ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

In en om Riebeekvallei

First published in Rapport, December 2021

Dis die Swartland se ‘geheime bestanddeel’

Dis min wat ‘n distrik met hul eie revolusie kan spog! Darem bygesê, ‘n vreedsame revolusie.  

‘n Revolusie waarvoor jy ‘n kaartjie vir ‘n feestelike wynproe kon koop en dan onseremonieel versoek is om geen lipstiffie of parfuum aan te wend nie, maar wel jou swemklere onder jou uitrusting aan te trek. Dis per slot van sake nie ‘n grap om 8 000 glase met lipstiffieblertse te was nie, het die uitnodiging gelui …

Só word daar in die Riebeekvallei (www.riebeekvalley.info) uitgehang! Altans, so is daar onder die vaandel van die Swartland Revolusie makietie gehou, “babelasburgers” bedien en Swartlandse wyne leer ken.

Die Swartland Revolusie is net oor ‘n dekade gelede gestig om aandag op die internasionale gehalte van dié streek se wyne te vestig. Met hul missie is vervul, is die wynrevolusie ontbind, maar Swartland Independent Producers (swartlandindependent.co.za) gaan steeds van krag tot krag.

Riebeekvallei is juis bekend vir hul wyn en hul olywe, vir gastehuise waaruit jy kan kus en keur en vir gastronomiese wegbreeknaweke.

‘n Geheim vir kleim afsteek

Op die toerismewebwerf riebeek-valley.com spog die “stadsvaders” dat hul vallei as “die bes bewaarde geheim van die Wes-Kaap” en die “Franschhoek van 15 jaar gelede” bekendstaan.

Die tweelingdorpe Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes mág maar spog.

Beide lê aan die voet van Kasteelberg, ‘n vrystaande bergkoppie wat, soos die naam aandui, aan ‘n kasteel herinner.

Die naam “Riebeeck Casteel” is vir die eerste keer deur ene Pieter van Meerhof gebesig.

Van Meerhof is in 1661 deur Jan van Riebeeck onder leiding van korporaal Pieter Cruythoff op ‘n binnelandse ontdekkingsreis gestuur. In Van Meerhof se “”Journaelse aentyckeninge, gehouden by den onder chirurgyn Pieter van Meerhoff” is van dié berg, met sy naam ter ere aan Van Riebeeck, melding gemaak.

Met Pieter Cruythoff Sparkling Brut van Riebeek Kelder (riebeekvalleywineco.com)  kan jy ‘n heildronk drink op die “ontdekker” van die Riebeekvallei.  Dié kelder lê knap buite die dorp.

‘n Boer maak ‘n plan

Soek jy die rustigheid van ‘n plaaswegbreek is Kalmoesfontein (kalmoesfontein.com) , die tuiste van AA Badenhorst Familiewyne op die Jakkalsfonteinpad slegs 33 km vanaf Riebeek-Kasteel, waarheen jy moet mik.

Verblyf is in die wynmakerskothuis, ‘n plaassilo-gebou of gerestoureerde stalle.  Van die vensterrame, deurkosyne en kombuistoonbanke is van eikehout vanuit Frankryk en Slowakye, afkomstig van een van die grootste wynvate in die wêreld, voorheen in besit van die KWV.

Pak jou swembroek in sodat jy in die plonspoel vir die gebruik van gaste kan ontspan.

Verneem vooraf of jy middagete kan bespreek. Ek het gedog nét my man en ‘n wynmakervriend kan geelstert gaarmaak tot ek op Kalmoesfontein se stoep aan hul resep weggelê het.

Terwyl jy nou hier is, is dit tyd om hul gefortifiseerde wyn Caperitif (caperitif.com), ook bekend as Die Kaapse Dief, te leer ken.

Wat word by Caperitif gevoeg om ‘n unieke smaak te verkry? Nou vra jy!

Die kort weergawe van die storie is dat die American Bar in die Savoy Hotel in Londen tydens die Amerikaanse verbod op alkohol (1920-1933) ‘n geheime bestanddeel wat uit Suid-Afrika afkomstig was, in sekere skemerkelkies gebruik het. Dié resepbestanddeel is in die Savoy Cocktail Book uit 1930 vermeld, maar niemand het presies geweet wat dit was nie.

Kalmoesfontein se mense en hul vriende het agtergekom dat die kalmoesplant (Acorus calamus) wat op die plaas groei, iets met dié geheime bestanddeel te doen het. Of so beweer hulle … na genoeg The Fourth Rabbit (the4thrabbit.com) , ‘n 100% agave mescal, amper soos witblits, wat vir my so sterk was dat ek vermoed jy kan ‘n kolonie konyne met een bottel piekel.

Caperitif smaak lekker saam met jenewer. Kalmoesfontein sweer by hul Jan Smuts-skemerkelkieresep: ¼ elk Caperitif, jenewer, toniekwater en granaatsap. Die drankie is natuurlik vernoem na dié veldmaarskalk, politikus en filosoof wat in die laat 1800’s in die Swartland gebore is. Die politikus D.F. Malan is ook in die omgewing gebore.

Wys vinger saam met PW

Gepraat van politici, in die kroeg by die Hermon Hotel (hermon.co.za)  lê PW Botha (ook bekend as Die Groot Krokodil), berugte staatspresident in die 1980’s, vanuit ‘n doodskis vir jou en loer! Gaan kyk self as jy my nie glo nie.

Daai gomlastiekgesig sal jou die bibberasie gee; al swaai hy nie meer ‘n dreigende, opgepofte wysvinger nie. Loer ook na – en giggel oor – die vergeelde koerantberig oor “Riebeek-Kasteel se woelige weduwee”.

Hermon is ‘n gehuggie sowat ‘n kwartier se ry vanaf Riebeek-Kasteel wat sy ontstaan te danke het aan die spoorweghalte op die takspoorlyn wat by Porterville eindig, met stasies by Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes. Boere het destyds met die trein hul produkte na die markte vervoer.

Hermon is vernoem na ‘n berg wat in Deuteronomium in die Bybel genoem word: “Ons het destyds die gebied van die twee Amoritiese konings oos van die Jordaan afgevat: die gebied van die Arnonrivier af tot by Hermonberg, 9die berg wat Sirjon genoem word deur die mense van Sidon, en Senir deur die Amoriete.” (Deut. 3, vers 8-9).

Die rooigeverfde kafee oorkant die hotel verkondig egter in groot letters ‘n boodskap van ‘n ander aard: “Dors ken geen tyd of seisoen.” Dit dien perdalks as ekstra aansporing om ‘n draai by Hermon se kroeg te maak.

J staan vir jenewer

Terug by jenewer. Die Royal Hotel Riebeek-Kasteel is nie net bekend nie as die oudste hotel in die Wes-Kaap (volgens hul webwerf (royalinriebeek.com), maar ook vir hul jenewerproeë. Só ‘n jenewerproe alleen is al genoeg rede om by dié hotel in te boek, hoewel verreweg nie die enigste rede nie.

‘n Kuier op hul weergalose hotelstoep het ek al menige male meegemaak; ‘n oorslaap is hoog op my moet-doen-lysie. Moet ook nie die 150-jaar oue kroeg geringskat nie!

‘n Paar treë af in die straat troon die NG Kerk Riebeek-Kasteel bo die dorpie uit. Die kerktoring is sigbaar van amper enige plek in die dorp, ook vanaf die buitewyke. 

Skuins oorkant die hotel is The Wine Kollective (thewinekollective.co.za) wat wynliefhebbers en woordsmede sal bekoor. Die wynname op die rak is alleen ‘n besoek werd. Verkneukel jou in name soos Testalonga I am the Ninja, I wish I was a Ninja, El Bandito en Keep on Punching; Intellego Kolbroek en The Sleeping Co-Pilot; AA Badenhorst Ramnasgras en Bokveld Pinot Noir; Hermit on the Hill Skermunkel Semillion en Koggelbos Chenin; Jasper Swerwer, Porseleinberg, City on a Hill en Mysteries Die Ou Man Tinta Barocca.

Gooi ook ‘n oog oor die innoverende wynetikette.

Kyk na Kloovenburg

As daar één wynlandgoed is wat jy in die Riebeekvallei moet besoek, is dit Kloovenburg (kloovenburg.com). Kloovenburg is wyd bekend vir hul wyn, olywe én olyfprodukte.  

Net buite Riebeek-Wes lê Riebeekvallei-tuinsentrum (riebeeknursery.co.za). Jy hoef nie noodwendig groen vingers te hê om hier in te loer nie. Hier kry jy nie net orgideë, vetplante en bonsai’s by Die Boomhuis-kwekery nie, maar ook die Krem a Tart Restaurant met ‘n lieflike loodglasvenster wat druiwetrosse uitbeeld, ‘n inspirerende glasatrium wat aan ‘n kunsgalery herinner en ‘n deli wat jou noop om jou beursie uit te haal.

Die woord skilderagtig is dalk ‘n geykte term om ‘n dorpie of distrik te beskryf, maar in die geval van Riebeekvallei, Riebeek-Kasteel en Riebeek-Wes – met hul landelike karakter – is dit wel uiters gepas.

Die pragtige Victoriaanse boustyle van baie van die ou huise teen die agtergrond van wingerde en olyfbome gepaard met kuierplekke soos Tin Roof Taverna in ‘n herehuis van meer as 100 jaar oud (riebeekkasteel.co.za) waar Che Guevara of Mao Tse Tung oor jou skouer loer en Café Felix cafefelix.co.za waar jy sukkel om jouself uit die feetjieligtuin weg te skeur, sorg vir ‘n plaaslike reisbestemming wat jou oor en oor sal laat terugkeer.

Soos wat ek al jare lank doen na ‘n dekadente middagete, beplan, wat in ‘n impromptu oorslaap ná ‘n tuinteatervertoning geëindig het…

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 29, 2023 by in Die res van Suid-Afrika.