ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Sit ‘n pontrit op jou emmerskoplysie

First published in Die Burger, September 2019

Ponte is al orals in Suid-Afrika – behalwe op enkele plekke – deur brûe vervang. Die definisie van ‘n pont is ‘n drywende brug – dit maak sin as jy dink dis die manier waarop jy van een kant van ‘n rivier na die ander kant kom sonder dat daar ‘n vaste struktuur voorkom.

Die laaste handgedrewe pont in Malgas, Overberg

Malgas (of Malagas) is ‘n gehuggie op die regterwal van die Breederivier in die Overberg. Dis sowat 25 kilometer van Witsand en 30 kilometer vanaf Swellendam. Dis nie regtig ‘n dorpie nie, want dis te klein, hoewel daar wel ‘n hotel, die Malagas Hotel, is.

Die laaste handgedrewe pont in Suid-Afrika is in Malgas. Dié pont dateer uit 1914.

Dis die enigste manier (behalwe per boot) om in hierdie deel van die Overberg – in die omgewing van Witsand en Infanta wat aan teenoorgestelde kante van die riviermond lê – oor die Breederivier te kom.

In die ou dae was dit die enigste manier wat die mense hier rond kon handeldryf. Goedere is per skip vanaf Kaapstad na die mond van die Breederivier gestuur. Dit was vinniger as om ossewaens te gebruik, want dit het die ossewaens tot drie weke geneem om vanaf Kaapstad tot in Swellendam te kom.

Heelwat skepe het egter by die monding van die rivier, waar ‘n groot sandbank lê, óf hul vrag verloor óf gesink.

Joseph Barry, ‘n Londenaar wat in 1819 in Suid-Afrika aangekom het, het die besigheidsgeleentheid raakgesien en ‘n stoomskip van 150 ton in Skotland laat bou. Dié skip was bekend as die Kadie. Die Kadie se nooiensvaart was in 1859.

Die Kadie het van Kaapstad tot by die mond van die Breederivier en vandaar 40 kilometer in die rivier op tot by Malgas gevaar. Vanaf Malgas is die handelsgoedere na plase in die Overberg versprei.

Helaas, in 1865 het die Kadie op die rotse geloop en vergaan.

Die koms van spoorlyne het ook die seeroete tot ‘n einde laat kom.

Die pont by Malgas wat nog steeds in gebruik is, word deur twee mans op ‘n slag met behulp van ‘n kabel en kettings getrek. Die totale afstand oor die rivier is sowat 120 meter. Daar kan drie voertuie of ‘n vrag van tien ton op een slag op die pont – amper soos ‘n reusehoutvlot – gelaai word.

Dit kos R58 per voertuig om van een kant na die ander met die pont te ry.

Malgas se pont is die enigste handgedrewe pont in Suid-Afrika

Malgas se pont is die enigste handgedrewe pont in Suid-Afrika

Op die dag wat ‘n groepie van ons net vir die lekkerte heen en weer met die pont gery het, was Khomzekile Zenze aan diens. Hy werk reeds 12 jaar (een van sy kollegas is reeds 24 jaar op pontdiens) op die pont en is passievol oor dit wat hy doen.

Toe ons vra of ons self kan probeer trek, stem hy dadelik gewillig in en help ons om een vir een die bande om ons lyf te sit. Met ‘n geoefende pols gooi hy die ketting om die kabel.

‘n Entjie se trek is toe nie so moeilik nie, maar ek kan my net indink hoe jy na ‘n dag se beur voel.

Ek lees na die tyd op Tripadvisor dat dit vir hom gevoel het of hy deel van ‘n storieboek uitmaak toe hy met die pont oor die rivier ry. Doen dit, beveel hy aan, net om te kan sê jy het dit al beleef.

Ek beaam dit heeltemal.

  Steek die grens oor by Sendelingsdrif, Noord-Kaap

Hoe gemaak as jy die Oranjerivier ver wes van die N7, vér van Vioolsdrif en Noordoewer, moet oorsteek?

Voor die enjingedrewe pont wat huidiglik by Sendelingsdrif in gebruik is, het dit beteken dat veral besoekers aan die Richtersveld-park amper 500 km moes ry om van die een kant na die ander te kom.

Die oorspronklike pont is in die sewentigerjare deur Rosh Pinah-myn gebou. Ses staaldromme moes sorg dat die pont nie sink nie. Voertuie moes agterstevoor op die pont stilhou, want die pont het omgedraai terwyl die rivier oorgesteek is. Daar word steeds staaltjies vertel oor hoe verskeie motors oor die jare in die rivier beland het.

In die tagtigerjare het die pont twee keer, toe die rivier in vloed afgekom het, weggespoel.

Fred van der Colf, ‘n mynbestuurder by Rosh Pinah, het die volgende pont gebou wat diens gedoen het tot ‘n vloed in 1998 ook dié pont laat strand het.

Die huidige pont kan op een slag twee viertrekvoertuie of een voertuig met ‘n treiler vervoer. Die pont word deur twee 60-perdekrag enjins gedryf.

Jy kan net van 8h00 tot 16h00/16h30 oorry. Die vaart neem minder as vyf minute.

Sendelingsdrif is ‘n klein grenspossie tussen Suid-Afrika en Namibië. Dis sekerlik die informeelste grenspos in Afrika asook die grenspos wat die minste tyd verg om van een land na ‘n ander te gaan!

Aan Suid-Afrika se kant is, behalwe die kantoortjie van die grenspos, die hoofhek van die Richtersveld Nasionale Park, deel van die Ai-Ais/Richtersveld Oorgrenspark. Dit kos R150 per motor en jy betaal by SANParke se kantoor aan die Suid-Afrikaanse kant.

'n Blik op die Oranjerivier vanaf Sendelingsdrif se pont

‘n Blik op die Oranjerivier vanaf Sendelingsdrif se pont

Aan die Namibiese kant is die grensposkantoor net so klein. As jy vanaf Namibië die Oranjerivier wil oorsteek, laat roep die Namibiese grenspersoneel die pontwagter om oor te kom. Jy kan in Suid-Afrikaanse rand of in Namibiese dollar betaal.

Maak vooraf seker dat die pont loop. As die water te laag of baie hoog is en as die wind te sterk waai, is daar nie ‘n pontdiens nie. Wees ook gewaarsku dat selfoonontvangs in die omgewing redelik beperk is.

Die Keiriviermonding se pont

By die mond van die Keirivier is ook ‘n pont. Eintlik is daar twee, maar die tweede een word net gedurende skoolvakansies gebruik.

Die pont is 365 dae van die jaar in gebruik, behalwe as die rivier in vloed is of die gety te laag is.

Dis kos R90 per voertuig.

Lees meer oor die Keiriviermonding se pont by: www.keimouth.co.za/activities/the-pont/

2 comments on “Sit ‘n pontrit op jou emmerskoplysie

  1. Toortsie
    March 8, 2020

    Malgas se pont -my wêreld daai

  2. ilsez
    March 25, 2020

    Myne ook… give or take a few kilometres, Toortsie!

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 6, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .