ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

TEE EN TRUFFELS, SJOKOLADE EN SKONS

First published in Die Burger, June 2013

(Since this article has been published some details have changed)

Op elke rakkie van Nest vang iets anders jou oog

Tee vir twee, twee vir tee

Sjokoholis of nie, ‘n soethappie elke dan en wan doen selfs die siel goed, al ly die heupe daaronder.

Daar’s selfs wetenskaplike studies wat bewys dat sjokolade jou langer laat leef; jou endorfiene stimuleer en jou help om alledaagse spanning beter te hanteer. Hoeveel meer verskonings het ‘n mens (of is dit net vroue?) dan nou nodig?

Tee vir twee

Op een van die eerste dae hierdie winter wat die reën liggies, maar deurdringend begin neersif, maak ek my tuis voor ‘n knetterkaggel in ‘n ou herehuis net buite Franschhoek. By hierdie wynplaas wat eens aan Graham Beck behoort het, druk Antonij Rupert Wynlandgoed nou ‘n nuwe stempel af. Dit sluit ‘n middagtee in wat individueel vir ‘n minimum van twee mense voorberei word. Bespreking is noodsaaklik.

Drink tee in een van die ou herehuise by Rupert Rotschild

Drink tee in een van die ou herehuise by Rupert Rotschild

Daar is ‘n verskeidenheid geurige tee waaruit jy kan kies. Maar soms is ‘n pinkie-in-die-lug drinkdingetjie nie hoog op jou dag se lys van prioriteite nie. So bevind twee van ons onsself op ‘n dekadente sofa knus by die kaggel met ‘n glasie of drie L’Ormarins Brut Classique op ‘n triestige agtermiddag.

Behalwe vir komkommer-en-roomkaas broodjies-minus-korsies en salmhappies wat die koningin sou geval, is die res van die drie-laag koekstaander ‘n soettand se droom. Aarbeitertjies, sjoksalami, botterbroodjies, rooifluweelkolwyntjies en tradisionele koeksisters – met die verfrissende gebruik van kruie uit hul eie tuin – daag ons uit om nie kilojoules te tel nie.

Mooi, mooier, Myatt

By Myatt Café and Chocolatier op die boonste vlak van die Waterfront sou ‘n Parysenaar in haar potloodrompie en polvye tuis voel. Tog blyk dit ook ‘n gunsteling plek vir sakemanne met skootrekenaars te wees. Dalk is hul heimlik verlief – of eerder versot – op die ongewone kurwes van die wit-en-goue teepotte.

Sit in 'n elegante glaskas op die boonste glasvlak van die Waterfront-sentrum

Sit in ‘n elegante glaskas op die boonste glasvlak van die Waterfront-sentrum

By Myatt bespeur ek ‘n kinderlike speelsheid, so asof hulle weet hulle hoef hulself nie te ernstig op te neem nie. Die lewe is mos altemit ernstig genoeg.

As jy in hierdie glaskas – met swart kandelare wat lyk asof hul op die tafeltjies gaan drup – plaasneem, voel die lewe sommer na ‘n lied. ‘n Heserige Jacques Brel-lied.

Myatt bedien wortelkolwyntjies waarop marsepeinworteltjies skeefweg lê en pienk tertjies wat soos streepsuikerkieries lyk; sjokkolwyntjies spog met blou magrietjies en blinkertjies; en honderde-en-duisende strooiseltjies asook strikkies word mildelik ingespan.

  • By myattcafe.com kry jy ‘n voorsmakie van hul filosofie; hul koeke, kolwyntjies, makaroens en sjokolades; sowel as hul geskenke.
  • Myatt Café en Chocolatier is by Winkel 6244 aan die Waterfront. Skakel hulle by 021 418 8844 of e-pos myattcafechocolatier@myatt.co.za
Die Engelse drink graag tee

As jy ‘n teeliefhebber is, het jy heel moontlik jou gunsteling teewinkel/kafee

Die kroon van die sjokolade-skeppings

‘n Wyn-en-sjokoladeproe verdryf die huidige winterkoue so gou asof jy die towerwoord simsaliebim voor ‘n geslote deur uiter sodat die deur daarna terstond oopswaai.

Twee bibberende Paarliete voel dadelik tuis toe Marisa Lucas ons entoesiasties verwelkom en ons op ‘n tikkie geskiedenis van La Couronne (wat ‘die kroon’ beteken) getrakteer word. La Couronne was die naam van die vegskip waarmee die Le Roux-familie, die eerste eienaars van hierdie plaas, in 1688 in die Kaap aangekom het. Dis nie al wat ons leer nie – vir die eerste keer leer hierdie twee brunette wat bakboord en stuurboord nou eintlik beteken. Sommige van die wynname hou by die skeepsnaamtema soos die La Couronne Starboard White en die La Couronne Portside Red.

Ons twee wynliefhebbers proe Merlot Rosé saam met Turkish Delight; Sauvignon Blanc met ‘n veselperske-witsjokolade; Merlot met ‘n donker sjokkie gevul met donker caramel; La Couronne se Portside-versnit (Merlot, Cabernet Franc, Petit Verdot en Malbec) met ‘n truffel; en laastens muskadel (afkomstig van Calitzdorp) met kaneelsjokolade.

In die somer word ongehoute Chardonnay in plaas van Merlot bedien; piekniekmandjies word ook in die vooruitsig gestel. Vra in ‘n stroopsoet stemmetjie of jy ook van die Malbec kan proe – dis die eerste Malbec wat in die Franschhoek-vallei gemaak is.

‘n Teepot word as advertensiebord in Engeland ingespan

Daar is maar net een Tafelbaai (Hotel)

Die wie’s wie van Hollywood (en die res van die wêreld) het al hier gebly. As dit nie Michele Obama is nie, is dit die president van Tanzanië, of die Parlotones. Josh Groban en F.W. de Klerk het al hul kop op die Table Bay Hotel se kussings neergelê.

Dis dus nie onmoontlik om jouself in die geselskap van uitgesoekte geledere te bevind as jy hier kom middagtee geniet nie. Maar ag wat, dis net so genotvol om oor die hawe uit te kyk terwyl jy telke male heen en weer na die spogtafel stap terwyl ‘n vars potjie tee vir jou aangedra word.

By die Table Bay bestaan middagtee uit drie gange. Eers word soutighede van quiche tot salmbroodjies by die tafel bedien; daarna volg botterbroodjies; en laastens begeef almal hul na ‘n tafel wat die oë laat rek. ‘n Psigedeliese kaaskoek, ‘n lemoenkoek met pienk spinsuiker wat soos een van Fergie se dogters se hoede verrys; gedekonstruktureerde melktert in glasies; boeboer met laventel gegeur – die een suikersoet gastronomiese skepping na die ander.

Die gemakstoele spog met botanies-geïnspireerde stoffering; die sytafeltjies het uitskoppote; ou kaarte en seilskepe knipoog vanaf die mure – kortom, dis die ideale plek om laatmiddag tee te drink op die wyse waarop hierdie ritueel sou ontstaan het.

2 comments on “TEE EN TRUFFELS, SJOKOLADE EN SKONS

  1. Dr Christa van Staden
    April 29, 2021

    Ek gaan dit moet toets.

  2. ilsez
    April 29, 2021

    Hi Christa – Dankie vir jou kommentaar. As jy die kombinasie van tee en truffels asook sjokolade en skons gaan toets, laat weet! As jy van die plekke wil gaan besoek, let asb op bo-aan die artikel – van die plekke het al toegemaak of ‘revamp’ voor covid nog alles om ons op sy kop gekeer het.

Leave a comment

Information

This entry was posted on May 16, 2020 by in Afrikaans foodies.