ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Die Groot Niks se stofpaaie

First published in Rapport, July 2019

Mik suid vanaf Namibië se grens

Plek-plek langs die Oranjerivier gedy wingerdaanplantings

Plek-plek langs die Oranjerivier gedy wingerdaanplantings

Toe ons kinders was, het my ma altyd gesê: “As die wiele draai, is ek in!” Dis ongetwyfeld aardjie na sy vaartjie wat geld, soos my eie liefde vir rondry getuig. Daar staan mos juis in Esegiël 16: So moeder, so dogter.

As jou wederhelf dus vir ‘n vergadering na die suide van Namibië moet ry, spring jy in en gebruik julle die geleentheid om na afloop van die besigheidspraatjies al reisende saam suidwaarts terug te ry.

Ons laat wiel vroegoggend vanaf Norotshama Rivieroord (www.norotshamaresort.com) waar ons vanaf ons chalet op die Oranjerivier aan Namibië se kant uitgekyk het, want ons wil kuier-kuier ry en stop vir foto’s as die lus ons pak.

This slideshow requires JavaScript.

By Aussenkehr (www.aussenkehr.com) is ‘n Spar-supermark sowel as ‘n kitsbank en drankwinkel. Draf hier in vir padkos of as jy iets vir die aand se kosmaak nodig het.

Verder aan lê die berge blou en lila weerskante van die pad; party van die kranse lyk soos versiersuiker wat teen ‘n koek afdrup en plek-plek groei wingerd langs die pad.

As jy voet in die hoek sit – versigtig nou, dis ‘n grondpad – neem dit jou net-net minder as twee uur van Norotshama na Sendelingsdrif (dit word ook soms Sendelingsdrift gespel), ‘n grenspossie in ‘n klein geboutjie waarvan min mense weet.

Jy kan nie regtig verdwaal nie behalwe as jy by die vurk in die pad regs draai; dan mik jy vir Rosh Pinah, ‘n myndorpie in die suide van Namibië. Op die padteken staan egter duidelik ‘Pontoon RSA Border’ met ‘n pyl wat wys dat jy links moet draai.

By Sendelingsdrif se grenspos (www.tracks4africa.co.za/listings/item/w140799/sendelingsdrif-border-post-namrsa-08h00-16h30/) aangekom is die kans goed dat julle op ‘n gegewe oomblik die enigste mense is wat ‘n stempel in jul paspoorte aanvra.

Hierna gaan jy met ‘n enjingedrewe pont, een van die laastes wat nog in Suid-Afrika bedryf word, vanaf Namibië se kant van die Oranjerivier na Suid-Afrika se wal. Na jy die vriendelike pontwagters bedank het, wag die imposante hoofingang van die Richtersveld Nasionale Park (www.sanparks.org/parks/richtersveld/) en ‘n grenspossie, nog kleiner as dié een aan die oorkant van die Oranjerivier, op jou.

Die Richtersveld Nasionale Park maak deel van die Ai-Ais Richtersveld Oorgrenspark uit.

Met vooraf bespreking kan jy hier in ‘n sinkplaatkothuisie oorslaap. Die huisies is basies, maar toegerus met alles wat jy mag nodig kry.

Pasop net vir die apies; hulle is absolute karnallies en weet gou as daar nuwe gaste opgedaag het. Dis nie om dowe neute dat jy gewaarsku word om jou deure en vensters toe te hou nie.

This slideshow requires JavaScript.

Van Maandae tot Saterdae van 8h00 tot 16h00 is hier brandstof beskikbaar.

Ons besluit om weer vroeg te ry. Die oggendstond het immers goud in die mond. Na ons Helskloofhek deur is, besluit ons op die ingewing van die oomblik om te gaan kyk hoe Kuboes lyk. Ons nuuskierigheid is nog meer geprikkel omdat ons nog nooit van die plek gehoor het nie.

'n Mens wonder onwillekeurig waar Bloeddrift sy naam vandaan gekry het

‘n Mens wonder onwillekeurig waar Bloeddrift sy naam vandaan gekry het

Ons ry vir lank deur die Groot Niks. Net gruis en sand, klippers en droë bossies. Sulke hoë telefoonpale. ‘n Padteken waarop Bloeddrift staan, laat ‘n mens so ietwat gril as jou verbeelding op loop raak.

'n Stopteken, in 'n drom geplant, in die middel van nerens

‘n Stopteken, in ‘n drom geplant, in die middel van… sand

‘n Stopteken, in ‘n drom geplant, in die middel van die Groot Niks, ontlok ‘n gegiggel.

Ons tel ‘n ryloper op. Hier steek niemand duim uit nie; die voertuie stop vanself as hul iemand langs die godverlate pad sien.

Met die naderry lyk dit of Kuboes (www.south-north.co.za/rich_rt_kuboes.html en www.richtersveld.net/index.php/site/town/kuboes/) in ‘n stofkom lê. Dis ‘n afgeleë dorpie wat in die mid-1800’s as ‘n sendingstasie van die Rynse Sendinggenootskap gestig is.

This slideshow requires JavaScript.

Hoewel daar nie op die oog af veel aangaan nie, het Kuboes ‘n verweerde sjarme met ‘n mooi kerkkompleks. Op ‘n netjiese stofplein staan ‘n kerk, ‘n losstaande kerkklok tussen pilare onder ‘n dakkie en groen en afgewitte kerkgeboue, wat in 1893 ingewy is. Die hout binne-in die kerk is afkomstig van ‘n skeepswrak wat by Port Nolloth sy moses teëgekom het.

Die dak- en ruitlose Paradise Café, die Saamwerk Café wat lyk of dit nog net in naam bestaan en die Kleinbegin Winkel, al een wat nog flink sake doen, het kleurvolle advertensies wat met die hand geverf is. Die krulle van die C’s van Coca-Cola is mooi nagetrek, Fanta Nagemaakte Lemoendrank se oranje is al verbleik, Smarties Melksjokoladedoppies tuimel by ‘n langwerpige boksie uit en langs ‘n worsrol en ‘n frikkadelbroodjie staan ‘Kry dit!’

Wasgoed wapper vrolik aan draadheinings, maar van die Kuboesers sit in hul kamerjasse om agterplaasvuurtjies; vroegoggend kan dit snerpend in hierdie omtrek wees. In die strate is motorwrakke as straatversierings ingespan. ‘n Voëlverskrikker met uigestrekte arms, stokbene en ‘n verfblikgesig lyk of hy sy kop knik toe ons die langpad vat.

Port Nolloth gaan, ná Ausenkehr, Sendelingsdrift en Kuboes, soos ‘n stad voel, maak ons geselsies op die grondpaaie op pad soontoe.

Totsiens, waai die voelskrikker op die rant van die dorp by Kuboes

Totsiens, waai die wapperende gedaante op die rant van die dorp by Kuboes

In Port Nolloth (www.portnollothinfo.co.za) aangekom, is ons spyt daar’s nie tyd om ook hier ‘n nag oor te slaap nie.

Die blou en wit kerkie van Immaculate Heart of Mary staan afgeets teen die grys lug van Port Nolloth

Die blou en wit kerkie van Immaculate Heart of Mary staan uit teen die grys lug van Port Nolloth

Ons neem die blou en wit Immaculate Heart of Mary-kerkie met ‘n Maria-beeld in ‘n spoelklipboog en die goudgeel driekhoekige kerkgebou van die Shalom-gemeente af, drentel deur die Port Nolloth Museum, wring ons hande omdat die Ou Ou Skuur-geskenkwinkel toe is en kyk leepoog na die spyskaarte van Nemo’s Restaurant en Vespetti Restaurant waarby ons ook nie vandag gaan uitkom nie.

By Weskus Motors Stop Shop adverteer prente op die muur dat jy hier alles kan koop wat jy vir visvang nodig het: katrolle, sinkers, hoeke, visstokke, aas en lyn. Ook droëwors, biltong, rissiehappies, pasteie, gas, ys, braaihout en vleis. Ons neem maar gerieflikheidshalwe aan dat die verkoop van “vuurwapen” en “ammunisie & bybehore” ‘n onnadenkende grappie is.

By Weskus Motors Stop Shop in Port Nolloth word allerlei verkoop; sien is glo

By Weskus Motors Stop Shop in Port Nolloth word allerlei verkoop; sien is glo

Orals in die dorp en in die baai lê bote. ‘n Mens kan ‘n kortverhaal net oor die bootname skryf. Op bootrompe lees ons: Port Jolly, Baby Blue, Seedelwer en Lucky Strike.

Die selfaangestelde waghond by die Port Nolloth Museum lig nie eers 'n wenkbrou met ons verbystap nie

Die selfaangestelde waghond by die Port Nolloth Museum het nie meer ‘n werk nie, want die Port Nolloth Museum is nie meer hier nie

Dis weer tyd vir aanstoot met sinkplaatgrondpaaie langs. Ons skud by tye ons mangels los, maar draai net die musiek harder. Daar is min dinge lekkerder as om ‘n meer onbekende deel van ons land te verken.

By Grootderm Handelaar sien jy meer mense as in die hele Kleinsee saam

By Grootderm Handelaar sien jy meer mense as in die hele Kleinsee saam

Die Grootderm Handelaar wat sommerso op ‘n vlakte voor ons opdoem, is besiger as die dorpie Kleinsee.

‘n Entjie verder sien ons eers ‘n verbleikpienk lugspieëling vóór ons oë blikvarke uit oliedromme, ‘n ingeduikte tjor, ‘n lendelam houtwaentjie en ‘n skewe ploegskaar uitmaak. Alles met dieselfde kwas pienk verf bygedam. Blou kruiwaens en oranje seeboeie staan tussenin. Dis Spogplaas Gastehuis (www.boekenbly.co.za/go/af/spogplaasalexanderbay.html), lees ons op die bordjie langs die pad. Ons knoop geselsies aan en onderneem om ‘n volgende keer hier oor te bly.

So sien Delwerslaan in Kleinsee daar uit

So sien Delwerslaan in Kleinsee daar uit

By Kleinsee (www.af.wikipedia.org/wiki/Kleinsee) gaan niks meer aan nie. Die gordyne roer nie eers voor die vensters nie. Selfs voor die straatnaambord, Delwerslaan, is ‘n hopie sand gewaai wat sommer net daar bly lê het. By ‘n huis in Hospitaalstraat beaam ‘n bordjie wat ons vermoed het: ‘Kaapstad – Ver 670 km’.

Kleinsee is maar verlate, hoewel daar tog nog mense bly

Kleinsee is maar verlate, hoewel daar tog nog mense bly

Ons stoot aan na Hondeklipbaai (www.hondeklip.co.za). Óf jy ontwikkel ‘n geneentheid vir Hondeklipbaai óf die plek staan jou glad nie aan nie. Waar dit Hondeklipbaai aangaan, is daar nie ‘n middeweg nie. Ons kom ooreen dat ons nie ooreenstemmigheid oor dié plek gaan bereik nie.

Dop en Kreef het ‘n uitsig oor die see as die weer mooi genoeg is sodat jy buite kan sit. Volgende keer gaan sit ons egter aan by die vissersboot wat pens en pootjies op droë grond binne in die Rooi Spinnekop Restaurant lêplek gekry het, neem ons ons voor.

Daar is net een plek soos Garies

Daar is net een plek soos Garies

Plig – en die katte by die huis – se roepstem raak al harder. Daar is nog net tyd om by Garies (www.westcoastway.co.za/garies/) aan te doen.

Garies Toeristestal, met ‘n restaurant en teekamer, is, soos die naam aandui, op toeriste gemik. Op T-hemde op die winkelrakke staan: London, New York, Paris, Garies. Net Garies se letters vertoon die kleure van die reënboog.

Die Garies Hotel en Restaurant is mosterdgeel geverf; Sophea Gastehuis is salmpienk met emaljeborde en mosaïekpanele langs die roosbeskilderde voordeur.

Daar is net tyd om oud-kollegas van die hartjie van Kaapstad by die petrolstasie verdwaas aan te gaap, ‘n vinnige woordjie te wissel en die pad te vat. Soms, blyk dit, lei alle paaie na … Garies.

Met die terugry Boland toe begin ons reeds die volgende plaaslike reis te beplan. So spoedig moontlik.

Ry versigtig op die grondpaaie; al is dit nie 'n sinkplaatpad nie

Ry versigtig op die grondpaaie; al is dit nie ‘n sinkplaatpad nie

 

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 29, 2020 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .