ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Juig op vakansie in eksotiese Djerba

First published in Die Burger, March 2020

Djerba het 'n ellelange vuurtoring naby Midoun se soewenierswinkels

Djerba was inderdaad eksoties

Djerba (of Jerba) is die grootste eiland in Noord-Afrika en maak deel van Tunisië uit. Djerba is geleë in die Golf van Gabès en, volgens oorlewering, trek Djerba al duisende jare besoekers.

Tunisie is 'n interessante reisbestemming

‘n Interessante reisbestemming!

Die eerste verwysing na Djerba, so word daar geglo, is in Odussee, een van die oudste en bekendste literêre werke uit die Griekse letterkunde, deur Homerus, ‘n Griekse digter wat om en by die agste eeu (of twaalfde eeu volgens ander antieke bronne) voor Christus geleef het.

Dié epiese gedig handel oor Odusseus en sy reis huiswaarts na die val van Troje. Op pad terug van Troje het Odusseus by ‘n woestyneiland – wat baie glo Djerba was – aangedoen. Met hul oorbly op Djerba het Odusseus en sommige van sy bemanning ‘n drankie van lotusblomme (‘n tipe waterlelie) gedrink wat vir hulle soos nektar van die gode was. Die eilandbewoners van Djerba glo dit was die plaaslike dadelpalmwyn, wat hulle lagmi noem!

So het Tunisie lank terug gelyk

So het dit lank terug gelyk…

Soos die eeue verloop het, het die Feniciërs, Romeine en Arabiere Djerba hul tuiste gemaak. Teen die vyftiende eeu was Djerba ‘n vesting vir seerowers waaronder Barbarossa (Rooibaard) wat ‘n skrikbewind onder Spaanse en Portugese skepe wat die waters van Noord-Afrika betree het, gevoer het.

Die mense van Djerba is vriendelik en gee nie om om vir foto's te poseer nie

Die mense van Djerba is vriendelik en gee nie om om vir foto’s te poseer nie

Sedert die 1960’s is Tunisië ‘n gewilde toeristebestemming, veral onder Europeërs. In 2015 is toerisme in Tunisië ‘n knou toegedien toe daar twee aanvalle gemik op toeriste was, onderskeidelik by die Bardo Nasionale Museum in die hoofstad, Tunis, asook by ‘n toeristeoord buite die stad Sousse. Soos ‘n klimtol het toeristegetalle egter gou daarna weer opgewip en toegeneem.

Hunker na Houmt Souk

Houmt Souk (dit beteken markplek) is Djerba se enigste werklike dorp. Oorspronklik is hier slegs mark gehou; die eilandbewoners het verder weg gewoon.

As jy deesdae Houmt Souk besoek, sien jy forte, moskees, tradisionele wit geboue met kleurvolle deure en vensters, markstalletjies, toeristewinkels en talle restaurante.

Jy kan ‘n paar uur daaraan toewy om Houmt Souk te verken of jy kan ‘n paar dae uitsit om deur strate, systraatjies en pleintjies te drentel.

Eet ‘n brik (gevulde pannekoekie met ‘n vulsel van eier en vis of garnale wat diepgebraai word) vir ontbyt. Koop ‘n katoenjurk (bekend as ‘n (d)jellaba) teen die hitte. Smul aan chakchouka of ojja (‘n souserige tamatiegegeurde dis met rooipepers en knoffel waarby ‘n geposjeerde eier en/of merguez (speserywors) of garnale geroer word) vir middagete.

Verkyk jou aan besienswaardighede soos die Borj el Kebir (Groot Toring), Jami et-Turk (Moskee van die Turke) en aan Sidi Brahim-plein en Hedi Chaker-plein.

This slideshow requires JavaScript.

Vra rond tot jy op Mohamed Khacha se mandjie- en grasmatwewery afkom. Hy is een van die enigstes wat nog tradisionele weefwerk doen en hy demonstreer graag hoe hy sy vingers en tone hiervoor inspan. Sy dogter, Amel, word sonder verwyl uit haar winkel ‘n paar deure verder geroep om te kom help met Engels praat.

Op Djerba-strand is kamele met Kersversierings regdeur die jaar te sien

Op Djerba-strand is kamele met Kersversierings regdeur die jaar te sien

‘n Entjie weg op die strand loop lawwe kamele wat met Kersversierings gedrapeer is, rond. As jy vir hulle lag, fladder hulle hul lang wimpers skugter.

Geen tyd vir zzz in zone touristique

‘n Groot deel van Djerba is deur die regering as zone touristique verklaar. Hierdie sone is niks anders nie as ‘n rits hotelle (op booking.com word 341 hotelle gelys) waarvan baie hul eie strand en swembad(dens) het.

In zone touristique is honderde hotelle, baie daarvan op die strand en die meeste het 'n swembad of selfs meer as een

In zone touristique is honderde hotelle, baie daarvan op die strand en die meeste het ‘n swembad of selfs meer as een

Sou jy jou op zone touristique toespits, sou jy die essensie van Djerba misloop.

Baie van die hotelle het egter baie goed gepryste pakkette, veral as jy op die nippertjie bespreek, en dis nie te versmaai nie.

Reis enkele kilometer na Er Riadh

Er Riadh (of Er-riadh), voorheen bekend as Hara Sghira is ‘n oorwegend Joodse dorpie.

Daar is al vir ‘n eeue lank ‘n Joodse gemeenskap in Djerba hoewel niemand seker is wanneer die eerste Jode hul na die eiland begewe het nie. Na Tunisië in 1956 onafhanklikheid verkry het, het baie Jode na Israel geëmigreer, maar tot vandag toe is daar nog steeds Jode wat in Djerba, meestal in Er Riadh, woon. Baie van dié Jode is juweliers.

Die binnekant van die Ghriba-sinagoge in die dorpie Er Riadh

Die binnekant van die Ghriba-sinagoge in die dorpie Er Riadh

Die Ghriba-sinagoge (www.bh.org.il/el-ghriba-synagogue-djerba-tunisia/) aan die buitewyke van die dorp is een van die oudste heilige geboue van Judaïsme in Noord-Afrika. Hier kan jy ook een van die oudste tora’s (die Joodse wetsrol met die vyf boeke van Moses) te siene kry.

Dar Dhiafa (www.dardhiafa.tn), ‘n luukse gastehuis wat jou met sjarme oorrompel, is in ‘n stil straatjie van Er Riadh. Van buite af sal jy nooit as te nimmer raai wat binne op jou wag nie. Die eienaars het vyf ou huisies omskep in ‘n Marokkaanse sprokieswêreld met sithoekies, ‘n swembad met kurwes in ‘n binnehof, romantiese slaapkamers met muurnisse en mosaïekteëls en hul eie restaurant. Dit was waarlik een van die mees atmosferiese plekke waar ek nog ooit gebly het.

Gaan na Guellala

Guellala op die suidkus van Djerba-eiland is bekend vir sy pottebakkers. In hierdie dorpie kan jy kyk hoe die pottebakkers te werk gaan en soveel inkopies doen dat jy nie jou bagasie met jou terugvlug ingeweeg sal kan kry nie.

Orals in Guellala en in toeristewinkels regoor die eiland sal jy melk- en waterbekers in die vorm van ‘n kameel sien. Die oorspronklike ontwerp het ‘n gaatjie aan die onderkant waar die water ingegooi word. Dis só ontwerp dat die water net by die mond van die kameel – en nie by die onderste gaatjie nie – uitvloei solank jy dit reg vashou. (Kyk op Youtube hoe die towerkameel gedemonstreer word: http://www.youtube.com/watch?v=kYUItLdSI4Y) Dis moeilik om dié oulike bekertjies te weerstaan.

Die Guellala-museum het gesorg vir ‘n insiggewende besoek. Tunisiese erfenis en taferele van die alledaagse lewe soos die maak van olyfolie, ‘n tradisionele huwelikseremonie, hoe daar vis gevang word en hoe kos voorberei word, word uitgebeeld.

Kyk op na Ras Taguerness-vuurtoring

As jy, soos ek, ‘n voorliefde vir vuurtorings het, moet jy jou na die oostekant van Djerba-eiland begewe.

Hier troon Ras Taguerness-vuurtoring, naby die soewenierswinkels van Midoun, hoër uit as enige ander vuurtoring wat jy al gesien het.

Hierdie rooi-en-wit gestreepte vuurtoring is in 1895 gebou en is ‘n volle 64 meter lank.

Sou  jy wou gaan:

Hoe kom ek daar? ‘n Retoervlug met Turkish Airlines via Istanbul na Tunis kos tussen R10 000 en R11 000 per persoon. Jy kan van Tunis na Djerba vir minder as R2000 per persoon vlieg; kyk self aanlyn of besoek ‘n reisagent wat bereid is om jou hiermee te help aangesien sommige binnelandse vlugte vir baie duurder geadverteer word.

Waar kan ek oorbly? Djerba is besaai met hotelle, maar daar is ook ander verblyfopsies beskikbaar. Ons het ons besoek aan Djerba in drie verdeel: ‘n paar nagte op ‘n afslagpakket in ‘n groot hotel in zone touristique, ‘n bederflangnaweek in ‘n boetiekgastehuis in ‘n klein dorpie en die laaste paar aande in ‘n ‘losieshuis’ vir reisigers in Houmt Souk waar ons arriveer het.

Blog - Having a smoke

‘n Ontspanne dag op ‘n eksotiese vakansie

Leave a comment

Information

This entry was posted on August 13, 2020 by in Afrika.