ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

‘n Bootvaart vir elkeen

First published in Rapport, January 2023

All photos, my own, taken on Uniworld

Vaar deur jou vakansie

Uniworld se River Royale vaar vanaf Bordeaux

As jy lief is vir boeke en vir léés, kom jy soms op die eienaardigste dinge af.

’n Toevallige raaksien van boeke met besonder lang titels* het my by Blue Mind: The Surprising Science That Shows How Being Near, In, On, or Under Water Can Make You Happier, Healthier, More Connected, and Better at What You Do deur marienebioloog Wallace J. Nichols uitgebring.

Na ek meer oor die ‘Blue Mind’-effek gelees het, het dit nie lank gevat voor ek daaraan begin dink het om reisplanne te smee wat ‘n ontspanne tyd op die water sou insluit nie.

Na waters waar rus is

Volgens Nichols is twee van die hoofredes waarom water – veral om daardeur omring te wees – ons laat ontspan, die feit dat dit ‘n sielkundige skakel met ons voorouers bied en dat water ‘n bron van lewe verteenwoordig.

Ons voorouers moes drinkwater soek om te oorleef; wanneer ‘n waterbron opgespoor is, het daar ‘n gevoel van kalmte oor hulle neergesak.

Nie net maak water 70% van die aarde se oppervlak uit nie, maar ons liggame bestaan uit amper net soveel water. Ons is blykbaar biologies só geprogrammeer dat ons liggame as’t ware weet water beteken lewe.

As dít nou nie genoeg rede is om ‘n bootreis te beplan nie, weet ek darem nie!

Myne is groter as joune

In 2022 was daar, volgens berigte, 323 passasierskepe in die wêreld. Hiervan was sowat 64 reusagtig groot.

Die grootste passasierskip ter wêreld is tans die Wonder of the Seas van Royal Caribbean International. Dié skip is 362 meter lank, het ‘n bruto tonnemaat van 236 857 en het plek vir 6 988 passasiers plus 2 300 bemanningslede.

MSC Cruises se grootste skip is die MSC World Europa wat die sesde plek in die wêreld beklee. Costa Smeralda en Costa Toscana van Tosca Cruises is onderskeidelik in die agtste en negende plek.

Volgens www.cruisehive.com is die gemiddelde passasierskip 305 meter lank (omtrent so groot soos drie rugbyvelde).

Moderne passasierskepe is gemiddeld 20% langer as die Titanic en dubbeld so hoog.

Verbeel jou net – meer as net ‘n vakansie

Die luukses en ervarings wat ‘n passasierskip of plesierboot jou bied maak ‘n baie groot deel van jou reis uit. 

Wat soos ‘n paal bo water uitstaan, is die gastronomiese ervarings wat met jou vaart gepaardgaan.

As jy met die Cunard Line vaar, kan jy deftige formele gala- en gourmet-etes verwag. Peuselhappies en hartlike geregte bly ook nie uitgesluit nie.  Costa Cruises is bekend vir fynproewersgeregte in hul restaurante. Die MSC Orchestra neem jou op ‘n “opwindende kookreis… met innoverende spyskaarte”.

Sommige plesiervaarte sluit ook luukse hotelverblyf in soos die Cunard-vaarte na die Ooste of Kroasië en Montenegro, of die Royal Caribbean-vaarte na Asië of vanaf Amsterdam na Barcelona.

Ongeag of jy jou op ‘n groot of kleiner passasierskip bevind, sluit die vermaak in verhoog- en musiekoptredes, danskroeë, gimnasiums, spabehandelings, swembaddens en jacuzzi’s.

Die Navigator of the Seas (Royal Caribbean) is die skip met die langste waterglybaan (amper 250 meter) met die gepaste naam The Blaster. Volgens www.beyondshipsart.com pryk daar meer kunswerke op die Symphony of the Seas as in die Louvre-museum in Parys, Frankryk!

Waar die skip sy anker laat sak (of hotelverblyf deel van die pakket uitmaak), kan jy na hartelus dagekspedisies – op jou eie of met ‘n gids – onderneem, van Singapoer tot Manila of Bali, van Reunion-eiland en die Seychelles tot Kreta.

????????????????????????????????????

Die res van die tyd kan jy oor die oseaan uitstaar – met ‘n mengeldrankie in die hand – en ervaar hoe ‘n kalmte oor jou neersak terwyl jy vergeet van alles wat jou gewoonlik by die huis en jou werksplek pla.

Drink bier op ‘n rivier – of ‘n glasie wyn

Riviervaarte is ‘n ideale manier om, veral Europa, te verken.

‘n Riviervaart is omgeef van rustigheid, maar met genoeg afwisseling ingeroer. Elke dag bied ‘n nuwe bestemming, soms meer as een. ‘n Historiese gedenkwaardigheid hier, ‘n wynkelder daar, ‘n Middeleeuse dorpie, ‘n kosmark.

Dis as’t ware asof jy – en jou hotel – saamreis. Omring deur water. En soveel besigtigingstoere as waarvoor jy lus het.

Die Donaurivier is die tweede langste rivier* in Europa. Dié rivier is 2 850 km lank en vloei deur 10 lande (Duitsland, Oostenryk, Slowakye, Hongarye, Kroasië, Serwië, Bulgarye, Roemenië, Moldova en Oekraïne) en van Europa se interessantste en mooiste stede. Dit is dus g’n wonder dat Donauvaarte uiters gewild is nie.

Dit maak sin om eers te besluit watter stede en streke jy graag wil sien en dan jou keuse van riviervaart daarop te baseer.

Riviervaarte op die Douro-, Ryn-, Elbe-, Mosel-, Seine- en Rhone-rivier is ook populêr en bied baie om te sien en beleef.

As jou sakke diep genoeg is, bied Uniworld Boutique River Cruises se rivierskepe – met name soos River Empress, River Princess, River Queen en S.S. Joie de Vivre – ‘n ongeëwenaarde reiservaring. Dit voel kompleet of jy jou op ‘n drywende vyfsterboetiekhotel bevind.

‘n Verdere plus is dat álles ingesluit is as jy ‘n gas van Uniworld is – eksklusiewe ekskursies in klein groepies, elk met hul eie gids; alle etes; onbeperkte drankies insluitende Franse sjampanje en les bes, alle fooitjies.

Behalwe vir verskeie Europese opsies, bied Uniworld ook vaarte in Indië, Kambodja, Viëtnam, Peru en Egipte in 2023 aan.

Kuier op kanaalbote

As jy nie omgee nie om self kos te maak, boot te bestuur en sluise te lig, is ‘n kanaal- of huisboot (of selfsorgboot) ‘n meer bekostigbare opsie.

Waar jy by die huis rondhol, organiseer en sleurtakies moet verrig, bied ‘n kanaal- of huisboot ‘n ander manier van doen wat terselfdertyd ontspanning bied.

Nederland, Frankryk en die Britse platteland is gewilde kanaalbootbestemmings.

Besluit vooraf wie die rol van skipper gaan vervul en wie as navigator (iemand anders moet die kaart lees!).

‘n Groot lekkerte van ‘n huisboot is dat jy plaaslike lekkerbekbestanddele by kosmarkte en supermarkies kan koop en jou eie geregte daarmee aanmekaar kan slaan.

Op jou merke, gereed, wég

Dié wat weet sê selfs net om aan die kleur blou te laat dink, laat jou ontspan. Ander reken dat om deur water omring te wees, jou ‘n gevoel van nietigheid laat ervaar, wat op sy beurt tot ‘n gevoel van behaaglikheid in die hier en nou lei.

Wat egter my denke na ‘n bootvakansie laat swaai het, was toe ek hoor van die sjampanjefonteine wat op sommige passasierskepe te vinde is. Dít en toe ek sien ek kan sommer ‘n bladsy in Rapport Beleef skandeer om my kajuit te bespreek!

* Die Guinness-wêreldrekord vir die boek met die langste titel behoort aan Vityala Yethindra vir sy boek ‘The Historical Development of the Heart i.e., from its Formation From…,’ wat uit 3 777 woorde bestaan.  

* Die langste rivier in Europa is die Wolgarivier wat 3 531 km lank is.

                                                                     ***

Vaarte met ‘n verskil

  • Die Hurtigruten-posboot vaar al vir meer as 100 jaar al langs die fjords van die Noorweegse kus.

norway.nordicvisitor.com/travel-deals/coastal-voyages-cruise-tours/best-of-the-norwegian-fjords/1415/

  • Sien die wêreld insluitende Antarktika, Ysland, Groenland of die Falkland-eilande – deur die oë van National Geographic-kenners.

nationalgeographicexpeditions.eu/search/?types=Expedition%20Cruises&date=&destination=

                                                         ***

Wat dit jou naastenby per persoon gaan kos

Met Imagine Holidays

  • Cunard Line: Vaart na die Ooste met verblyf in Singapoer, vir 18 nagte: vanaf R49 999
  • Costa Cruises: Vaart van Amsterdam na Barcelona, vir 11 nagte: vanaf R28 999
  • MSC Cruises: Vaart van Italië na Durban met 2 nagte in Venesië, vanaf R39 999
  • Royal Caribbean: Vaart na Asië en Bali-verkenningstog, vanaf R38 999

imagineholidays.co.za

Donau-vaarte na/van Budapest

  • Viking Cruises R41 000 – R51 500
  • Uniworld Boutique River Cruises R88 000 – R187 000

vikingrivercruises.com/cruise-destinations/europe/romantic-danube/2023-budapest-regensburg/pricing.html

      uniworld.com/za/river-cruise/central-europe/danube?market=ZA

Rivier- en kanaalbote met Le Boat

  • Pryse wisssel redelik baie, afhangende van bestemming en duur van vaart

2 comments on “‘n Bootvaart vir elkeen

  1. icaplan
    February 7, 2024

    Dankie Ilse, waardeer dat jy dit gestuur het. Ek gaan sommer vir Joske ook stuur.

    Kind Regards/Vriendelike Groete,
    Ingrid Germishuys
    Partner
    SACPLAN Professional Planner Registration A/905/1996
    [cid:image001.jpg@01DA59D5.30085710]
    Unit 2A Crossfire House, 25 De Beers Avenue, Paardevlei
    Somerset West, 7130
    Cellphone:
    083 657 8220

    Important notice: Due to the risk of email related fraud, it is crucial that you telephonically confirm our banking details prior to making any payment to us. Also note that we have not changed our bank account details.

    • ilsez
      February 8, 2024

      Jy sal wel sien dis meer alg info, eerder as op Uniworld gefokus, Ingrid.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 7, 2024 by in Europa.