ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

STAP VIR STAP DEUR STOCKHOLM

First published in Die Burger, mid 2011

Dis nie nodig om na ABBA te luister, kitsmeubels by IKEA te begeer of met ‘n Volvo te ry om ‘n besoek aan Stockholm te geniet nie.

BOOTTOER DEUR DIE SWEEDSE ARGIPEL

Lank terug is die afgeleë argipel bewoon deur boere, vissers en jagters. Daarna het dit mode geword vir kunstenaars om ‘n huisie hier te huur raak. Die eilandgroep (Stockholm bestaan uit sowat veertien groterige eilande) het nog steeds denne- en berkebome, granietrotse en baksteenkleur waterslagplankgeboutjies (clapboard) wat soos skuurtjies lyk.

Daar’s verskeie boottoere uit Stockholm wat van ‘n uur of wat tot talle ure duur. Hoe verder jy gaan, hoe meer kry jy die indruk van hoe die mense werklik hier leef.

die-meeste-van-die-argipelhuise-se-styl-stem-ooreen

  • Om te kiek: As jy min tyd tot jou beskikking het, is die Stockholm-Brugtoer ook ‘n opsie.
  1. VERWYL DRIE UUR IN VASA MUSEET

Soos baie ander dinge in die wêreld is hierdie skeepswrakmuseum ‘n moet-sien, maar soos min ander dinge, is dit enig in sy soort. Die Vasa het in 1628 op haar nooiensvaart gesink en dit voor sy nog die hawe heeltemal verlaat het – op die argipel-boottoer word die plek uitgewys – en is eers in 1961 na 333 jaar op die seebodem gevind en uit die water gelig. Dis seker die fassinerendste om te sien hoe die mense op so ‘n skip geleef het. Die hele museum se temperatuur word streng beheer andersins sou die deur-modder-gepreserveerde Vasa nie in so ‘n goeie kondisie bly nie.

ons-verstom-ons-aan-die-grootte-van-die-skip

  • Om te koop: Die museumwinkel het ‘n wye verskeidenheid geskenke om by die skeepswrak-tema te pas.

 DRENTEL DEUR DIE OU DORP, GAMLA STAN

Besluit vooraf of jy van een besienswaardigheid na die volgende wil drentel en of jy net in die katakombe van straatjies wil wandel, glogg hier en daar wil drink en geskenkies met elk-motiewe wil koop (ek is liggies berispe toe ek van ‘n takbok in plaas van ‘n elk of Europese eland gepraat het). Västerlånggytan het die meeste winkeltjies; die lekkerste mense-kyk plekkies is op Stortorget (Dorpsplein) en die indrukwekkende Storkyrkan (Koninklike Katedraal) is net langsaan.

die-swede-trek-klassiek-en-dowwe-kleure-aan

  • Terwyl jy nou beplan om te gaan: In die winter is hier ‘n Kersmark waar honderde liggies twienkel.

 BIBBER IN DIE YSKROEG

‘n Uur in die Nordic Sea Hotel se yskroeg – uit reuse soliede blokke ys gebou – was die prettigste ondervinding van die hele vakansie. Ons Suid-Afrikaners weet mos nie wat regte koudkry is nie. Hierbinne is dit ‘n konstante minus 5˚ Celsius.

Daar aangekom, kry jy ‘n pelsgevoerde pansjo met handskoene wat aan die punte vasgespeld is. Sodat jy jou soliede ysglas kan vashou en nie met die handskoene kan wegloop nie. Ook is daar nie neersitplek vir die handskoene nie aangesien dit aan die ystoonbanke en sitplekke sal vasvries.

Jy betaal ‘n vaste prys (R170) vir jou eerste 40 minute daarbinne; dit sluit jou ysglas en eerste wodka-drankie in. Jou volgende wodka-drankies is R100 elk.

Slegs as dit baie vol is, verwag hulle van jou om na veertig minute na die meer gematigde temperatuur daarbuite terug te keer.

die-bottels-wodka-en-moderne-kasregister-lyk-skoon-uit-plek

  • Om te drink: Die Wolftrap is die sterkste drankie wat hul bedien en is aanbevole om die koue af te weer. Ook vertoon dit mooi rooi in jou ysglas!
  1. SMELT-IN-JOU-MOND SALM

Salm is die Swede se stapelvoedsel. Jy het nog nie salm geëet as jy dit nie in Skandinawië geëet het nie. Met elke ontbyt was daar saam met die rooibosbessie-muesli salm op die tafel. Salm met dille, salm met roereiers, salm op rogbrood, salm, salm, salm.

  • Ontdek Sweedse cuisine: Die lekkerste haring is ook beskikbaar; sylta is iets waaroor Sweedse grootmense nog steeds ril as hul aan hul kinderdae terugdink
  1. SIT IN DIE SON OP DJURGARTEN

Djurgarten is ‘n boomryke eilandpark wat eens op ‘n tyd die jagplek van die koninklike familie was. Behalwe Vasa Museet, is Skansen, ‘n opelug-museum, en die Nordiese Museum ook hier. Dis die gunsteling uithangplek – as die son skyn – vir die stedelinge van Stockholm.

almal-benut-die-mooi-aande-van-die-kort-sweedse-somer

  • Waar eet ‘n mens? By Wärdshuset Ulla Winbladh.
  1. NEEM JOU BEURSIE NA NORDISKA KOMPANIET(NK)

Stockholm is ‘n elegante stad en die mees elegante Swede doen inkopies by NK wat al sedert 1902 bestaan. NK strek oor verskeie verdiepings. Heelbo is ‘n groot boekwinkel met ‘n aparte Engelse afdeling. Heelonder is die huisgoed. Die glas – veral Kosta Boda en Orrefors – sal jou verlei en die elkhoring-deegborseltjie sal jou laat swymel.

n-bonte-marimekko-tafeldoek-waar-n-mens-kan-sit-en-rook

  • Bederf die mense by die huis: Koop aquavit by NK se Systembolaget of vakuumverpakte takbok by die deli.
  1. BEDERF JOUSELF BY DIE GRAND HOTEL EN OPERAKÄLLERN

‘n Smorgasbord by die Veranda Restaurant van die Grand Hotel is ‘n gastronomiese ervaring. Van hier kyk jy uit oor die Koninklike Paleis en Gamla Stan, die Ou Dorp. As jy gelukkig is, sit daar ‘n Nobel Laureate by die tafel langs jou.

 Net oor die besige straat is die Operakällern (eintlik vier verskillende restaurante) wat oorspronklik in 1787 gebou is. Björn Borg, George Soros en Christina Aguilera was al by die Opera-Kafee – nie dat dit enigsins soos ‘n kafee lyk nie; die plafon lyk of dit in die Sistynse Kapel hoort en daar is vergulde spieëls en – rame oral.

  • Bederf jouself: Die Cadier Kroeg by die Grand Hotel verkoop vonkelwyn per glas.

9.  KOFFIE EN KANELBULLE VIR ONTBYT

As dit nie salm vir ontbyt is nie, is dit groot ronde kaneelbolle en romerige koffie. As dit nie vir ontbyt is nie, werk dit net so goed vir ‘n laatoggendhappie of ‘n vroegmiddag-bederf. Orals sien jy Swede met ‘n cappuccino voor hulle en met die aroma van kaneel wat in die lug hang.

  • Bestel kanelbulle deur te sê: “Jag skulle vilja ha en kanelbulle, tack.”
  1. IN EN OM NORRMALM

Die strate rondom NK is ‘n inkopie-paradys. Swede se reputasie dat hy duur is, loop hom vooruit, maar dis ietwat oordrewe. As jou tyd dit toelaat, kan jy jou klerekas by H&M of Filippa K opkikker, Marimekko-ontwerpe raakloop, ’n nuwe voorkoms by Face Stockholm beplan, en kombuisgeriefies by Designtorget (‘n stappie bokant IKEA) aanskaf.

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 4, 2017 by in Europa.