ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Rusland, moeder van omoel en wodka

First published in die Burger, May 2016

As die Russe wodka kon geëet het, sou hulle seker.

Watwou, koffie vir ontbyt!

Ek’t selfs op die hawetjie in Listvyanka op die oewers van die Baikal-meer in Siberië gesien hoe jong, goedgeklede Russe vroegoggend sommer sulke diep slukke uit die bottel neem. Met ‘n proeslag het ‘n belhamel geskerts: “Ja, jy kan maar ‘n foto neem van hoe ons Russki’s dit doen.”

Hier by ons sien jy Stolichnaya en Smirnoff wat jou dadelik aan Moedertjie Rusland (en Konsalik-boeke van die sewentigerjare) laat dink. Dáár is veral Moskovskaya- en Gzhelka-wodka baie gewild. So ook bosbessiewodka.

Peperwodka, suurlemoenwodka, wodka gegeur met appel- en peerblare en jagterswodka met ‘n dosyn bestanddele insluitende jenewerbessies, gemmer en naeltjies kom ook voor.

'n bruidsmeisie met 'n kaviaarhappie in die strate van sint petersburg waar 'n mens gereeld bruidspare, omring deur vriende, sien wat hul foto's laat neem

‘n Bruidsmeisie met ‘n kaviaarhappie in die strate van Sint Petersburg waar ‘n mens gereeld bruidspare, omring deur vriende, sien wat hul foto’s laat neem

Ontbyt (zavtrak in Russies) wat meer in almal se smaak sal val, is blini (pannekoek) met soet of sout vulsels, kasha (pap) of my gunsteling, syrniki (maaskaaspoffertjies). Aldrie word bedien met vars bessies, konfyt en smetana (suurroom).

Die Russe – hulle is groot teedrinkers – roer selfs konfyt by hul tee! In treinwaens prut ‘n samovar aan die einde van die gang. By gebrek aan wodka word sok (sap), kefir (joghurtmelk), mors (‘n bessiedrankie) of kvas, ‘n verfrissende, gefermenteerde rogbrooddrankie wat my aan gemmerbier laat dink, geniet.

Baltika is die topverkoper waar dit bier aangaan. Russiese brandewyn word konyak genoem – dis een van die min woorde wat herkenbaar is as dit nie met die Cyrilliese alfabet gespel word nie.

 

In supermarkte en deli-winkels sien ons wyne van Azerbeidjan, Armenië en Bulgarye asook Franse konjak en Methode Cap Classique van Simonsig. ‘n Rak met wyne van Spice Route, Amani, Flagstone, De Toren, Bouchard Finlayson en Jordan laat ons vlugtig huis toe verlang.

Sou jy wou ‘bant’ in Rusland, sal dit maar knor. Daar’s wel baie sop om uit te kies. Borscht (beetsop), shchi (koolsop) en solyanka (dik sop met vleis en groente) word egter met hompe brood – en suurroom – bedien.

Slaai is dun gesaai. Seker maar weens die koue, kou ek en Vanessa aan die gedagte, terwyl ons moet kies tussen pelmeni (ravioli in sop of in botter gebraai); pirozhki (pasteitjies met verskillende vulsels) en manti (kluitjies wat ook pozy – pasop nou vir die uitspraak – genoem word).

Die somers is maar kort in Rusland, en in die winters draai dit ver onder vriespunt. Op mooi dae staan die Russe tou by die shashlyk (‘n tipe sosatie) stalletjies; hulle eet roomys asof die doodsengel om die hoek wag (of eerder die eertydse KGB hul gaan wegsluit en die sleutel in die Volgarivier gooi); en in die Gum-afdelingswinkel word plastiekglasies waatlemoen – hier word dit as ‘n eksotiese happie beskou – teen ‘n stewige prys verkwansel.

Aangesien die Russe laataand eet en St. Petersburg sowel as Moskou swaar op jou beursie kan wees, is bekostigbare 3-gang biznes-middagetes ‘n goeie opsie.

Dis dalk wat ek ook moes bestel het toe ek soos ‘n idioot ‘n Trip Advisor-aanbeveling by The Idiot in St. Petersburg nagevolg het. Alhoewel baie reisgidse The Idiot aanbeveel, sou ek dit volgende keer ongetwyfeld vermy.

'n tikkie van italie by jamie oliver se restaurant in sint petersburg

Jamie Oliver se restaurant in Sint Petersburg

Daarenteen was Jamie’s Italian Restaurant – hoewel stil met ons besoek – ‘n heerlike bederf. Op die spyskaart is – behalwe Italiaanse disse soos pampoenpanserotti, lasagne as trooskos en polentaskyfies as bygereg – ook Russiese slaai, gebakte salm en lamtjop-stokkielekkers.

peperduur kaviaar op ys by yeliseev kosemporium in sint petersburg

By die Kuznechny-mark in ‘n stiller woonbuurt van St Petersburg verslind ons gesoute tamaties, piekelknoffelstingels, kimtjie en kaviaar. Plek-plek toon die disse ‘n sterk Koreaanse invloed, ‘n aangename nuutjie vir my.

piekelknoffelstingels is 'n heerlike versnapering wat ons nie hier ter lande kry nie

Piekelknoffelstingels is ‘n heerlike versnapering

Russiese kos is oorwegend heilsame winterkos wat geen wonder is as jy na hul wintertemperature kyk nie. Daar’s egter redelik min ander plekke in die wêreld waar jy kaviaar én veerligte omul kan eet en waar die borscht elke keer anders smaak, want almal het hul eie manier van voorbereiding.

Jissie, Yeliseev is mooi

die marionette in yeliseev se winkelvertoonvenster voer hul eie passies uit

Die marionette in Yeliseev se winkelvertoonvenster

In die vensters van Yeliseev Kosemporium in Sint Petersburg dans marionette met lang neuse soos Pinocchio s’n toe hy gejok het. ‘n Kok hou ‘n kat aan sy stert en ‘n haas aan sy ore vas. ‘n Slagter klou aan ‘n stuk wors op ‘n stokkie, maar het reeds so baie geëet dat hy in ‘n kruiwa gestoot moet word.

As jy wil sien hoe die handelaar genaamd Yeliseev vóór die revolusie geleef het, loer hier in. Dis gegote glaspanele, kristalkandelare en ‘n reuse pynappel so groot soos vier yskaste waarom jy by enkele tafels langs ‘n klavier kan aansit vir torty (roomkoek), amandelcroissants of van die ander konfetki soos makarons groter as jou handpalm.

‘n Virtuele wandeling deur Yeliseev Kosemporium: http://www.youtube.com/watch?v=JBem-up4lts

O, dis heerlike omul

Stringe en stringe gerookte omoel

Dis amper die moeite werd om Siberië toe te reis nét om omul, ‘n vissoort verwant aan forel en salm, en endemies aan die Baikal-meer, te proe.

Dít komende van iemand wat eintlik net Pieter, my man, en universiteitsvriend Conrad Vlok, wynmaker van Strandveld Vineyards, se vis eet. Vir die res trek ek al te maklik neusie op.

Gerookte omul smelt in jou mond. In Listvyanka is daar rye stalletjies waar gekopdoekte tannies almal oopgevlekte omul – party met tandestokkies bymekaar gehou – verkoop.

Berloga, die plaaslike kroegrestaurantjie, dra papierbordjies aan toe ons met plastieksakkies omul instap. Gevolg deur servette toe ons ons vingers aflek. Ek verbeel my vir ‘n oomblik ek sit by die Russiese ekwivalent van Pelicans in Struisbaai, maar net tot ek weer die swaar Russiese aksente om my hoor.

In die agterstraatjies van Listvyanka word die omul op oop braaidromme gerook. In elke erf staan sommer ‘n ry dromme waar die rokies lui boontoe draal. Die hele dorpie neem omtrent deel aan die vistuisnywerheid.

Leer meer van omul: https://en.wikipedia.org/wiki/Omul

* Kook Russies by die huis: www.expatica.com/ru/about/Top-10-Russian-foods-and-recipes_108678.html

* Leer meer van Siberiese kookkuns: http://visit-irkutsk.com/discover-irkutsk/siberian-cuisine-must-tastes-of-irkutsk-and-baikal/

* Mites en waarhede oor wodka: http://www.russianlife.com/books/nonfiction/davai-the-russians-and-their-vodka/12-myths-about-vodka/

2 comments on “Rusland, moeder van omoel en wodka

  1. Gerald
    January 20, 2019

    Ons besoek aan Rusland 2018 het ons inderdaad in kontak gebring met Wodka! Wat ook opvallend was, is die netheid en gedissiplineerdheid en ontwikkeling in die stede (Moskou en St Petersburg). Die platteland is tipies ou-Rusland – swak infrastruktuur en arm mense. Tipies ontwikkelende land?

    • ilsez
      January 21, 2019

      Ook so ondervind, Gerald. Baie arm mense in platteland; dit wys sommer so op hul gesigte. Ek was 2000 daar en toe weer ‘n paar jaar gelede. Dit was met my tweede besoek baie netjieser, baie meer gedissiplineer en baie meer georganiseerd. Daar moes omtrent ‘n regrukplan gewees het.

Leave a comment

Information

This entry was posted on January 20, 2019 by in Afrikaans foodies.