ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

FEESTE MET OLYWE EN PATATS, SKRYWERS EN KUNS

First published in Die Burger, September 2012

Die Kaap van goeie hope kos en feeste

Fees op fees. Jy kan kies en keur tussen al die feeste wat op gereelde grondslag orals in die Kaap aangebied word.

EET ‘N PATAT BY NAPIER PATATFEES

NAPIER~1

Hier in die middel van Junie rond hou die Napierdorpers Patatfees. Van Tamatiekraal tot Nuwerus speel almal saam. Onder groot geheimhouding word voëlverskrikkers uitgedink en aangetrek. Ronde strooibale kry gesigte of ‘n varksnoet. By die ouetehuis sit ‘n voëlverskrikker in ‘n rolstoel. Soos jy dorp inry, werskaf twee voëlverskrikkers in die sypaadjietuin; soos jy die dorp uitry, wag ‘n voëlverskrikker met ‘n spoedkamera jou soms in. Hier vlieg ‘n heks, daar leun een oor ‘n stoepmuurtjie, en voor die Napier Plaasstal pryk ‘n spook en ‘n voëlverskrikker met ‘n plaastelefoon.

Daar’s ‘n Patatfees Parade, daar’s  patat op elke spyskaart, daar’s patatsop en patatkoek by die mark, en daar’s ‘n tradisionele snoek-en-patat-braai.

Bredasdorp kom stal veteraantrekkers – meestal rooi – uit en in die motoroptog is daar enigiets wat wiele het.

Loop deur die labirint by die Red Windmill; sorg dat jy nie op die sypaadjiekuns trap nie; luister na die Overberg Muzo’s.

Om te help om patatkoolhidrate af te skud, is daar ‘n 30 km en 60 km bergfietswedren sowel as ‘n 4 km, 10 km en halfmarathon.

 

RY KAROO TOE VIR DIE J.M. COETZEE EN NOBEL LAUREATES FEES

Richmond is pro-Afrikaans, maar Engels word nie afgeskeep nie

Dis maar die tweede J.M. Coetzee en Nobel Laureates Fees wat gehou is en hoewel nog op klein skaal, beloof dit om van krag tot krag te gaan. Of daar nou gepraat of tot laatnag gekuier word, almal ruil idees en teorieë uit, en hang aan mekaar se lippe.

Anthony Osler se Stoep Zen (lees meer by www.stoepzen.co.za) word in die hoofstraat – ampertjies die enigste straat in Richmond – beoefen. Elza Miles bring vir Outa Lappies saam; Deborah Steinmar dans saam met Marike de Klerk; en by The Blue Lantern raak die wyn op.

Almal, net mooi almal, hang aan Anton Harber – die “halfgebakte” professor soos deur Blade Nzimande aan hom toegesnou en waarmee hy (Harber) self spot – se lippe.

Vir hierdie fees het Richmond toe sommer ook ‘n nuwe muurskildery van die karretjiemense bygekry.

Behalwe hierdie fees hou Richmond ook nog die Boekbedonnerd-Fees – dis van 25-27 Oktober 2012. Gaan luister onder andere na Deon Meyer, Karin Brynard, Ferial Haffajee en Anton Schoombie, die handtekening-versamelaar.

AS B’BOS SE KUNSTENAARS UITHANG

Drie keer per jaar stel Baardskeerdersbos se kunstenaars hul huise oop vir die publiek. Eers voel jy so half voorbarig om iemand se heiligdom te betree, maar daardie ietwat verontrustende gevoel verdwyn so vinnig soos mis voor die son.

Op ‘n kombuistafel of sommer knap by die voordeur staan by ieder en elk ‘n bottel wyn wat gul aangebied word. Nog te vroeg? Wat van heuningbos-ystee? Of ‘n verfrissende hibiskus-drankie? Nonchalant word jy binnegewink asof jy huisvriende is en jou voete gereeld onder hul eetkamertafel ingestoot word.

Van brood en water (en kuns) alleen kan niemand leef nie; dus benut baie kunstenaars die dag om plaasprodukte soos olywe en heuning ook te verkwansel. ‘n Verruklike idee, reken die stadsjapies.

Begin aan die verste punt – maar hier is ver ‘n relatiewe begrip – by die Tierfontein-pad. Knikknak ry ons deur die knobbels. Liz van den Berg beoefen gyotaku, ‘n tradisionele vorm van Japanese kuns wat ink-afdrukke van visse behels. Knikknak weer af met die pad. Amanda Johnson teken en skilder veral hoenders, katte en beendere.

Draai in Granaatlaan af. Hier verras deurdagte bronsbeelde van Niël Jonker en keramiek deur Daniel Griffen. Trek handbriek op by Strandveld Pub. Kobie Groenewald tel porseleinskerwe in die Karoo op en gebruik dit om die rande van opdienbakke te mosaïek.

Volg die steil, hobbelrige paadjie na Philip John se plek. Moenie sommer die tog na bo met ‘n sedantjie aanpak nie. Philip doen beeldhouwerk – hou vas aan jou stoel – met beesmis. Ja, wragtie. Op my erewoord. Daar’s vrugtebakke, daar’s ikone, daar’s prenterame, daar’s vlieënde vlak ducks. Buite was ‘n skubberige vislyf met vroue-borste besig om droog te word.

Nikki Miles se fyn gemosaïekte bokkoppe en koei-skilderye laat ons kwyl van ongebreidelde begeerte. Laaste, maar nie die minste nie, is dit Joshua Miles wat deur Overberg-  en Klein Karoo-landskappe geïnspireer word.

  • Lees meer oor die deelnemende kunstenaars en kry hul kontakdetails by baardskeerdersartroute.com
  • Kry ‘n idee hoe gyotaku-kuns lyk deur na die volgende webtuiste te loer: gyotaku.com
  • Die volgende Baardskeerdersbos Kunsroete word op 22-23 September 2012 gehou.

SPOEG ‘N OLYFPIT BY DIE OLYFFEES IN RIEBEECK-KASTEEL

Berge omring die kerktoring

Volgens hoorsê was daar in 2012 meer besoekers aan die Olyffees as ooit tevore. Ons hoor ook maar net van olyfolie-stoei wat ook êrens in die dorp aanskou kan word.

As die Olyffees jaarliks hier rondom Mei in Riebeeck-Kasteel gehou word, bars die plek uit sy nate.

By Café Felix kan jy buite in ‘n Frans-geïnspireerde tuin jou tyd verwyl; by Auntie Pasti sit almal soos sardientjies ingeryg; by die The Royal Hotel lê mense op grasperke rond; en by Bar Bar Black Sheep word zucchini-bloeisels en komkommersop-met-vars-vye by plastiektafeldoeke bedien.

Net mooi orals is stalletjies opgeslaan. Hier en daar is olyfolie of ingelegde olywe te proe of te koop.

By Allesverloren speel heeldag musiek en daar’s ‘n samehorigheidsgevoel – so asof almal Desember-vakansie hou. En dit knap voor die winter.

  • Luister na Bar Bar Black Sheep se sjef se stem en kyk hoe dit binne en buite lyk by bbbs.co.za . Bly ook op hoogte van hul veranderende spyskaart met van gebakte, gevulde suurlemoene as voorgereg tot Zamalek vis-en-tjips as hoofgereg.
  • Lees oor al die ander feeste en byeenkomste in Riebeeck-Kasteel by riebeekvalley.info

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 28, 2017 by in Die res van Suid-Afrika, Plaaslike reis - Afrikaans and tagged , .