ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Klim af in Clanwilliam

First published in Die Burger, August 2016

(Since this article has been published some details might have changed)

Daar’s nie net gousblomme in Clanwilliam nie

Tapyte blomme begin al kop uitsteek

Tapyte blomme begin al kop uitsteek

Op die N7 oppad na Clanwilliam om te gaan blommekyk, kan jy ‘n paar interessante feite oor die dorp met jou mede-blommekykers deel.

DSC_0992

C staan vir …. Clanwilliam

Clanwilliam is een van die tien oudste dorpe in Suid-Afrika. Tot 1814 was die dorp as Jan Disselsvalleij bekend.

Daar is 'n paar kerke om in Clanwilliam te gaan besigtig

Daar is ‘n paar kerke om in Clanwilliam te gaan besigtig

Clanwilliam spog selfs met ‘n NG Kerk wat die Blommekerk genoem word – die kerk is in 1864 gebou en huisves die blomuitstallings gedurende die opkomende veldblommeskou. Langs die kerk word tydens die skou mark gehou en in die dorp is kunsuitstallings te sien.

Verken al die strate van Clanwilliam, nie net die hoofstraat nie

Verken al die strate van Clanwilliam, nie net die hoofstraat nie

As jy in Clanwilliam kuier, kyk jy blomme; jy drink (rooibos)tee; en jy eet sitrus. In die omtrek kan jy in Heuningvlei se omte gaan stap; leerskoene wat jou lewenslank gaan hou van Strassbergers aanskaf;en rotskuns van die San op die Sevilla Rotskunsroete gaan bekyk.

Vlugvoetige vastrappers klim graag rots by Rocklands, en by Wolfberg en Truitjieskraal in die Sederberge.

Voor jy die veld in vaar om blomme te kyk, verwyl tyd in die dorp van Clanwilliam self.

Stap om die hoek van die Blommekerk na die eertydse Albrecht Algemene Handelaar in Visserstraat. As jy halflyfgrootte windpompe sien, is jy op die regte plek.

Destyds kon jy albasters teen sewe sent, speeltolle, Springbok-tabak, blouseep, onpaar waterskoene, versterkdruppels en lewensessens hier koop. Deesdae is dit Oom Karel se Winkel – hy of ‘n vriend (ons vind nooit uit wie dit is nie) sit vanuit ‘n kruiwa op die sypaadjie en gesels toe ons aangedrentel kom. Nou sal jy dalk nog van dieselfde items aantref, asook skaapharslag, aartappels, besems en teemusse, én die Berry Nice-geskenkwinkel.

Of eertydse tronke jou interesseer of nie, jy wil by die Ou Tronk-museum inloer. Nie net kan jy ‘n idee kry van hoe Clanwilliam honderd jaar gelede daar uitgesien het nie, daar is ook ‘n ou stookketel neffens ‘n boom in ‘n binnehof, ‘n handsentrale wat jou ‘Nommer Asseblief’ wil laat speel, ou waens, en ‘n ode aan die rieldansgroep, Die Nuwe Graskoue Trappers van Wuppertal.

Skuins oorkant die Ou Tronk is die Yellow Aloe Gastehuis en Koffiewinkel waar ons driemanskap, onderskeidelik van die Paarl en Prieska, amper verbystap, maar dankie tog, die lus vir koffie het ons anders laat besluit. Volgende keer kom bly ons hier oor, besluit ons eenparig.Net om deur die tuinlushof te stap, is inspirend, selfs as jy nie met groen vingers geseënd is nie.

As jy in die hoofstraat hou, kry jy die Rectory Gastehuis, Tjienkerientjee Bloemiste, Nancy se Teekamer, Aunti Poppi se Shop en die Clanwilliam Hotel waar ek spyt was dat boerekos nie by Leipoldt se Kelder-Restaurant voorgesit word nie. Wat ‘n geleentheid wat nie aangegryp word nie! Sekerlik is daar genoeg besoekers wat tuisgebakte buite-oondbrood, hartlike bredies en perdalks afval sou wou verorber, eerder as die alledaagse.

By Reinholds Restaurant heers die sewentigers-dekortema nie meer nie; moet dus nie glo wat jy raak-google nie. Dis vervang met boudoirlanterns en Oosterse matte, en foto’s van plaaslike bekendes wat twee dekades gelede vir die kamera geposeer het. Dis noodsaaklik om vooraf te bespreek.

Rooibos is sinoniem met Clanwilliam

Rooibos is sinoniem met Clanwilliam

Die digter-skrywer C. Louis Leipoldt het as vierjarige na Clanwilliam verhuis.Reeds van kleintyd was hy gek oor die natuur, en die omgewing, en hy het gereeld langs die Jandisselsrivier gaan stap waar hy plante en klippe bymekaargemaak het.Net ‘n natuurliefhebber soos hy kan met woordbeelde soos ‘blouberg-stroompie’, ‘purperswart rotse’, ‘sederreuse’ en ‘bontgeverfde klossies’ wat met ‘grys kalkoentjies paar’ vorendag kom.

Die pragtige name van die blomme uit die distrik kon ook deur Leipoldt uitgedink gewees het – van Maartblom (brunsvigia bosmaniae) tot bloedblom (dilatris ixiodes), van die Kaapse reëngousblom (dimorphotheca pluvials) tot die Namakwalandse madeliefie (dimorphotheca sinuata), en die perskleurige knikker (romulea cruciata), blousporrie (heiophila coronopifolia) en spinnekopvoete (erica mammosa), die ‘marshmallow spiderhead’ (serruria aitonii), en die waboom (protea ntida).

Dis vanjaar die 54ste Clanwilliam Veldblommeskou wat gehou word. Vanjaar se tema is ‘Weerkaatsings’ en spieëls word onder meer vir ‘n ongewone en flambojante blomme-uitstalling ingespan, vertel die Clanwilliammers opgewonde. Elke blom het sy eie persoonlikheid en karakter, en natuurlik hul eie voorkeure en storie om te vertel.

Die Engelsman se graf is in die Pakhuispas

Die Engelsman se graf is in die Pakhuispas

Op Die Engelsman se Graf in die Pakhuispas staan 'Brave and True'

Op Die Engelsman se Graf in die Pakhuispas staan ‘Brave and True’

Beide C. Louis Leipoldt se graf en die Engelsman se Graf is in die Pakhuispas. Leipoldt se graf is oppad na Wuppertal. Die Engelsman – sy graf is noordwes van Clanwilliam – was ene Luitenant Clowes wat tydens die Tweede Vryheidsoorlog in ‘n skermutseling gesneuwel het. Clowes se familie het sy graf laat oprig. Op die kruisgrafsteen staan ‘Brave and True’.

Werd om te weet

* Die Clanwilliam Wild Flower Show se Facebook-blad word voortdurend opgedateer met wat waar blom.

* Die veldblomgidskaart is te koop by: Sederkem Apteek, Clanwilliam Toerismekantoor, Theo se Plek, die Blommekerk en by sommige van die gastehuise.

* Op www.clanwilliamwildflowerfestival.co.za is ‘n lys van dinge wat jy kan doen as jou energie nie verwelk nie; asook ‘n kaart van die omgewing en ‘n veldblomgids met foto’s om jou te help om die blomme uit te ken.

* Alles en nog wat oor rooibostee is by: www.rooibosteahouse.co.za

* Lees en leer meer van Leipoldt: www.litnet.co.za/c-louis-leipoldt-18801947/

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 22, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .