ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

RONDOM LAS RAMBLAS

First published in die Burger, October 2010

Die dekadentste warmsjokolade wat jy ooit sal proe. Die móóiste kosmark op die planeet. DÍt is in Barcelona, maar dis by verre nie al nie.

poskaarte-om-huis-toe-te-stuur

Daar’s ook nog ‘n knus waterkant, wit sigeunerbloeses te koop, ‘n menigte mimiekkunstenaars insluitende ‘n ou man wat met ‘n besem dans, donker stegies, Gaudi se argitektoniese krulle en draaie, en dan ook nog boepensbekers sangria om laatmiddag te drink.

Ontdek die Gotiese buurt

Sommer met die kom land sien jy uit die lug ‘n uitgestrekte kusstad, plat genoeg om plat te loop, en met genoeg see om ‘n mens aan Kaapstad te laat dink.

Alles is naby genoeg aan of in Barri Gotic (die Gotiese Buurt). Daai warm sjokolade wat ek jou wed jy nêrens geëwenaar sal kry nie. Dekade-oue restaurante met donker interiors, teëltjies teen die mure en kos in koperpanne. Gratis sypaadjie-vermaak op Las Ramblas (met of sonder die twee s’e geskryf). ‘n Pleintjie om sangria te drink, ‘n groter plein(dalk Plaça de Sant Juame) om tapas uit te probeer. Ferranstraat se ware is spesiaal op die toeris gemik.

En dan die kosmark! Dis nie verniet dat daar geglo word dat een van die wêreld se eerste resepteboeke in 1477 in Barcelona gepubliseer is nie. Sorg dat jy vroegoggend (maar dis darem nie nodig vir douvoordag) by La Boqueria aankom. Mét jou kamera. Gepoetste appels wat Sneeuwitjie sal verlei. Assimmetriese boontjies. Blinkpers eiervrugte. Spieëlgladde rooi- en geelpepers. Artisjokke, wilde aarbeie, enorme veldsampioene.Stalletjie-eienaars spoeg en vryf – by wyse van spreke natuurlik. Dit lyk of hul kompeteer vir die toekenning vir die mooiste stalletjie. By piepklein tafeltjies kan jy iets bestel terwyl jy almal se rustige bedrywighede dophou. Bar Pinocho is die bekendste en dus met rede aanbevole.

Gaudi se plek(ke)

Klim op die bus na Parc Quell. Gaudi se geronde mosaïek-tuinbanke vorm ‘n laaaang S. ‘n Reusagtige salamander (‘n Spaanse likkewaan) is ook gemosaïek. Idiosinkratiese meubels versier Gaudi se huis.

Stap later (of die volgende dag as jy te veel cava by Xampú Xampany, ‘n moderne vonkelwynkroegie, geniet het) na La Sagrada Famiglia. Elke vierkante sentimeter is versier en blykbaar was hierdie kerk nog lank nie voltooi toe Gaudi in 1926 gesterf het nie. Daar word vertel dat Spaanse mamma’s gereeld vir hul kinders sê dat dit net so lank neem om hul huiswerk klaar te maak as wat dit Gaudi geneem het om die Sagrada te bou. Klim die sowat 400 trappies en besigtig die hele Barcelona van bo.

Eet en Koop

Die res van jou tyd in Barcelona kan jy net ronddrentel, en dalk te veel eet of net te veel cerveza drink. Barri Gotic bied genoeg stegies om te verken en hoekies en draaitjies om te ondersoek. Cereria Subira, die oudste winkel in Barcelona, dateer uit 1761 (of 1716 afhangende van waar jy dit lees)  en die binnekant – onveranderd vir die afgelope 200 jaar – is propvol ou en nuwe, moderne en religieuse kerse. El Ingenio is ‘n karnavalwinkel wat in speelse toorkrag spesialiseer hoewel Harry Potter nog nie daar ‘n draai gemaak het nie.

El Quatre Gats (3 de Montsio) is een van die restaurante waar Picasso en sy vriende uitgehang het. Verbeel jou jy is deel van die boheemse intelligentsia van jou tyd.

Los Caracoles (Calle Escudellers 14) dateer uit 1835 toe die destydse eienaar se vrou kruideniersware hier verkoop het terwyl haar skoonpa tapas en caracoles (slakke) aan klante bedien het. Feli, die eienaar, het agter in die huis as juwelier gewerk. Die restaurant is steeds in die hande van dieselfde familie.

As jy teen hierdie tyd lus voel vir ‘n kulturele inspuiting, is die Picasso-museum nie te ver hiervandaan nie.

Aan die onderkant van Las Ramblas lê die Waterfront. Die hele Las Ramblas (maar veral naby McDonalds) is tjok en blok vol straatkunstenaars en –kraampies veral met blomme en gekleurde voêltjies in koutjies. Luister Spaanse musiek en kyk hoe rooi-rok senoritas met kastanjette dans. Bloos namens die ou man wat met ‘n besem wals. Gaan ‘n weddenskap aan met jou reisgenoot dat wel ‘n Elvis (of twee) êrens te sien gaan wees. Loer in by Escriba (83 Rambla de los Flors) – hulle is wêreldwyd bekend vir hul handgemaakte sjoks. Vra vir ‘n La Rambleta, ‘n truffelsjokhappie vir een.

spaanse-danseres-met-flair

Aan die bopunt ‘n groot, uitgestrekte plaça waar pensioenarisse soms saans spontaan dans. Hier, net hier, is die plek, altans ‘n paar plekke, waar jy wit sigeunerbloeses en uitklok-valletjiesrompe met hartelus kan aanpas. Hopelik het jy gesorg dat die saldo op jou kredietkaart in jou guns sal tel. Moenie verby Zara, Mango, Cortefiel of El Corte Ingles stap nie.

Nog ‘n blok of twee verder is Vinçon (Passeig de Gracia 96). Gaudi se Pedrera-gebou is aan die oorkant en kan van die terras gesien word. ‘n Paar jaar gelede was die herwinde plastieksak-hoenders wat by ons op straat verkoop word, die nuutste in-ding hier en dit was selfs deel van die vensteruitstalling. Swaar dra al aan die een kant is jou voorland na jy hier die oorspronklikste kombuisfieterjasies en huisdekor net eenvoudig móés hé.

Vier jou nuwe aankope met ‘n kruik sangria. Maar as jy nog nie Codorniu Cava geproe het nie, gaan jy dit later berou. Laat ek nou maar die aap uit die mou laat – Barcelona se bes bewaarde geheim is die lepel-regop-staan warm sjokolade by Xocoa (11 Petritxoll, Barri Gotic).

ONTDEK GAUDI

  • La Sagrada Famiglia
  • Parc Quell
  • Casa Milá
  • Casa Batlló

LEES MEER:

www.wikipedia.org/wiki/Antoni-Gaudi

www.wikipedia.org/wiki/El_Gotic

www.wikipedia.org/wiki/La_Rambla,_Barcelona

www.boqueria.info

www.sagradafamilia.org

www.el-ingenio.com

www.4gats.com

www.museupicasso.bcn.es/en/

www.museupicasso.bcn.es/en/

www.codorniu.com

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 24, 2017 by in Europa.