ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Baaikers ruk op na Mosselbaai

First published in Die Burger, 10 Maart 2015

DSC_2520

Antie, antie! Jy sal sien hoe hierdie baaik teen volgende jaar lyk!

Op Vrydag, 20 Maart 2015, is dit weer sulke tyd – tyd wat duisende baaikers na Mosselbaai opruk. Dis petrolkoppe, dis hardebaard drinkers, dis ghriesape, dis Vrystaatse omies wat besnor wydsbeen ry, dis grootpraters, dis zef ouens wat ‘n kabaal opskop.

Daar’s Harley Davidsons wat hoes en spoeg; daar’s modderbesmeerde veldmotorfietse, daar’s laagsit blou blitse, daar’s solidariteit in oranje Kawazaki’s en Suzuki’s, daar’s treilers aangehaak en ekstra petroltenke ingebou.

DSC_0105

Mad … Max

DSC_0123

I’d Rather Be Buffing!

Soos alle –of baie – goeie idees is die ontstaan van die Buffalo Rally om ‘n kampvuur uitgedink. By Silwerstrand naby Robertson nogal, en reeds in 1969. ‘n Groep vriende – onder andere Egon Mendel, Tony Bayley, Peter Flor, Tony Ferguson en Ray Bergman – van die Nomads Motorfietsklub het laataand, so neem ek aan, met die plan vorendag gekom.

Hulle name – saam met twaalf ander – is plegtig op ‘n papierbord neergeskryf om as bywoningsregister en amptelike dokument te dien. Ja-nee, dit moes laat in die nag gewees het.

Later in dieselfde jaar is die eerste Buffalo Rally gehou. Dit was ‘n tyd van droogte in die Oos-Kaap – nie by die rally self nie –en tot vandag toe roem die Nomads daarop dat hul klub eiehandig die droogte gebreek het. Dit het amper die heel naweek gereën.

By hierdie geskiedkundige – en kief – byeenkoms was 250 motorfietsers.

Met die uitsondering van een jaar word die Buff (die troetelnaam vir die rally) sedert 2005 in Mosselbaai gehou. In 2008 was dit in Aliwal-Noord. ‘n Kontrak is reeds geteken om vir die volgende drie jaar, insluitende 2015, na Mosselbaai terug te keer.

Dis ‘n wen-wen situasie vir beide partye.

Dis ‘n gesonde finansiële inspuiting vir hierdie stranddorp; baie van die Buffers keer vir vakansies terug en die Nomads skenk ruim geld aan verskillende welsynsorganisasies op die dorp.

Die organiseerders se taak word vergemaklik deurdat hulle presies weet wat die munisipaliteit verwag, aldan nie. Ook is dit op hierdie manier  makliker om te sorg dat die wildewragtigs nie te veel handuit ruk nie.

Nie eers op Paasnaweek of Desembers is De Bakke Santos- of Punt Karavaanpark so tjok en blok nie. Nêrens is ‘n karavaan in sig nie – net igloe-tentjies, meer tweewielers as wat jy kan tel, swart leerbaadjies met hordes lapelwapentjies (nie altyd goed vir sensitiewe lesers se senuweestelsels nie), gewaagde tattoes en als ruik die ene petroldampe.

As jy reeds teen Donderdag arriveer, is dit makliker om ‘n gaatjie vir ‘n tent te kry wat oor die see uitkyk. Andersins moet jy maar verlief neem met bure wat in die middel van die nag versnellers oopdraai, in jou tent vasslinger of die plaaslike vuurblaser vir ‘n drankie nooi.

Dit klink eintlik erger as wat dit is, want dis eintlik net ‘n paar belhamels wat die hoender ruk. Baie Buffers is ou ballies – en ‘n paar kwaadkatte – wat lyk of hul net-net nog genoeg woema in hul (motorfiets) se pype het.

Ander kom juis om stilweg die spektakel te geniet en hul te verlustig in wat hul sien.

DSC_0159

‘n Honda-boudevlosbroekie

Die nommerplate wat nie met ‘n boudevlosbroekie spog nie, laat die asems snak met: Wing Nut, Boertjie, Two Ducks, Baas Jack, So spent ons die kinders se geld en op ‘n meer ernstige noot: In loving memory of our father Naas Ferreira.

Om van die lapelwapens nie te praat nie. Ek lees: Doughnut Ella op ‘n gewigtige antie se bors;  F*k*f ek het genoeg vriende op ‘n alleenloper se kraag; Great Legs What Time Do They Open? op ‘n grysaard se onderbaadjie en Bly Kalm en Ry wat die hele atmosfeer saamvat.

‘n Paar hoopvolle ryers het hul eie Meet Jou Tiete-bord met strategiese gate opgerig.  Ek sien niemand in die ry hiervoor staan nie.

By die Buff kan jy jouself vir een naweek ‘n jaar uitleef. Blikbekers word met kettings aan polse vasgemaak; onderbaadjies met skedels en beendere word breëbors uitgestoot; goedkoop silwer kruise hang tot op boepense. Jy kan binne ‘n paar minute ‘n eerste of nuwe tattoe bykry.

DSC_2494

Hoelykit met ‘n doughnut?!

In vorige jare het daar Suid-Afrikaners van Dubai af gevlieg, motorfietse gehuur en die Buff kom bywoon. In 2012 is daar 3500 liter bier deur vrywilligers van die NSRI verkoop.

Vir ingeskrewe Buffers is daar verskeie pryse – behalwe gelukkige trekkings ter waarde van derduisende rande – te wen. Pryse word toegeken vir die motorfietsryer wat die langste afstand afgelê het om by Mosselbaai uit te kom, vir die langste afstand op grondpaaie afgelê en vir die oudste mans- en vrouebaaiker.

Jy hoef nie ‘n motorfiets te besit of die dolla te wees wat agterop so ‘n masjien sit nie. Jy kan sorg dat jy hier is en net kom kyk hoe vier baaikers die lewe en hul passie.  Ek waarborg jou dat jy sekere dinge nog nooit só sien gebeur het nie. Boonop kan jy oor en oor luister hoe Hosh Tokolosh van Jack Parow gespeel word.

Sou ek eendag met my eie Harley wil gaan, sal ek vir die voorafgaande tien jaar met ‘n Vespa moet oefen. En selfs dan, sal dit geen uitgemaakte saak wees nie, vrees ek.

DSC_2509

So ontmoet ‘n mens vreemdelinge

Meer oor die Buffalo Rally
Bly op hoogte by: www.facebook.com/BuffaloRally
   Luister vooraf na Hosh Tokolosh om jouself in die regte bui te kry by:  www.youtube.com/watch?v=tcK0GjTHv_o
Lees meer op die organiseerders se webtuiste by: http://www.nomads.org.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 12, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .