ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Piri Reis – reisiger, matroos en kartograaf

First published in Die Burger, October 2015

As daar ‘n kartograaf in die familie is, hou jy instinktief jou oë oop vir kaarte en aardbolle wanneer daar gereis word.

Piri Reis, die eerste kartograaf

Piri Reis (dit beteken Kaptein Piri) se naam het, ironies genoeg, niks met die wêreld deurkruis te doen nie. Tog is dit juis wat hy as matroos en gazi (‘n Arabiese woord wat na ‘n tipe seerower verwys)  gedoen het voor hy beroemdheid verwerf het.

Piri Reis (1465/1470 – 1553/4) oftewel Ahmed Muhiddin Piri se roem is te danke aan ‘n beroemde kaart wat hy in 1513 – dis nou 502 jaar later – in Gallipoli, sy geboortedorp, geteken het. In Turkye was 2013 die Jaar van Piri Reis.

Dis een van die oudste kaarte, waarop Amerika uitgebeeld word, wat aan die mensdom bekend is. Behalwe Noord-Amerika, en dele van Sentraal- en Suid-Amerika word die Atlantiese Oseaan – met die Azore-, Kanariese- en Kaap Verdiese eilande en Madeira op die regte plekke –  en Wes-Afrika ook op die kaart aangedui, maar lengte- of breedtegrade kom nie voor nie. Windrose is wel gebruik.

Oorspronklik het Piri Reis ‘n volledige – vir die tyd waarin hy geleef het en vir wat destyds bekend was – wêreldkaart geteken, maar net ‘n deel daarvan is (nog) gevind. Die gevonde helfte is in kleur op wildsbokvel geteken en is 90 x 65 cm groot.

Piri Reis se kaart is in 1929 per abuis deur Halil Ethem en Paul Kahle in die Topkapi Paleis in Istanboel ontdek.

Vir sowat vier eeue het hierdie waardevolle kaart op ‘n rak in die biblioteek van die Topkapi Paleis gelê. Tydens ‘n simposium oor Piri Reis in 1983 het professor Afet Inan selfs onthul dat die einste kaart soms – onwetend natuurlik – as tafeldoek gebruik is.

Eers is daar vlugtig vermoed dat dit die verlore kaart van Christopher Columbus is. Maar in een kaarthoekie het daar gestaan: “Hierdie kaart is in 1513 deur Piri (Ibn Haji Mehmed) Reis in Gallipoli geteken.”

In die kantlyn staan ook geskryf: “Die kuslyn en eilande op hierdie kaart is vanaf Columbus se kaart verkry.” Columbus se veelbesproke kaart is tot vandag toe nie gevind nie.

Dis egter nie al kaart wat gebruik is om die Piri Reis-kaart op te stel nie.

Piri Reis was die broerskind van Kemal Reis, die beroemdste Turkse seevaarder van sy tyd, en ‘n corsair (oftewel pikbroekseerower) wat ‘n vreesbewind onder die ‘ongelowiges’  in ‘n groot deel van die Mediterreense See gevoer het. Díé twee het gereeld saamgeseil.

Volgens “Piri Reis &  Turkish Mapmaking after Columbus” (2013 Boyut Publishing) is die kaart van Columbus wat Reis gebruik het, as deel van skeepsbuit tesame met ander trofeë van Amerika, gevind.

Op verskeie plekke op die Piri Reis-kaart is notas gemaak. Een daarvan lui: “Oorle’ Kemal Reis het ‘n Spaanse slaaf gehad wat drie keer saam met Columbus na hierdie streke geseil het.”

Die kaart was al in kontroversie gehul aangesien verskeie akademici die oorsprong daarvan bevraagteken het.

Dis nie net kontinente, eilande en landsgrense wat op Reis se kaart aangedui is nie. Tipies van kartografie van hierdie tyd is tien seilskepe; ‘n olifant, volstruis en llama in die gebiede waar hulle voorgekom het; ‘n wit man in Arabiese drag op ‘n troon in Marokko sowel as ‘n swart man met ‘n goue kroon in Guinee;  en ‘n gedierte wat dalk ‘n seemonster uitbeeld, óók bygeteken. Aantekeninge van waar goud te kry is, kom ook voor.

Hoewel die kaart ‘n uitstekende voorbeeld van die militêre intelligensie en kartografie van daardie tyd is, kom daar natuurlik foute op die Reis-kaart voor.

Dis egter net (‘n kopie van) een helfte van Piri Reis se kaart wat in die Piri Reis Müzesi in Gelibolu, Turkye te siene is

Dit was glad nie die enigste kaart wat deur Piri Reis geteken is nie; hy was die samesteller van die Kitab-ı Bahriye (Boek van Navigasie), een van die beroemdste kartografiese werke van daardie tyd. Dis vir die eerste keer in 1521 gepubliseer; sowat drie jaar later is dit hersien, addisionele inligting is bygewerk en die kaarte (daar was 290) is opgedateer ten einde dit as geskenk aan Suleiman die Manjifieke te oorhandig.

As gevolg van die perkamentagtige materiaal is die kaart sensitief vir hitte, lig en humiditeit. Teen die einde van 2013 is die kaart as deel van die permanente uitstalling van die Vlootmuseum in Besiktas, Istanboel opgeneem.

Gelibolu (uitgespreek Jellie-boeloe), die klein vissersdorpie waar die Piri Reis Museum is, is naby die Gallipoli-Skiereiland sowel as die veerboothawetjie waarvandaan jy na die eiland van Bozcaada vaar. Die veerbootrit neem net ‘n paar minute voor die eiland met sy wingerde, vuurtorings en Griekse styl-geboutjies en –restaurantjies voor jou verrys.

Die Piri Reis Museum is in ‘n buksie-toring, die enigste een wat behoue gebly het uit die ry torings wat eens – in Reis se tyd – al langs die waterkant gestaan het.

Onder in die toring is ‘n versameling swartwit foto’s van Gelibolu soos dit in vervloë dae gelyk het.

Die tweede verdieping bring hulde aan Piri Reis. ‘n Reeks skilderye deur die Azerbijani kunstenaar, Refik Aziz, beeld Reis se lewe as admiraal uit. ‘n Skeepsmodel van ‘n lang, plat galei wat met roeispane voortgedryf is en soos wat in Reis se tyd gebruik is, word ook uitgestal.

Soos wat jy by die museum uit en oor die straat loop, is daar ‘n standbeeld van Piri Reis wat skeefweg oor die see uitkyk.

In Gelibolu is daar bittermin wat uit Reis se tyd dateer en wat nog behoue gebly het. Die klein Iskele Moskee is vyf jaar na Reis se dood – in 1559 – gebou.

Vóór jy egter holderstebolder uit Gelibolu vertrek, oorweeg ‘n nag of twee in die intieme ou hotelletjie, Hotel Oya,  wat aan Stilbaai se ou Bellevue Hotel van weleer, herinner. Met die instap verstom jy jou aan die skeepswrakartefakte in die ietwat stowwerige sitkamerportaal.

Vanaf die hotel is dit ‘n klipgooi na die hawerestaurantjies, so na aan die see dat jy tot in die brandertjies kan spoeg. Smul aan vars sardiens en sterk, soet Turkse koffie terwyl jy hoop dat jy gelukkiger as Piri Reis gaan wees wat aan die einde van sy lewe in Egipte in die openbaar onthoof is toe hy geweier het om die Ottomaanse ryk te ondersteun.

Waar jy na Piri Reis-uitstallings kan gaan kyk

BAIE inkopies in Turkye

Leave a comment

Information

This entry was posted on April 21, 2018 by in Iemand - of iets - wat my fassineer and tagged .