ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Kaap Agulhas – Waar twee oseane ontmoet

First published in Die Burger, August 2011

L’Agulhas. Die mees suidelike punt van ons kontinent. Van Afrika. Dit weet ons noual. Al moes dit in die hof gaan draai. Verder is Agulhas ook bekend as die Begraafplaas van Skepe.

DSC_0412

Dis twee uur twintig minute se ry vanaf Kaapstad of die Boland. Veertig kilometer van Bredasdorp, waar jy wegdraai. Na genoeg aan Arniston (of Waenhuiskrans soos party mense sê) om vir ‘n heen-en-weertjie soontoe te ry.

DSC_1654

STRUIS IS NIE NET ‘N VOORSTAD VAN L’AGULHAS NIE

L’Agulhas word voorafgegaan deur Struisbaai. Die een loop so half oor in die ander, maar – hoe sal ek nou sê – Struisbaai voel so half na Bellville-by-die-see. Eintlik maar net omdat Struis – soos dit in die volksmond bekend staan – plat is en die huise so sestigers en sewentigers vertoon. Strate kruis mekaar op die regte plekke en een huis is maar soos die ander. Genoeg hiervan.

Struisbaai het darem die outentieke hawetjie en niks, net mooi niks, kom daarby nie. Dis waar die tjakkies – soos vissersbote hier genoem word – uitvaar en waar jy jou aan hul eiesoortige gesprekke kan verluister. Struisbaai is dié plek vir geelstert. Om in die middag of vroegaand by Pelicans te sit terwyl jy  oor die see en dobberende vissersbote uitkyk, is sielskos. Van kos gepraat, by Pelicans eet jy uit die see – selfs (wettige) perlemoen as dit in voorraad is.

Die strandjie net langs die hawe is somersdae – oor naweke en veral in Desember – gepak. Ek kan nog die tyd onthou toe dit nie die gewildste plek was om te baai nie. Ai, waar’s die dae…

Ongelukkig is Sakbek, die pelikaan, nie meer met ons in die hawe nie. Die grote lummel-pylsterte is nog daar en word gereeld gesien. Hulle kom groet jou waar jy op die kaai staan en swem tot enkeldiepte water.

Laataand kan jy op die hawemuur gaan sit. Dis stil behalwe vir die water wat klots of soms ‘n tjakkie se bemanning wat korswel. As jy geduldig genoeg is, sien jy twee otters wat in die hawe woon, verbyswem en net soms klim hulle uit op die sleephelling en lê daar en rondrol.

Sien, ‘n mens kan tog liries oor Struisbaai raak. Daar het ek nounet. Nostalgies ook nog – in die tagtigs was Siebies by die ou Struisbaai Hotel die groot uithangplek. Hoe verwaarloos dit ookal was. ‘n Nes, het my pa gesê.

Vanaf Franschhoek-pas is Draaiberg en Boontjieskraal kortpaaie as jy nie omgee om grondpad te ry nie

‘N VUURTORING MET ‘N RESTAURANT

Terug by Agulhas. Met sy mooie vuurtoring. Waarvan die ontwerp op die antieke vuurtoring van Aleksandrië geskoei is. So sê hulle. Dis ook een van die enigste (werkende) vuurtorings waarbinne ‘n mens kan gaan eet. Ongelukkig wissel dit soms in gehalte en die diens wil jou eendag laat handgemeen raak, en net mooi die volgende dag voel jy na ‘n groot fooitjie uithaal. Moenie laat dit jou afskrik nie – jy kan ín ‘n vuurtoring ‘n maaltyd nuttig.

Klim vooraf vir ‘n paar spreekwoordelike sente tot bo in die vuurtoring. Oorkom jou hoogtevrees en kyk oor die twee oseane uit. Sowat twee jaar terug het ‘n romantiese jongman “Trou My” in die veld direk onder die vuurtoring aan die see se kant uitgespel. Volgens hoorsê is hy en ‘n vriend verskeie kere met die stelle trappe en steil leertjie op en af om seker te maak dat dit reg lyk. Dalk daarom dat “met” uitgelaat is. Hopelik het sy ja gesê.

TROU MY! is van bo in die vuurtoring gevra, hopelik was die antwoord ja

EENDAG WAS DAAR ‘N VUURTORINGWAGTER EN SY SEUN

Elke klein plekkie het mos maar sy karakters. Van lank terug of van nou. Oom Boy Auret was van 1947 – 1954 vuurtoringwagter by Agulhas en daar is selfs ‘n straat na hom vernoem. Jare daarna was dit sy seun, Derick, se beurt om dieselfde pos te vul. Hulle was vuurtoringwagters “van formaat”, soos Maureen Fourie by Toerisme dit so mooi uitdruk. Altwee Aurets was lang, frisgeboude manne. Derick se lewe was die see – hy het sommer maklik uitgeroei see toe en as daar moeilikheid kom, het hy uitgeswem en dan nog die paar kilometer huis toe gedraf. Twee jaar na sy aftrede is Derick in Spookdraai se baai oorlede – in die bootjie waarmee hy uitgeroei het. Sy vrou, wat steeds hier woon, kan baie staaltjies oor hul vuurtoringdae by al die verskillende vuurtorings in Suid-Afrika vertel. Soos Maureen sê: “Die see was sy passie en op die see is hy heen.”

Te sien op die pad na Brandfontein

KOM FILOSOFEER IN AGULHAS

Agulhas maak nie of hy iets is wat hy nie is nie. Die pad eindig hier, die oseane ontmoet hier – en soms waai die wind ‘n barshou. Daar’s net 20 mistige dae per jaar hier en tussen koue fronte het Agulhas die allermooiste dae. Agulhas kruip in jou hart in voor jy nog besef dit gaan gebeur. Jy kom hiernatoe om stil te raak of om saam met jou vriende te kuier. Sommer net om saam kos te maak en oor die lewe te bespiegel.

Hierdie vissershuisies begroet jou as jy Struisbaai binnery

TWEE OSEANE WORD EEN

Vanaf die vuurtoring ry jy om die draai grondpad langs na die plek – nie dat dit ‘n spesifieke plék is nie – waar die Atlantiese en Indiese Oseane inmekaarvloei. Dis sowat een kilometer so jy kan maar stap ook. Net duskant drie kilometer verder is die geroeste wrak van die Meisho Maru.

So lyk 'n Afrika-sonsondergang by die Meisho Maru

Die storie lui so:

Die Meisho Maru was ‘n 400-ton Japanese vissersboot met ‘n vrag vars tuna aan boord. In November 1982 het die kaptein hom misgis met die suidpunt van Afrika en as gevolg van sy foutiewe skatting het hy drie kilometer vóór die vuurtoring op die klippe geloop. En dis waar hy nou nog lê.

As jy nóg 2.5 kilometer verder ry, kom jy op Suiderstrand af. ‘n Handvol huise, goeie visvangplek en ‘n klippie-strand wat sy eie musiek maak. Weg van alles en almal, behalwe jou mede-Suiderstranders.

TOE L’AGULHAS NOG AGULHAS WAS

Seker so twintig jaar terug was daar nie ‘n Suiderstrand om oor te skryf nie. Seker so dertig jaar terug het die Oriental Pioneer by Agulhas gesink – hoewel ‘n gedeelte daarvan nog lank bo die water sigbaar was – en van ons kan nog (hoewel net-net) onthou hoe die helikopters in die lang gras langs die ou Agulhas Hotel geland het.

Van die ou Agulhas Hotel gepraat – die gebou staan nog, maar van ‘n hotel is daar geen sprake nie. As die regte persoon tog net sou verbykom… of dalk liewers nie…

 

BES BEWAARDE GEHEIM:
Te min mense weet van of besoek die Agulhas Nasionale Park. Veral die fynbos en die voëlkyk maak ‘n besoek die moeite werd. As jy die Elim-pad ry, ry jy as’t ware deur ‘n deel van die park. Kyk uit vir die afdraaipaadjies na Brandfontein en Uintjieskuil.
Verblyf in die Agulhas Nasionale Park:
By die ruskamp is Lagoon House sowel as agt selfsorg-huisies beskikbaar. Dis hier waar die ou Elimmers destyds Kersfees gehou het. Die ruskamp is so te sê op die see geleë.
Beide Renosterkop met drie historiese Strandveld-huisies en Bergplaas met ‘n plaashuis met slaapplek vir agt is op die Agulhas Vlakte geleë. Hoewel ‘n mens hier nie ‘n see-uitsig het nie, het Bergplaas ‘n wonderlike uitsig oor Soetanysberg.
Rietfontein het in 2009 afgebrand en word tans nog gerestoureer.
Stuur ‘n e-pos aan emme.dekock@sanparks.org om die Agulhas E-Bulletin te ontvang of om meer inligting oor Agulhas Nasionale Park in te win.
Lees meer by: www.sanparks.org/agulhasnationalpark/

 

Webtuiste om te besoek:
www.twooceansdiving.com
Agulhas Toerisme-kantoor: Skakel Maureen Fourie by 028 435 7185 (sewe dae per week oop)
Sporte wat hier gewild is: visskiet, vlieërplankry, visvang, bergfietsry
Luukse verblyf by: www.agulhascountrylodge.com
As jy nie self/lus vir kosmaak is nie, eet hier: Angelo’s (onder nuwe bestuur), Zuidste Kaap, in die vuurtoring self
Koop stylvolle snuisterye by: Southbound in Struisbaai
Wyne te kies en te keur: Die Wine Boutique on the shipwreck coast by Ouwerf in die Hoofstraat het werklik ‘n uitmuntende versameling van goeie wyne, uit die distrik, maar ook van elders

 

 

 

 

 

 

 

2 comments on “Kaap Agulhas – Waar twee oseane ontmoet

  1. Natheerah
    August 30, 2019

    Goeie dag Ek will kraag n photo he waar Di twee oseane mekaar ontmoet,waar Ek dit regards Jan Sien ASB…

    • ilsez
      August 30, 2019

      Dis nie fisies sigbaar nie. Dis eintlik by wyse van spreke. Dit gebeur diep in die see oor baie, baie kilometers. Dit kan glad nie waargeneem word nie.

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 12, 2017 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .