ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

LEKKER OP DIE LYNEDOCH-PAD

First published in Die Burger, August 2013

Al die seisoene is mooi in die Boland

Ek voel so ietwat soos ‘n ontdekkingsreisiger van ouds, verbeel ek myself, toe ek die Lynedoch-pad begin verken. ‘n Knobbelrige paadjie, ‘n U-draai hoewel darem nie voor aankomende verkeer nie, ‘n paar onverwagte ondervindinge.

By Spier is verskeie kunsuitstallings te sien

As studente van ouds is hier smiddae wyn en port geproe by Spier – hoewel die term proe debatteerbaar is – en aande om gedans by die destydse Drie Gewels Hotel. Die eerste Voëlvry-konsert (met wyle Johannes Kerkorrel en Bernoldus Niemand)is in die laat tagtigerjare deur sowat 4000 studente by die einste Drie Gewels bygewoon. Die Instituut vir Volhoubaarheid – waarvan die Universiteit van Stellenbosch ‘n vennoot is – word nou hier gehuisves.

Ahooi, skip in sig

Nie net Drie Gewels en Spier – hoewel beide in totaal nuwe gedaante – is steeds op die Lynedoch-pad te vinde nie. Behalwe ou staatmakers is hier ‘n paar nuwelinge wat rock.

'n Lewensgrootte beeld wat langs die pad te koop aangebied word

Op die verste punt m.a.w. naaste aan die N2 net anderkant die brug word “Africa Sadden Art” (skakel 0789720513 as daar niemand op die perseeltjie is nie) se besondere sementbeelde verkoop. Vroue met kruike op hul koppe of in hul hande en ‘n amperse lewensgrootte leeu staan kordaat langs die pad agter ‘n lendelam heining.

Kaapstad se filmateljees vier Universal se 100-jarige bestaan

Vanaf die oorkant van die N2 steek hemelhoë maste sonder seile onvanpas bo die veld uit. As jy nie van die Wes-Kaap is nie, kan dit jou terstond heeltemal laat rigting verloor. Toemaar, dis een van Kaapstadse Filmateljees se opwindende projekte. Die afdraaipaadjie na hul domein heet heel tong-in-die-kies Film City Boulevard. ‘n Aardbol by die ingang herdenk Universal se honderdste bestaansjaar.

Op Vergenoegd se werf by Pomegranate Restaurant kwetter ‘n swetterjoel ganse – een van hul wynreekse heet gepas Runner Duck – en ‘n hond waai gemaak-kwaai sy stert. Die kunskothuisie met sy spitgraaf-graatvisse teen die muur is ongelukkig nie oop nie. Knap langs die weggesteekte ingang van die wynlandgoed staan die kleine St Paul’s Church met ruklipmosaïekkruise op eenvoudige graffies wat die hart roer.

‘n Windpomp – en wyne – so na my hart

Net ‘n rapsie verder terug op die Lynedoch-pad steek ‘n windpomp kop uit in ‘n plaasdam. As jy dit nog nie vantevore gesien het nie, kom jy te min uit die huis uit. Maak ‘n plan om te kom kyk hoe dit lyk as daar geen tekort aan water blyk te heers nie.

'n Proelokaal waar dit voel of ou vriende gereeld saamkuier

Maar meer nog, kom proe wyn by Meerlust. Hul proekamer is spelerig en onortodoks – ‘n onverwagse plesierigheid by ‘n plaas wat reeds in 1693 deur Simon van der Stel aan die eerste eienaar toegeken is en wat sedert Januarie 1757 aan die Myburgh-familie behoort.

Meerlust se proelokaal het verfrissende kunsplakkate orals teen die mure

Met die indrentel brand die kaggel en ‘n gespikkelde Nguni-vel lê op die grond. Teen die mure pryk kunsmuseumplakkate van regoor die aardbol.

DSC_0498

Ek sien – ‘n “beestachtig mooi” bok van die Van Gogh-Museum; Superman wat afskeid van Kuba neem;  ‘n psigedeliese Mao Tse Tung deur Andy Warhol; herinneringe aan die Guggenheim Museum en die Metropolitan Museum van Moderne Kuns in New York; ou Coke-advertensies; en Che Guevara met Mickey Muis-ore. Die besoek aan Meerlust raak die eerste onontdekte juweel op hierdie pad.

‘n Lelie van ‘n aspidistra

By Aspidistra Kwekery kan jy ure verwyl en inspirasie vir jou tuin én jou huis kry. Dus vir dié met én sonder groen vingers (waarmee geduld ook gewoonlik gepaardgaan).

'n Onnutsige kat op Aspidistra se dak

‘n Halwe teepot is teen ‘n mosaïekraam vasgemessel; engelbeelde hou waterbakke vir voëltjies vas; oranje blommetjies is in gieters geplant; ou Joko-teeblikke is orals ingespan; pers violette hang aan die nok van die dak; ‘n geroeste tuinskêr dien as versiering; ‘n sinkbad se binnerand is dieppienk; en ‘n wingerdmandjie word blou geverf.

‘n Lui kat of twee lê opgekrul in die potplante  – daar sal eers later aan die pootwassessie gedink word. Gaan sit op die vrolike kussings in die teetuin en oordink jou nuwe tuin na jy al Aspidistra se idees in oënskou geneem het.

By Stellenbosch Vineyards is daar sakpasontbyte beskikbaar; hulle eende dien klaarblyklik as waghonde hoewel hul met die eerste oogopslag erg vriendelik voorkom; en Arniston oftewel Waenhuiskrans in die Overberg dien as inspirasie vir hul Arniston Bay-wynreeks.

welmoed-se-eende-lyk-allesbehalwe-vreesaanjaend.jpg

Of jy nou kom piekniek, by ‘n restaurant aansit, ‘n konferensie moet bywoon; of jy kuns kom besigtig, die amfi-teater besoek, deur die tuin wandel – alles word hier op die Spier-manier gedoen. Dit beteken omgewingsvriendelik, sag op die oog en ten alle tye professioneel.

Eagle Encounters wat hulself toewy aan roofvoëlrehabilitasie, is ook op Spier-landgoed;  grond, water en elektrisiteit is skenkings van Spier.

O brandewyn, moet my nie laat staan nie

Die laaste juweel blyk toe van vyfster-gehalte te wees. By Van Ryn Brandewynkelder verrys ‘n houtskool-en-wit gebou in ‘n doodlooppaadjie. Die dag is triestig, eintlik te triestig.

Jan van Ryn met 'n welige moestas

Binne stap jy oor ‘n warm Persiese mat terwyl Jan van Ryn uit sy swaar raam vriendelik vir jou knik.  Met so ‘n moestas pla die koue hom seker nie. Sagte geel lig skyn van agter glaspanele wat die illusie van muurnisse skep. Die dag voel sommer minder triestig.

Triestig buite, warm binne by Van Ryn

By Van Ryn kan jy meer van distillering en kuipery leer; verskillende brandewynproeë insluitende met sjokolade en koffie of Toskaanse neutbeskuitjies word aangebied; ‘n skemerkelkie geliefd onder engele word bedien; en ‘n wye reeks sigare is beskikbaar.

Andersins kan jy in een van hul leer(of koordferweel)sofa’s wegsak, ‘n kaasbord met of sonder charcuterie laat kom, ‘n skeutjie brandewyn daarby, en tjil.

 

WAT JY NOG MOET WEET
·        Vergewis jouself vooraf wat jy by Meerlust moet proe by www.meerlust.co.za/

·        As jy ‘n voorliefde vir windpompe het, sal www.windpumps.co.za  jou na aan die            hart lê.

·        Raak aansteeklik opgewonde oor Aspidistra by http://pictureperfectmemoriesforlife.wordpress.com/2013/04/04/my-first-visit-to-aspidistra-nursery-march-2013/
·         Lees in Die Burger se argief-artikels oor hoe daar destyds oor Drie Gewels berig is:  http://152.111.1.87/argief/berigte/dieburger/1991/04/20/4/5.html
·         Leer meer van brandewyn op die volgende elegante webtuiste:                                 www.vanryns.co.za

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 28, 2018 by in In die Boland and tagged .