ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

URUGUAY IS UNIEK

First published in Rapport, date unknown

Uruguay – die enigste land waar dieselfde letter drie keer in die eerste vyf letters van ‘n land se naam voorkom – is ‘n land met uitgestrekte, wit strande; groen grasvelde en platterige heuwels waar beeste herkou; en ‘n hoofstad met pragtige ou Art Deco en gotiese geboue. Elke kusdorpie het ‘n andersoortige karakter en Uruguay is klein genoeg sodat jy maklik al die verskillende fasette kan beleef.

‘N HOOFSTAD MET ‘N GROOT HART

Montevideo se geboue mag ‘n blik verf kort, maar dit doen nie afbreuk aan al die detail waaraan ‘n mens jou kan vergaap nie. Die hoofstraat Avenida 18 de Julio spog met Palacio Salvo, eens op ‘n tyd die hoogste gebou in Suid-Amerika, en net ‘n paar straatjies agtertoe herinner die huisies aan dit wat ons hier in die Bo-Kaap te siene kry. Die stedelinge van Montevideo kom soms stug oor, maar sodra jy met hul begin gesels, is hul warm en hartlik en baie trots op hul land, al kry baie mense swaar. Tradisies soos maté drink word algemeen beoefen; biefstuk blyk die stapelvoedsel te wees en ‘n asado is eintlik maar net ‘n Uruguay-braai. Met min slaai en ‘n stuk bloedwors op die kant.

 Aan die onderpunt van Avenida 18 de Julio is die ou deel van Montevideo waar van die nuwer restaurante en die oorgedoende teater te vinde is. Sondae word hier mark gehou – soos op ander aande in die res van Montevideo dans die inwoners spontaan met mekaar as hul musiek hoor – en veral Amerikaners loop hier rond as die passasierskepe in die hawe aandoen. By die hawe-area self is ou restaurante waar toeriste bankvas sit terwyl hul skepe vasgemeer is. Die res van die tyd is daar maar min besoekers aan die hoofstad.

Amper reg rondom Montevideo is wynplase en hul wyne is geurig en kompleks, sulke dieprooies wat die perfekte pasmaat vir hul steaks is.

GROENER AS GROEN

Soos jy deur die platteland van Uruguay reis, is dit die een golwende groen heuwel op die ander. Sjokoladebruin biefstukke-in-wording herkou langs die pad en plaashuise en skure lyk of dit aan die begin van die vorige eeu gebou is.

‘N NEDERSETTING VAN LANK GELEDE

Colonia del Sacramento lê op die bruinerige Rio de la Plata-rivier en kry baie besoekers van Buenos Aires wat per veerboot vir ‘n dagekspedisie oorvaar. Sit egter ‘n dag of drie uit en bly oor. Om eerlik te wees, is hier nie veel om te doen nie, maar jou siel voel verkwik na jy deur die kobbelstrate gedwaal het en Colonia het  verskeie restaurante, die een beter as die ander.

El Drugstore is ‘n kakofonie van kleur en voor hul deur staan ‘n rammelkasmotor met ‘n tafel waar jy kan aansit, binne-in. El Meson de la Plaza is so half aan die kant van die dorp en na jy eers een keer hier was, wil jy keer op keer terugkeer. Van pasta tot salm, van sweserik tot verskeie ander vleisgeregte, net mooi alles is ‘n gastronomiese ervaring. Pulperia de los Faroles lok baie mense en ons is bang ons mis uit as ons nie hier ook aansit nie. Die seiljagklub het  ‘n elegante restaurant met ‘n uitsig oor die water.

Behalwe om die innerlike in Colonia del Sacramento te verkwik, kan jy ook die vuurtoring (hier word dit ‘n faro genoem) uitklim of die straatjies, nou en breed, verken. Jou beursie sal moontlik ook heelwat platter daar uitsien, want hier is genoeg snuffelwinkeltjies. Calle de los Suspiros met sy vuilpienk, platdak-huisies is die mees fotogeniese straatjie in die dorp en jy sal dalk ‘n rukkie moet wag voor jy jou foto sonder enige mense in die agtergrond kan neem.

Colonia del Sacramento is die oudste dorp in Uruguay en is in 1680 deur die Portugese as kolonie verklaar. Van 1680 tot 1811 het die Portugese en Spanjaarde tougetrek oor hierdie dorpie of altans kolonie.

‘N ARGENTYNSE PROVINSIE

Verder kuslangs af word tong-in-die-kies ‘n provinsie van Argentinië genoem. In Punta del Este en sy buurdorpies, Jose Ignacio en Maldonado, het baie Argentyne argitek-ontwerpte strandhuise. 

Punta del Este is bekend vir sy vingerklippe op die strand waar die Rio de la Plata in die see uitmond, maar as jy langs dit staan, is dit maar onindrukwekkend. Punta del Este is die plek om gesien te word en hier word deurnag party gehou. Jy kom hiernatoe om gesien te word en die ontwerperswinkels gee ‘n aanduiding van wie graag hier kom ontspan of spog met wat hul kan bekostig.

Maldonado grens aan Punta del Este. Hier is – tussen die moderne ontwikkelings en woonstelgeboue – ouer huise met groot tuine, maar dit beteken glad nie ‘n gebrek aan styl nie. Jy kan óf vir ver op die strand stap óf die San Fernando de Maldonado Katedraal gaan besigtig. Die El Puente de la Barra brug sien jy sommer met die inkom vanaf Punta del Este se kant.

Jose Ignacio lyk miskien met die eerste aanblik soos die stiefboetie van die ander twee, maar dis erg misleidend. Tussen die oop erwe en die verbeeldinglose middelklas huise het ‘n hele paar bekendes woonplekke.

Buite Punta del Este is Casa Pueblo, ‘n unieke hotel met ‘n unieke styl. Byna alles is wit en dis lank voor dit de rigueur geword het, so ontwerp. ‘n Titseltjie blou hier en daar herinner aan die see daar onder en verder is dit die ene sagte rondinge wat aan ‘n wulpse vrou herinner.

Net Maldonado het nie sy eie vuurtoring nie – Punta del Este se vuurtoring is vuil-liggeel en is op ‘n heuweltjie in die dorpie self en Jose Ignacio s’n is lank en skraal en dit voel asof hierdie vuurtoring inspirasie vir legendes kan verleen. Die trappies na bo is so nou dat dit lyk asof dit vir kindervoetjies gebou is.

Almal vlieg mos na Buenos Aires of stap na Macchu Picchu, Peru – die meer onbekende Uruguay bied baie meer as wat jy jou ooit kon verbeel. En dit terwyl jy plek-plek amper na die enigste toeris voel.

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 12, 2023 by in Suid-Amerika.