoni het vir die eerste keer in 1858 sy deure oopgemaak. ‘n Franse immigrant wat vermoedelik terug huis toe verlang het, het dié koffiewinkel na ‘n Paryse kafee vernoem.

As jy Café Tortoni binnestap, voel dit asof jy op ‘n magiese manier ‘n ou foto betree.  Die stug kelners dra strikdasse en swartmanelpakke, die plafon is van loodglas, die houtpaneelmure is behang met ou skilderye en vanmelewe se advertensies, op marmertafels pryk kosbare, gebrandskilderde Tiffany-glaslampskerms en glimmende houtpilare staan in gelid van voor tot agter.

Die portenos (inwoners van Buenos Aires) besoek Café Tortoni nog net so flink as toe hul deure die eerste keer geopen het. Warmsjokolade met churros (diepgebraaide deegvingers) is regdeur die jaar ‘n gewilde bestelling. Gereelde klante sit graag in die biblioteek; ander speel biljart, dobbelsteentjies of domino’s.

‘n Sitkamerteatertjie sit volgepak tydens gereelde jazz- en tangovertonings.

Cafe Tortoni het hul eie klein teatertjie waar jazz- en tangovertonings gehou word

Cafe Tortoni het hul eie klein teatertjie waar jazz- en tangovertonings gehou word

Dís soos ‘n kroeg moet wees. Bar Plaza Dorrego is ietwat verweer, ‘n bietjie so-gemaak-en-so-laat-staan en ‘n aks traak-my-nie-agtig.

Bar Plaza Dorrego is oorkant die Dorrego-plein in die hartjie van die boheemse buurt, San Telmo. Op Sondae word daar antiekmark op die plein gehou. Glip uit en koop een van die blougroen sodasifone soos dié wat op die rakke in die kroeg stof vergader, by een van die stalletjies.

Bar Plaza Dorrego bedien onuitgedopte grondboontjies as kroeghappies. Almal gooi die doppe netso op die vloer; grimmige kelners vee elke af en toe rondom jou terwyl Argentynse paartjies spontaan tango wanneer die lus hul oorval.

Straatkunstenaars tango ook op die plein wanneer daar nie mark gehou word nie.

As jy ‘n babbelas het of ‘n geheelonthouer is, bestel die submarino, warm melk met ‘n titseltjie sjokolade bygeroer.

www.cafetortoni.com.ar/en/

Kyk op Facebook na Plaza Dorrego Bar & Grill en na hierdie video wat binne die kroeg geneem is:

www.facebook.com/romagnoli.daniele/videos/10215318650832999/

Harry’s Bar in Venesië, Italië

Harry

So het die jong Harry gelyk – Illustrasie deur Hanlie Malan

Jy weet jy bevind jou in hogere geselskap as jy agterkom wie al almal by Harry’s Bar uitgehang het.

Woody Allen, Nicole Kidman en Helen Hunt loer gereeld in as hulle Venesië besoek. Truman Capote se gunsteling was die garnaaltoebroodjies en dit was nie vreemd vir Orson Welles om twee bottels Dom Perignon op ‘n slag in dié klein kroegie te drink nie. Ernest Hemingway, ‘n gereelde kliënt, het selfs oor Harry’s Bar in sy boek, Across the River and into the Trees, geskryf.

Die klassieke perskebellini is deur Giuseppe Cipriani, die stigter van Harry’s Bar, uitgedink.

By Harry’s Bar gebruik hulle prosecco (Italiaanse vonkelwyn) en witperskemoes (puree) in hul bellinis en dit word in yskoue glase bedien.

By Harry's Bar is dit 'n ritueel om 'n foto van jouself by die ingang te neem

By Harry’s Bar is dit ‘n ritueel om ‘n foto van jouself by die ingang te neem en Seugnet Viljoen doen dit op die daad voor ons na binnegaan

www.cipriani.com

Kupetz Eliseevs Deli Emporium in Sint Petersburg, Rusland

As jy in Nevsky Prospekt, die hoofstraat van Sint Petersburg, afstap, is dit onmoontlik om Kupetz Eliseevs Deli Emporium se vertoonvensters mis te kyk. Jou oog vang óf die ongewone bont animasiefigure óf hul dansbewegings. Net daarna sien jy hoe elke voetganger onwillekeurig stop om hul aan die skouspel in die winkelvenster te verkyk.

‘n Bakker balanseer ‘n hemelhoë roomkolwyntjie op sy kop, ‘n slagter staan op ‘n blikkie en hou ‘n haas aan sy ore vas, ‘n olifant in polvye dans met ‘n wors op sy skouer en ‘n langneusheer met ‘n pers baadjie stoot sy vriend in ‘n kruiwa.

Sodra jy Eliseevs binnestap is dit ‘n saak van erns. Eliseevs doen al sedert 1903 besigheid in ‘n manjifieke Art Nouveau-gebou. Van 1917 tot 1990 is die winkel deur die staat bedryf en het dit as Gastronom Nommer 1 bekendgestaan.

Neffens ‘n vleuelklavier kan jy deesdae tee of sjampanje drink terwyl jy die loodglasvensters, vergulde spieëls, goue kandelare en die produkte bekyk. Daar is aparte vertoonkaste vir Franse gebak, kase en charcuterie, gerookte salm en kaviaar, wyn, wodka en sjampanje.

www.kupetzeliseevs.ru/en/

Beleef Kupetz Eliseevs vanuit jou gemakstoel: www.youtube.com/watch?v=uc6CjMnj5TE

The House At Two Marys, Cesky Krumlov, Tsjeggiese Republiek

Die dorpie Cesky Krumlov in die Tsjeggiese platteland is tussen die kronkels van ‘n rivier geleë. Orals waar jy in die kleine dorpie loop kan jy die rivierwater hoor murmel.

The House at Two Marys is ‘n donkerige kroegie in een van die 500-jaar-oue huise. Toe die huis in 1950 gerestoureer is, is twee muurskilderye van die Maagd Maria ontdek waaraan dié kuierplek sy naam ontleen het.

Die eerste muurskildery is tussen twee vensters op die eerste vloer. Die tweede muurskildery dateer uit 1714 en slegs ‘n gedeelte daarvan het behoue gebly. Volgens die Duitse titel van hierdie skildery kan daar afgelei word dat die inwoners van die huis vir Moeder Maria om beskerming genader het.

The House at Two Marys het in 1990 sy deure geopen.

Ons het omtrent gesukkel om te kies waar ons wil sit: onder in vertrekkies met lae plafonne, op die eerste verdieping waar selfs die vensterbanke as tafeltjies ingespan word of by ruwe houttafels op’n terrassie aan die oewer van die rivier.

The House at Two Marys bedien plaaskos soos koolsop met aartappels, gerookte vleis met aartappelkluitjies en geroosterde karp. Om te drink is daar Eggenberg-bier, kraffies huiswyn en Turkse koffie.

Koffie word dringend benodig

Eers ‘n aand-, toe ‘n oggendbesoek aan Two Marys

www.2marie.cz

Icebar Stockholm, Icehotel in Stockholm, Swede

Icebar by Icehotel Stockholm is die wêreld se eerste permanente yskroeg. Álles is van ys – die mure, toonbank, sitplekke, muurkuns en die glase! Net die kasregister is natuurlik nie van ys nie.

Die Icebar is in 2002 gebou. Elke jaar in April word vars ys vanaf die Tornerivier hiernatoe vervoer sodat die yskroeg vernuwe kan word.

Binnein die yskroeg is die temperatuur ‘n konstante minus sewe grade Celsius. Daarom kry jy saam met jou ingangsfooi ‘n jas wat soos ‘n lang tjalie lyk en spesiale handskoene.

Toegangskaartjies kos sowat R315; by die prys is jou eerste wodkadrankie ingesluit. Die meeste mense kuier net sowat 40 minute in die yskroeg; daarna raak dit net eenvoudig te koud.

In verskeie stede in Europa, en ‘n paar ander lande, is daar noual Ice Bars, onder andere in Praag.

 www.icebarstockholm.com

Gloria Veinikelder in Tallinn, Estland

Gloria Veinikelder is letterlik binnein die wye Middeleeuse stadsmure van Tallinn, die hoofstad van Estland. Dit voel of jy deur ‘n muur stap; eensklaps is jy omring deur derduisende bottels wyn en kershouers en kandelare in die een vertrekkie na die ander.

In een kamer is selfs ‘n hoekie met Suid-Afrikaanse wyn.

By swaar houttafels met gestoffeerde stoele word ligte etes sowel as tradisionele Estlandse geregte en Europese cuisine bedien. Bokant klein hoektafeltjies hang onderstebo silwer ysemmers wat as lampskerms ingespan word.

www.gloriaveinikelder.ee/en/

Quanjude Roast Duck Restaurant in Beijing, China

As jy eers eenmaal Peking-eend geëet het, smaak geen ander eenddis ooit weer só lekker nie.

Die restaurantketting Quanjude spesialiseer sedert 1864 in eendgeregte. Daar is tien takke net in Beijing alleen.

Al verkoop hulle jaarliks meer as twee miljoen eende op 400 verskillende maniere gaargemaak aan vyf miljoen klante, is dit geensins kitskos wat jy hier kry nie. ‘n Tradisionele resep word gebruik en die eend op jou bord is konsekwent van dieselfde gehalte en dieselfde geur.

Moenie huiwer om in te stap by ‘n restaurantdeur waar jy ‘n skouerhoogte geel eend met ‘n oranje snawel sien staan nie.

www.chinahighlights.com/beijing/article-quanjude-roast-duck-restaurant.htm

Modern Nomads in Oelan Bator, Mongolië

As jy in Rome is, maak jy soos die Romeine, word daar gesê. En as jy in Mongolië is? Dán eet jy skaapkop. Soos die Mongoliërs dit doen.

By Modern Nomads in Oelan Bator, die hoofstad van Mongolië, sit sakemanne en toeriste aan vir skaapkop wat binne in die skedel bedien word. Die skoongewaste skedel dien as jou opskepbak.

Op die spyskaart van hierdie deftige restaurant word die gereg ‘Head of Herd’ (сүргийн толгой in Mongolies) genoem. Die lamswange, snoet en tong word apart gaargemaak en dan terug in ‘n skedel geplaas. ‘n Groen grasserige sousie word daarby bedien.

Dis beslis ‘n belewenis om skaapkop só te eet!

www.nomadsgroup.mn

 

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 7, 2019 by in Afrikaans foodies and tagged .