ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

NEIG NOORD NA DIE ARGENTYNSE ANDES

First published in Die Burger, April 2011

Hoe lykit met ‘n llama-biefstuk? Oukei, jy hoef dit nie so rou te eet nie. Wat van koka-blare kou? Net so ‘n paar kleintjies. Of ‘n paar handevol tot dit voel of jy ‘n bak jellie op jou kop het en jy die wêreld só beskou deur ligrooi jellie…

Salta in Noord-Argentinië is ‘n dorp wat groot genoeg is sodat jy daar kan speel, maar klein genoeg sodat dit te alle tye ‘n rustige wegbreek bly. Ook is daar dag-ekskursies te kies en te keur.

Argitektuur in die dorpie van Salta

Die dorp self het baie Suid-Spaanse plattelandse argitektuur, ‘n groot sentrale plaza met imposante geboue, ‘n uitgestrekte Sondagmark, verskeie goeie restaurante en die vriendelikste inwoners.

Outydse styl in die Andes

Ons los die dorpsverkenning vir later en by die toerisme-buro (naby Plaza 9 de Julio – in Suid-Amerika, soos in baie dele van Afrika, het baie strate datumname) word ons flink gehelp.

Daar’s ‘n trein…nee, dis ‘n bus

Geïnspireer deur wat ons in 1000 Places To See Before You Die deur Patricia Shultz gelees het, boek ons dadelik vir die El Tren a las Nubes (Trein in die Wolke). Die oorspronklike wolke-treintjie loop nie meer nie omdat dit tans herstel word. Tans blyk egter ‘n relatiewe begrip te wees en vooruitsigte dat dit ooit weer gaan loop, is skraal. Daar word egter gesorg dat hierdie aspek nie mediadekking kry nie, lei ons af. Saam met drie Spaanse toeriste klouter ons in ‘n gilgeel bussie.

Die dag word ‘n sintuiglike fees. Ons ril van opgewondenheid om in die Andes-gebergte te wees. Ons omhels amper die eerste llama wat ons sien. Ons verkyk ons aan die kleinboere met hul lae op lae klere, hul blinkswart vlegseltjies, hul skreeuhelder kleure. Ons kou koka wat die toergids vir ons aangee. Volgens die Lonely Planet heers daar ‘n onoffisiële verdraagsaamheid jeens plaaslike mense wat koka kou.

'n Inkopieboetiek in Purmamarca

Die gruisgebergte lyk mineraalryk. Plek-plek sien ons klein cementerios (begrafplasies). Armoedige huisies is uit kleisteen gebou. Oral is wit kerkies.

Toeka se dae het hier ‘n trein geloop wat suiker na Chile vervoer het – ons sien van die brûe waarvan die ontwerp vir enige ingenieur ‘n uitdaging moes gewees het.

Die gids vertel vir ons die legende agter die gereelde altaartjies langs die pad. ‘n Gaucho se vrou het van dors omgekom toe sy oppad was om haar pasgebore seun vir hom te gaan wys waar hy in ‘n burgerlike oorlog geveg het. Tot vandag toe word bottels water by aanbiddingsplekkies langs die pad gelos.

Ons eet middagete by ‘n familie in San Antonio de los Cobres. Die huisies in die dorp lyk soos Suid-Afrika se HOP-huisies, net ietwat groter en growwer gebou. Chile se grens is net om die spreekwoordelike draai. Middagete bestaan uit empanadas (klein Argentynse pasteitjies), herderspastei en geblikte perskes.

San Antonio de los Cobres naby Chile se grens

Oppad terug vertel die bestuurder ons dat hy in België studeer het. Argentinië bied net nie genoeg professionele werksgeleenthede nie en die geld verdwyn in die politici se sakke. Ja, ons weet waarvan hy praat.

Kaktusse is waaragtig groot

Ons sluit die dag af met ‘n glas wyn by die Colonial Hotel gevolg deur ‘n llama-biefstuk by Cava de Piedra skuins oorkant op die hoofplein. My vegetariese reisgenoot ril verskriklik, hierdie keer nie van lekkerkry nie. Ek kou aspris stadig.

Terug na die Andes

Die Andes wink steeds. Ons hop weer vroegoggend op ‘n bussie. Vandag doen ons ‘n ander circuito route. Ons eerste stop is by die Berg van Sewe Kleure (hoewel ek net ses tel).

Hierna is Purmamarca aan die beurt. Dit voel of ons binne-in ‘n Meksikaanse fliektoneel ingestap het. Platdak-kleihuisies met houtdeure, bont geweefde lappe, gevlegselde verkopers – ek kyk, beleef, koop, kiek, staar. Ou tannies verkoop onderlangs koka-blare.

Gekleurde weeflappe

Nog ‘n dorpie. ‘n Turkoois meer. Talle kerkies. So gaan die dag verby.

Slenterdag in Salta

Dit raak tyd vir ‘n drenteldag in Salta self. Ons stap deur lowergroen strate – so anders as Posadas, die vorige plattelandse dorpie waar ons vir ‘n paar aande gebly het. Ons koop weeflappe. Ons neem foto’s van die Iglesia de San Francisco en bekyk die klooster daar neffens. Ons loop houtbokse met silwer beslaan raak wat ons net móét hê. Ons kom op ‘n balletrepetisie af en oopmond verkyk ons ons hoe hul gedrýf word – dis ‘n paar aande voor hul openingsaand. Ons skep asem by ‘n restaurant in ‘n ou trein; die kelnerin ontvang die kos deur die lokomotief se oonddeurtjie. Tamales (mieliemeelkoekies in mielieblare toegedraai) met kaassous gee nuwe energie vir verdere verkenning.

‘n Dag of wat later keer ons met swaar harte terug na Buenos Aires – nie oor Buenos Aires opsigself nie, maar om afskeid te neem voor ons die Cafayate-wynarea besoek het. Ons sou ook graag nog meer tyd in die Andes wou gehad het, dalk nog ‘n keer die Sondagmark probeer leegkoop het, nog ‘n koutjie koka vir daardie afskakel-van-die-moderne-lewe gevoel.

 

 
Terwyl jy daar is:
 
Eet: llama, empanadas en tamales
 
Koop: dik llama-sokkies en gestreepte weeflappe
 
Waag: ‘n koutjie koka
 
Beste restaurant in Salta: Cava de Piedra
 
Moenie misloop nie: ‘n dagekspedisie na Purmamarca

 

Een van elke kleur asseblief

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on March 8, 2017 by in Suid-Amerika.