ilsezietsmanblog

Travel and a bit of shopping

Tyd staan stil in Tesselaarsdal

First published in Die Burger, November 2018

Tesselaarsdal en sy mense laat hulle nie aanjaag nie

Tesselaarsdal (ook bekend as Teslaarsdal) lê in die berge tussen Caledon, Hermanus en Napier. So effens in die middel van nêrens.

Maar tog ook nie. Tesselaarsdal is slegs 45 kilometer van Hermanus en net meer as 38 kilometer van Stanford.

Tesselaarsdal is oorspronklik Hartebeestrivier  genoem, maar toe ‘n poskantoor in 1930 in die nedersetting geopen is, het die naam na Tesselaarsdal verander. Destyds het die inwoners van Tesselaarsdal op die plase in die omgewing gewerk waar daar met beeste, skape, varke en perde geboer is en fynbos en laventel verbou is.

In Tesselaarsdal voel dit regtig of die tyd gaan stilstaan het

In Tesselaarsdal voel dit regtig of die tyd gaan stilstaan het

Die geskiedenis van die plaas Hartebeestrivier lui op Wikipedia so: Johannes Jacobus Tesselaar, gebore 1748, was ‘n kaptein in die Kaapse kavallerie en het die plase Hartebeestrivier in 1781 en Steenboksrivier in 1783 as betaling ontvang.

Later het hy nog plase verkry en sy veestapel verder uitgebrei. Sy huwelik in 1775 met Alida van der Heyde het kinderloos gebly. Daar word vermoed dat onder sy erfgename twee dogters is wat hy by ‘n slavin verwek het.

Na sy dood in 1810 het sy weduwee die boerdery suksesvol voortgesit tot haar dood in 1832. Haar testament het bepaal dat haar 38 slawe vrygestel moes word.

Onaangeraak deur tyd en die gejaag in die stad

Tesselaarsdal is eintlik al die jare in vergetelheid gehul. Eers na 1992 is lopende water en elektrisiteit aangelê. Hier en daar sien ‘n mens nog steeds ‘n kleinhuisie op ‘n uitgestrekte erf.

Daar word vertel dat toe amptenare van die apartheidsregering die mense van Tesselaarsdal doerie tyd wou klassifiseer hulle met besemstokke uit die dorpie verjaag is.

Tesselaarsdal maak deel uit van die Cape Country Meander-roete. Dié roete sluit agt plattelandse dorpies, ses bergreekse, drie bergpasse en sewe damme in. Behalwe vir Tesselaarsdal is die dorpies GrabouwBotrivier, Caledon, Riviersonderend, Greyton, Genadendal en Villiersdorp ook ingesluit.

Jy kom Tesselaarsdal toe om te tjil. Om deur die dorpie te drentel, om met die grondpaaie langs te ry en om by die Café de Postkantoor tyd te verwyl.

Tydens ‘n wandeling deur die dorp en sy buitewyke kan jy varke met kolle soos dié van hiënas sien verbywaggel, hoenders aan die skrop laat skrik, vriendelike honde ‘n stukkie droëwors uit jou paneelkissie voer en wapperende wasgoed, madeliefies en skadubome kiek.

Op ‘n padteken staan “Welkom in die Spruit” en ‘n geel pyl dui aan in watter rigting jy moet stap of ry. By ‘n groentetuin wat geborg word, lees ek ‘Om goed te doen, gaan nooit uit die mode nie.’ Inderdaad.

By die Humpty Dumpty-kleuterskool staan ‘n lewensgrootte koei met ‘n tamaai pienk uier neffens die klasdeur. Met ons besoek op ‘n weeksdag het al die kleintjies heerlik pajamapartytjie gehou waartydens die juffrouens vir hulle warmsjokolade gemaak het.

Die juffrouens en die kleintjies van die Humpty Dumpty Kleuterskool hou pajamaparty

Die juffrouens en die kleintjies van die Humpty Dumpty Kleuterskool hou pajamaparty

Teen ‘n deur ‘n ent verder is ‘n kennisgewing opgeplak: Die algemene jaarvergadering van Klub Tessalonika vind plaas in die gemeenskapsaal. Op die agenda is tee en verversings eerste gelys. Dit smaak my hierdie plek – en klub – het sy prioriteite in plek.

‘n Kronkelpaadjie uit die rand van die dorp lei na Liefland (http://lieflandweddingvenue.co.za/) waar troues met plattelandse swier gevier word. Met die opry sien jy houtbordjies teen die bome waarop jy lees: Syne, Hare, Hoop en Familie.  Bo gekom word jy deur drie uitbundige skaaphonde verwelkom en kyk jy uit oor ‘n reeks valleie.

Hier is nie net ‘n klipkapelletjie wat drup van atmosfeer nie, maar ook die geleentheid om speelse foto’s te laat neem wat al jou vriende groen van jaloesie sal maak.

Twee geroeste kruiwaens vryf neus op die heuwelkruin, ‘n buksie Tedelex-yskas vly teen ‘n stapel hout aan, laventelstruike staan vol in die blom en ‘n verbleikblou trekker wag vir ‘n bruid om nader te staan.

Die eenvoud binne die kerkie by Liefland het ‘n taal van sy eie. ‘n Sinkplaatdak, ontblote dakstutte, sparhoutkerkbankies en ‘n gestroopte kruis waarin jy vaskyk. In die portaaltjie is daar net ‘n hooibaal en ‘n trommeltas. Bo die kosyn staan ‘Vir Ewig en Altyd’. Dís soos dit moet wees – sonder pretensie en ja, vir ewig en altyd.

Op Lekkerdroom-plaas (www.lekkeslaap.co.za/akkommodasie/lekkerdroom-farms) is daar vier kothuise vir oornaggaste ingerig. Die name van die kothuise is Boertjie se Droompie, Lê-Lê Huisie, Damhuisie en Ougat.

Die kamele van Lekkerdroom is ekstroverte en kom geredelik nader as jy mooi vra

Die kamele van Lekkerdroom is ekstroverte en kom geredelik nader as jy mooi vra

Die kamele op Lekkerdroom het lang wimpers en kom nader as jy hulle roep al is jy nie ‘n kameelfluisteraar nie. Die donkies in ‘n kampie langsaan is meer skugter, maar oulik verby.

Tesselaarsdal is nie een van daardie dorpies wat ontpop het en waarheen naweekgaste stroom nie. Nog nie, sê party.

Tesselaarsdal het nog nie ontpop in 'n naweekbestemming waarheen almal stroom nie en dit lyk ook nie of dit binnekort gaan gebeur nie, al is daar al 'n paar eiendomme verkoop

Tesselaarsdal het nog nie ontpop in ‘n naweekbestemming waarheen almal stroom nie en dit lyk ook nie of dit binnekort gaan gebeur nie, al is daar al ‘n paar eiendomme verkoop

Dis egter nie die indruk wat ek gekry het nie. Ja, ‘n absolute bouval het ‘n Verkoop-bordjie teen sy muur vasgespyker. Tesselaarsdal sluimer egter nog en dit gee aan dié dorp ‘n bekoring wat ander bestemmings nie het nie.

Die Café de Postkantoor (kyk op Facebook) is egter ‘n gewilde bymekaarkomplek. Op die kant van die gebou staan 1891.

Binne die Café de Postkantoor is dit knus en gesellig. Veldblomme staan op elke tafel. Terwyl jy vir jou koffie wag, kan jy die spreuke op die muur, ou koerantartikels oor die dorpie of ‘n tender vir die poskantoor wat 1910 gedateer is, lees.

In een artikel staan daar geskryf: “Sy 602 inwoners – blank en nie-blank – noem hierdie gebied, waar niemand seker is of hy wel die grond waarop hy woon of bewerk besit nie, ‘n dorp, maar einlik is Teslaarsdal ‘n plaas met die naam Harbebeesrivier.” En verder aan: “Net nog ‘n klein stukkie Suid-Afrika wat niemand ooit sien nie.”

Die huidige eienaars het ou posstukke en katalogusse in die poskantoor gevind toe hulle begin het om die gebou in te rig. In een van die katalogusse word lente- en somermodes van 1906 geadverteer. ‘n Advertensie van Zam-Buk salf verkondig dat hulle ‘huid-ziekten’ genees en dat hulle ‘de balsem der natuur’ is.

Café de Postkantoor bied nie net leesstof nie. Op die spyskaart is onder andere omelette en fritatas – kies tussen ‘n Telegram met cheddarkaas of ‘n Liefdesbrief met kaas, uie en sampioene.

Vir middagete kan jy onder andere kies tussen prego-steak op ‘n Italiaanse broodjie, tradisionele maalvleis op roosterbrood, ‘n hamburger met kaas en sampioene en gevulde pannekoeke.

Dis so lekker op die stoep waar almal wat verbyry toet en waai of hulle jou ken of nie, dat jy sommer sal bly sit. Kies dan tussen sjokoladekoek, kaaskoek, suurlemoenmeringue en wortelkoek. Bestel maar sommer nog ‘n glas wyn en tjil behoorlik.

Wat op deeske aarde sou hier gebeur het, wonder ons mens ons besoek

Wat op deeske aarde sou hier gebeur het, wonder ons met ons besoek

Soos vriendin Anna Blom met ons salige besoek opgemerk het, ‘hiérdie Tessalonisense wéét wat om uit die lewe te tap’. Sy sal weet; sy ry genoeg rond om die dorpies van Suid-Afrika deeglik te verken.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s

Information

This entry was posted on November 8, 2019 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .
%d bloggers like this: