ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Eens Wagenmakersvallei, nou Wellington

First published in Rapport, August 2021

Iets vir ieder en elk

“Welkom in Wellington” kondig die Bolandse dorp Wellington se webwerf trots aan. Wellington is bekend vir hul lieflike Kaaps-Hollandse wonings, pragtige distrik, tuine en wynlandgoedere, spog die stadsvaders.

Wellington is een van die oudste dorpe in die land. Reeds in 1657 het Jan van Riebeeck vir Abraham Gabemma (die spelling Gabbema word ook gebruik) land in gestuur om handelstransaksies – die verversingstasie het vleis benodig – met die plaaslike bevolking aan te knoop.

Terloops, dis die einste Gabemma waaraan Paarlberg sy naam te danke het. Toe hy die reusegranietrots in die son sien blink het hy daarna verwys as “de Peerlberg”.

In 1677 het die eerste Europese setlaars hulle in die Limietvallei, soos dit toe bekend was, gevestig. Die naam Limietvallei is ontleen daaraan dat die omringende berge destyds verdere reise geblokkeer het.

In 1699 het Willem Adriaan van der Stel die eerste 15 plase aan Franse Hugenote allokeer.

Die dorp Wellington is in 1840 gestig en na die Hertog van Wellington vernoem; dié hertog het die Britse weermag in die Slag van Waterloo gelei.

Daar kom die wa…

Tydens die Groot Trek was Wellington oftewel Wa(gen)makersvallei die laaste plek waar ossewaens versien – of uitmekaar gehaal – kon word voor die tog oor Bainskloof aangepak is.

Destyds was wamaker ‘n uiters belangrike ‘ambag’.  Daar is selfs op landkaarte aangedui waar ‘n wamaker aangetref kon word. Wellington was een van Suid-Afrika  se belangrikste wamakersentrums totdat motors op die toneel verskyn het.

Dink so daaraan: waens is gebruik as ambulanse, aflewerings- en polisievoertuie en vullisverwyderingstrokke. Dan was daar ook lykswaens en kakebeenwaens!  

Met dapper en stapper

‘n Gratis Erfenisroetekaart is by Wellington-inligtingsentrum verkrygbaar of kan aanlyn (www.wellington.co.za/wellington-activities/wellington-heritage/) afgelaai word.

Met behulp van dié kaart kan jy self die historiese geboue van Wellington besigtig.

Daaronder tel die ou Marksaal, NG-Moederkerk, met ‘n standbeeld van Andrew Murray onder die kerkhorlosie, sowel as verskeie ander kerke, Wellington-biblioteek, -museum en –stadsaal, voormalige sinagoge, ou Seminarium-geboue soos die Murray-, Cummings-  en Goodnow-saal (die Hugenote-seminarie was die eerste inrigting in Suid-Afrika waar vroue opleiding in hoër onderwys kon ontvang) en die Dietmann-klavierfabriek, deesdae in woonstelle omskep.

Twee hoekgeboue móét gesien word: die Standard Bank- en poskantoorgebou.

Hoe drink jy jou whisky?

Op TripAdvisor is James Sedgwick-distilleerdery (www.bainswhisky.com/za/welcome) die nommer 1-besienswaardigheid in Wellington.

Glo dit of nie, dié distilleerdery bestaan al sedert 1886 hoewel dit eers die afgelope paar jaar vir die publiek toeganklik is. Dis die enigste kommersiële distilleerdery in Afrika.

Om ‘n toer van die distilleerdery en ‘n whiskyproe met pasmaathappies mee te maak, moet jy vooraf bespreek. Diegene wat al daar was, raak liries oor die ervaring!

Toe leer nog gelooi is

‘n Klipgooi buite Wellington lê die Old Tannery (www.oldtannery.co.za).

Dié ou leerlooiery dateer uit 1871 en is een van die oudste fabrieke in Suid-Afrika. Destyds was dit bekend as die Western Tanning and Boot Company en op die plaas Olyvenhout geleë.

Teen1910 het daar reeds minstens 200 mense gewerk. Teen 2000 het Mossop Western Leathers, soos die besigheid toe bekendgestaan het, die helfte van alle leer wat in Suid-Afrika gebruik word, verwerk. Dit was genoeg om 750 000 pare skoene te maak!

Na die Old Tannery-geboue in 2006 verkoop is, het dit eers leeggestaan voor die huidige projek-in-wording aangepak is.

Die kantoorruimtes (daar is nog spasie beskikbaar!), onderdakparkering en openbare ruimtes van die gerestoureerde leerlooiery is knop-in-die-keel mooi en ‘n absolute inspirasie vir fotograwe. Jy kan ook hier trou en só verseker dat jou troufoto’s sowel as onthaal absoluut uniek is.

Maak ‘n draai by die Old Tannery Coffee Shop (kyk op Facebook) vir geurige Origin-koffie, heeldag-ontbytbediening en ligte middagetes; proe bier by Garagista-brouery (www.garagista.co.za), verkyk jou aan hul humoristiese bemarkingsplakkate en giggel vir biername soos Tears for the Hipster en Bat Piss.

By Chris se Winkel Antiques (die eienaar is Chris van Niekerk van 7de Laan-faam) loer papierpoppe tussen emaljeware, gekleurde glas en ‘n Venesiaanse kopermasker deur. Langsaan is ‘n opwipwinkel wat onder andere geblomde lap en eetserviese verkwansel.

Drentel in die fabrieksgebou rond tot jy die rooi rusbank opgespoor het – op ‘n plek wat jy dit die minste verwag!

Die kat kom weer

Volver beteken om terug te kom in Spaans en dis presies wat jy sal wil doen as jy by dié antiekwinkel in Stokerystraat, Wellington aangedoen het.

Volver Antiques and Collectables (www.facebook.com/Volvercollectables/) behoort aan Noel en Christel Borcherds wat “so lief vir veilings, mooigoed en ougoed is” dat hulle met dié onderneming begin het. Voorheen het Noel eers meubels gemaak en ‘n vulstasie besit.

Meubels, veral tafels, bly hom egter na aan die hart, vertel Noel. Dit trek my oog dadelik na ‘n biljarttafel in die middel van die vertrek – die tafel dateer uit die 1940’s en is amper 4 meter lank. Die uitgekerfde tafelpote is so dik soos die bene van ‘n olifant.

Met ‘n vorige besoek het ek my verkyk aan ‘n koperpot wat sowat 1000 liter kon hou. Die Borcherds kon nie vasstel presies waarvoor die reusepot gebruik is nie; opinies het gewissel van ‘n rosyne- tot ‘n muskadelpot of deel van ‘n stookketel. Dit kon moontlik ook gebruik gewees het om druiwe in te trap.  

Hierdie keer verstom ek my aan ‘n Victoriaanse heupbad. Soos die naam aandui, is dit ‘n kleinerige koperbad waarin jy gesit het om te bad; die water het net-net tot by jou heupe gekom. Bra ongemaklik, as jy my vra.

Planne vir ‘n galery met hul seun, Elyle Borcherds se eie beeldhouwerk, afdrukke, juwele, fotografie, houtskooltekeninge en handgemaakte messe verloop flink.

Loer ook in by Potpourri, die gemeenskapswinkel wat onder die vaandel van die ACVV bedryf word, in Malherbestraat in die hart van die dorp. Winskopies wat hier te vinde is, sluit in geborduurde tafeldoeke, ou reistasse, teeserviese en silwer opdienbakke.

Leave a comment

Information

This entry was posted on December 5, 2022 by in In die Boland.