ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Geen rus of duurte in Rusland

First published in Beeld, December 2019

Rusland is 'n fassinerende bestemming en as jy eers een keer daar was, bly die fassinasie daar

Rusland is ‘n fassinerende bestemming en as jy eers een keer daar was, bly die fassinasie daar

‘n Besoek aan Rusland is manjifiek. Katedrale oorrompel jou, ikone dryf jou tot trane, paleise laat jou swymel en die intriges van die Russiese geskiedenis sedert die 1800’s tot nou laat ons land se politieke dramas na kinderspeletjies lyk.

Die Russiese taal, kultuur, gewoontes en kos is fassinerend.

Jy wíl nie rus vir jou siel hê nie; jy wil alles indrink en beleef.

Rusland het in die afgelope 20 jaar baie verander - van die oud het behoue gebly en daar is baie wat nuut is

Rusland het in die afgelope 20 jaar baie verander – van die oud het behoue gebly en daar is baie wat nuut is

St. Petersburg is 'n stad wat hom leen daartoe om orals te stap

St. Petersburg is ‘n stad wat hom leen daartoe om orals te stap

Dis nie onmoontlik om op jou eie in Rusland te toer nie, maar maklik is dit nie. Glo my, ek het beide al beproef: saam met ‘n vriendin én met ‘n georganiseerde toer. Dis nie moeilik om te raai watter manier loshande gewen het nie.

Die Russiese kultuur is baie anders as ons s’n. Soms is dit moeilik om jou vinger daarop te lê en ander kere spreek dit vanself. Dis ontroerend om te sien hoe baie Russe te voet op pad êrens heen by ‘n buurtkerkie inloop sodat die Russies-Ortodokse priester hul die hande kan oplê.

In Rusland eet jy warm én koue beetsop; jy móét wodka drink (maar nie te veel nie anders sal jy dit die volgende oggend berou); en kaviaar is bekostigbaar (in St. Petersburg, nie in Moskou nie).

Wat die Russe as ‘n nasie al alles moes deurmaak, nie net onder kommunisme nie, is hartverskeurend. Tog is hul trots Russies en in gesprekke met diegene wat wel Engels kan praat, skemer dit voortdurend deur.

Ons Insight Vacations-gids, Anna Luthi, se vertellings oor hoe sy in Moskou grootgeword het, was insiggewend. Sy het vertel hoe kerke nie platgeslaan is nie, maar vir ander gebruike ingespan is. Op die gronde van een kerk is ‘n openbare swembad gebou waar sy as jongeling geswem het; in ‘n ander kerk is vullis geberg.

St. Petersburg is pragtig

Dis maklik om die meeste besienswaardighede in St. Petersburg te bereik as jou verblyfplek sentraal geleë is. Dis nog makliker as jy eers met ‘n toer (saam met jou toergroep of met die rooi Hop-op Hop-af busse) agterkom waar wat is en waar jy langer wil vertoef.

Toe ek die eerste keer in 2000 daar was, was daar geen toeristebusse nie. Dit was so hittete of ek en my reisgenoot, Phoebe, het nou nog daar rondgedwaal!

In St. Petersburg is drie katedrale en vier paleise wat jy nie moet misloop nie: die Kerk van ons Verlosser op Verspilde Bloed, St. Isak- en Kazan-katedraal en Yusupov-paleis in die stad self, Peterhof (waarheen jy per boot op die Nevarivier of per bus gaan) sowel as die Katharina- en Pavlovsk-paleis in die dorpie Tsarskoje Selo, 25 kilometer buite St. Petersburg.

Die Hermitage waarvan die Winterpaleis deel uitmaak, is een van die grootste kuns- en kultuurhistoriese museums ter wêreld.

In Nevsky Prospekt, die hoofstraat wat soos ‘n aar deur die stad loop, bied Kupetz Eliseev-deli, wat uit 1902 dateer, ‘n onoortreflike sintuiglike en gastronomiese ervaring. Die Dom Knigi-boekwinkel is in die ou Singer-gebou wat eens aan dié naaimasjienmaatskappy behoort het. Dit is een van die mees uitstaande voorbeelde van Art Nouveau-argitektuur wat jy ooit te siene sal kry.

Moskou is mooi, en bésig

Moskou is besiger, en duurder, as St. Petersburg. In die sakestadskern van Moskou swiep die verkeer dag en nag heen en weer. St. Petersburg voel meer soos Kaapstad waar mense rustiger hul gang gaan.

This slideshow requires JavaScript.

In Moskou kan jy na Lenin se gemummifiseerde lyk staar; by moltreinstasies wat aan kunsgalerye herinner, afspring en jou aan die stadsliggies tydens ‘n Moscow by Night-uitstappie vergaap.

Die Rooi Plein laat jou skoon vergeet dat daar iets soos die Koue Oorlog was en dat ons nie te lank terug nie teen die sogenaamde ‘rooi gevaar’ gewaarsku is.

Die Sint Basil-katedraal op die Rooi Plein lyk of dit in Disneyland hoort, maar binne is die atmosfeer gewyd. Dit noop jou om onwillekeurig ‘n gebed te prewel.

Oor die eksklusiewe Gum-inkopiesentrum, ook op die Rooi Plein, spot die Russe dat niemand daar enigiets kan bekostig nie.

As jy net een winkel in Gum besoek, moet dit Gastronome No 1 wees. Hierdie deli-emporium is tjokvol produkte en wyne van regoor die wêreld; loer watter Suid-Afrikaanse wyne jy raaksien om  jou bors te laat swel van trots.

Bosco Café met ‘n uitsig oor die Rooi Plein gaan jou sak skud; op die derde verdieping van die Gum-sentrum is egter meer bekostigbare eetplekke insluitende kafeterias waar die winkelpersoneel aansit.

Die laaste strale van die son vang die koepels van St. Basil-katedraal op die Rooi Plein

Die laaste strale van die son vang die koepels van St. Basil-katedraal op die Rooi Plein

Die Kremlin ís Moskou. Dit is die amptelike woning van die Russiese president. Binne is vier paleise en vier katedrale. Jy kan die Fabergé-eierversameling en kroonjuwele van die Russiese keisersfamilie hier besigtig.

Soos vinkel en koljander

St. Petersburg en Moskou is nie soos vinkel en koljander, die een is soos die ander, nie.

St. Petersburg kruip sommer maklik in jou hart en jy wil graag langer bly. Moskou fassineer jou en laat jou diep nadink. Beide stede bied ‘n blik op ‘n wêrelddeel wat deel van jou emmerskoplys moet uitmaak.

Ilse Zietsman was ‘n gas van Insight Vacations.

Jy gaan ver soek om meer weelderige verblyf as in die Radisson Collection Hotel Moscow te kry

Jy gaan ver soek om meer weelderige verblyf as in die Radisson Collection Hotel Moscow te kry

SOU JY WOU GAAN:

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 10, 2020 by in Europa and tagged .