ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Swellendam se bors swel van trots

First published in Die Burger, September 2014

Swellendam, die derde oudste dorp in die land, is in die 1740’s gestig, net minder as ‘n eeu na Jan van Riebeeck sy voet aan wal in die Kaap gesit het.

Swellendam se hoofstraat leen hom daartoe om te voet verken te word

Vyftig jaar na die stigting het ‘n paar Swellendamse swernote die magistraat van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie by die dorp uitgeboender en hulself tot republiek verklaar. Gerugte lui – altemit tong-in-die-kies – dat hulle selfs sover gegaan het om aan dié Overbergse dorp die titel hoofstad van die wêreld te probeer besorg.

As hulle dit toe kon gedoen het, kan hulle dit seker weer doen, is daar in 2011 gereken. Dis toe presies wat die voorbarige Swellendammers op 18 Junie 2011 gedoen het. Hulle het darem as toegewing ‘n paar van die omringende distrikte by hierdie plattelandse rebellie ingesluit.

Weliswaar het jy nie ‘n paspoort nodig om die nuutgeskepte republiek te besoek nie.

Eers koffiekapitaal

Op die rivieroewer by La Belle Alliance kwetter ‘n swetterjoel voëltjies in die bome – stinkhout, syringa, akker en palms – terwyl die rivier onder die houtdek murmel.

Die restaurant en teetuin is in die ou tempel van die Vrymesselaars; ‘n titelakte van 1914 is binne te sien. Daar is so ‘n stemmige gevoel wat getemper word deur ‘n wynbottelkandelaar sowel as ‘n versameling blou glas op die verhogie waar geheimsinnige omies eens beraad gehou het.

Maak plek vir middagete se kilojoules deur bult op te stap. Verkry idees om jou huis ‘n nuwe voorkoms te gee; ‘n kans om aan Belgiese sjokolade te knibbel; en ‘n geleentheid om kuns te waardeer.

By La Pop is toe nie lappoppe nie, maar modieuse vilthoede, landsvlagkussings en sêgoed soos: “Na al die jare maak ek weer ‘n plaashek oop. Waar het my paaie tog nie geloop?” wat jou hart op ‘n punt laat trek. By Lemon & Lilac is outentieke swartbordverf en meubels wat met ‘n verfkwas ‘n nuwe baadjie gegee is.

By Oppi-Stoep kan jy jou volgende kafeïeninspuiting kry, want Swellendam is ‘n plek waar ‘n mens jou dag kan r-e-e-e-k.

Soettande kan vir wodkakaramelsjokolades of Hollandse stroopwafels afsuiker na Chocolat Etc. Skuins oorkant is toerisme-info in die Sipiershuis wat lyk asof Gouelokkies en die drie beertjies daarin kon gewoon het.

Die Drostdy Museum word in verskeie geboue gehuisves. Een van hierdie geboue is inderwaarheid een van die oudste bestaande geboue wat oorspronklik as die drostdy (magistraatskantoor) gedien het.

Besluit self of jy al langs die ellelange hoofstraat van Swellendam gaan wandel; dis nogal ‘n entjie se loop.

‘n Wit kerk en ‘n blou winkel

Net oor die brug is die dorpsnaam swierig uitgespel; net daarna verrys die imposante Nederduits-Gereformeerde Kerk – met ou begraafplaas op die kerkgronde –  wat kompleet lyk soos ‘n oordoende troukoek. Die toring alleen het ‘n weerhaan, windwyser, kerkhorlosie en twee kleiner sowel as ‘n groterige balkonnetjie.

Die eerste versierde traliehek is waar Hartsgoed met kinderbeddegoed en –klere, breekgoed met hartmotiewe en geskenklint pop speel. Hierna volg Annette’s en Penny Lane.

Die vrolike blouselblou muur van Turkoois Blue lok jou na binne. Lees eers die pittige woordspeling langs die deur. Van bloemers tot skilderye is te koop. Of jy nou sigeunerneigings het of heimlik graag Frans wou wees, hier’s iets vir jou.

‘n Kolletjiestabberd vir ‘n hopelose romantikus, ‘n swart fluweeljas vir ‘n dromer, ‘n ligpienk voëlhok met blomme getooi wat ‘n boskind gelukkig sal maak, en fyn teekoppies met silwer koekvurkies sowel as rooskoekblikke vir ‘n kombuisnimf. ‘n Rooi lakleerjas laat ek teësinnig aan die spyker hang.

Speel met feë of en vertoef in ‘n tronk

By Sulina Faerie Sanctuary word daar al twintig jaar na die wel en wee van feetjies (en engele) wat nie ‘n ander heenkome het nie, omgesien. Ontdek weer jou innerlike kind en speel saam.

Op die sypaadjie begroet drie rooi paddastoele met wit kolletjies – groot genoeg om daarop te gaan sit – jou. Jy moet jouself inhou om nie te loer of daar aan die onderkant ‘n kabouter wegkruip nie.

Op die uithangbord dartel skoenlappers en feetjies; ‘n fee met pers oogskadu wat in haar vorige lewe diens as ‘n winkelpop gedoen het, is die eerste bonatuurlike wese wat jy sien. Herfsblare klou aan haar krulhare en sy’t ‘n blarekroon op haar kop.

Skakel liefs vooraf om jouself van die openingstye te vergewis; anders gaan jy dalk net na die mannekynfee deur die tralies kan loer. Onthou ook dat alle kinders wat die feetjietuin besoek, onder toesig van ouers moet wees.

‘n Tronk is ‘n plek om te vermy, maar nie as dit die Old Gaol Restaurant is nie. Tot laatmiddag kan jy hier roosterkoek op die kole gemaak;  melktert in ‘n koperpan gebak; slaai met roostergroente, biltong en kaas; waterblommetjiebredie en beesstert geniet.

As jy meer tyd het, besoek ook:
·        Wildebraam Bessieplaas vervaardig bessie- en rissieprodukte sowel as likeurs. www.wildebraam.co.za
·        Tredici Restaurant & Deli glo – waar dit kos aangaan – aan eenvoud én oordaad.  www.tredici.co.za
·        Rain Spa weet hoe om jou te pamperlang. Dis nie noodwendig nodig om vooraf te bespreek nie.  www.rainafrica.com/spa/

Leave a comment

Information

This entry was posted on October 14, 2018 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .