ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Geen gif, baie vergifnis by Riversdal se Ou Tronk

First published in Die Burger, June 2015

Die boksstyl-gebou verklap nie watter interessanthede binne verberg word nie

Die boksstyl-gebou verklap nie watter interessanthede binne verberg word nie

Dis nie net Vanrhynsdorp se tjoekie wat ‘n nuwe baadjie aangetrek is en as koffie- en geskenkwinkel sowel as museum ingerig is, soos onlangs berig deur Danie Keet (BuiteBurger, 7 April 2015), nie. Riversdal se tronk kan met dieselfde status spog.

Riversdal is bekend vir die berg agter die dorp wat as Slapende Skoonheid bekend staan omdat dit soos die vorm van ‘n slapende vrou lyk. En vir sy hardekwas en knaende spietkops natuurlik.

Riversdal se Ou Tronk lyk nog stowwerig van buite en so half soos ‘n blokhuis van ouds. Seker maar soos dit gelyk het toe die tronkdeure in die sewentigerjare gesluit is. Die vlae wat voor oor die sypaadjie hang, lyk of dit voor ‘n tronk – of goewermentsgebou – hóórt.

Na jy van die N2 afgedraai het, ry jy verby die imposante NG Kerk en die statige Anglikaanse St Matthews-klipkerk. Vir ‘n blok of twee na die kerke begin jy wonder of jy op die regte pad is; dit mik-mik dan nou na die buitewyke van die dorp.

Hô nou, dink mooi, tronke was mos nooit ín die dorp nie. Sou bandiete, deurtrapte diewe en gewone kroeks destyds daarin geslaag het om te ontsnap, moes dit darem nie te na aan die dorpshuise wees nie.

Tronkvoels het nie so 'n keuse van aktiwiteite of eetgoed gehad nie!

Gevangenes het nie so ‘n keuse van aktiwiteite of eetgoed gehad nie!

As jy eers op die staan-swartbord in die tuin lees dat “pasteie: hoender, beesvleis en maalvleis of bobotie met rys en slaai” op die spyskaart is, weet jy die dae van waterige gortsop, stampmielies en ‘n homp growwe bruinbrood wat perdalks onderdeur ‘n deur gestoot word, is lankal verby.

Met die intree oor die drumpel sien jy sommer die geurige wortelkoek waarvoor die Ou Tronk juis bekend is.

Die eienares Louise Malherbe het die tronkgebou by haar pa, Mattewis Koen, geërf. Hy het destyds die gebou gekoop om as skuur vir sy plaasimplemente te gebruik. Op ‘n stadium het Louise selfs oorweeg om die tronk te verkoop. Toe het sy die idee gekry om die tronk heeltemal te omskep.

Kyk hoe spog so 'n tronksaal nou!

Kyk hoe spog so ‘n tronksaal nou!

En omskep is dit gewis. Die voorste vertrekke – met vuurherde – is nou kuierkamers. Dit laat jou voel of jy by jou ouma se voorhuis instap – op ‘n outydse swaarhoutdresser pryk porseleinvase en kitsch eende; teen die muur hang opdienborde in gelid en uit ‘n ovaal raam staar ‘n dunlip voorsaat in die niet. Op die tafel staan so ewe ‘n klokkie wat jy kan lui as die diens traag blyk te wees.

Boeke te koop en 'n besielende boodskap om te lees

Boeke te koop en ‘n besielende boodskap om te lees

Elke tronksel huisves iets anders. In plaas van enkelkateltjies met dun klapperhaarmatrasse kan jy nou boeke of kunswerke hier koop en ‘n skietgebedjie opstuur as jy op ‘n weggooiplankie lees: “Die gebed van Jabes (Kronieke 4:10) – Jirre, stier tog nou U se wolklikheit en goi U se drippelse op onse koppe yt.” En op ‘n kruis: “Miga 6 – Die dierste goeterse, lyk dit mos vi my, kan jy somme veniet by onse Jirre loop kry.”

Waar eens uit getjipte emaljebekers kasaterwater gedrink is – so verbeel ek my – staan nou ‘n wit spieëltafel met ‘n pienk souspotjie en blommelkbekertjie. Jellie-glasvorms, botterbakkies, koperkanne,  silwer koffieserviese en ‘n skildery van die Victoria-watervalle wag vir nuwe base om hul beursies uit te haal eerder as om sommer net vir kwaadgeld rond te draal.

In die eerste binnehof groei ‘n lemoen- en papajaboom sowel as ‘n paar avokado’s; in die binnepleine staan leertjies met emaljepotte vol baldadige blomme en is daar Grieks-geïnspi

'n Galg is 'n grillerige ding

‘n Galg is ‘n grillerige ding

reerde hoekies met rietstoele en verbleikte skilderye teen die mure.

In die tronk se ou ‘gifkamer’ (die ou bêreplek vir landbougif) lees ‘n mens nou: “Jammer geen gif meer. Maar baie vergifnis.”

As jy in geskiedenis belangstel – of stout kinders die skrik op die lyf wil jaag – kan jy deur Binneplein Twee loop om na die galg met geknoopte tou te gaan kyk.

Net een persoon, die  moordenaar Gilbert Hay, is ooit – op 26 Junie 1899 – hier tereggestel. Sy handgeskrewe belydenis word tentoongestel. Hy begin deur te skryf dat sy vader “een dronkaard” was. En “Mijn broeders zijn allen dronkaards.” Later: “Een booze geest porde mij toen aan tot den duivel te gaan en hem om moed te bidden.” Ter afsluiting – voor hy om vergifnis vra – skryf hy: “Met den drank eindigt my levensin rampzaligheid, zonder den drank kon het heerlijk geweest zijn.”

Dis nie meer van ledigheid wat die tronke vol (en die kerke leeg) is nie – dis te danke aan entrepreneurs in ons kleiner dorpe wat die potensiaal in ou geboue raaksien en dit dan omtower tot bestemmings wat mense lok.

Begeef jou in die distrik:
·        Ry deur die Gysmanshoekpas wat uit die 1700’s dateer. Die pas loop deur die Langeberge tussen Riversdal en Heidelberg en is nie toeganklik vir gewone motorvoertuie nie. www.mountainpassessouthafrica.co.za/find-a-pass/western-cape/item/249-gysmanshoek-pass.html
·        Die Aardvark Natuurreservaat is 40 km vanaf Riversdal op die R323. Begeleide staptoere of perderitte kan vooraf bespreek word. Kyk na Aardvark Nature Reserve op Facebook.
·        Besoek Korentepoort/Vetterivierdam as dagbesoeker of om ‘n paar dae te vertoef: www.riversdaler.co.za/accommodation/selfcatering/korente.html
·        Kyk na bergfietsroetes van onderskeidelik 20, 44 en 91 kilometer in die omgewing van Riversdal: http://explorersgardenroute.co.za/mountain-biking-in-hessequa/
·        Vind uit wat voëlkyk hier rond inhou: http://explorersgardenroute.co.za/birding-in-hessequa/

 

Lees die berig oor Vanrhynsdorp se tronk by: www.netwerk24.com/ontspan/2015-04-07-vanrhynsdorp-kuier-in-troe-troe-se-tjoekie
Kyk hoe Riversdal se Ou Tronk lyk:

·        www.facebook.com/pages/Die-Ou-Tronk-Riversdal-The-Old-Jail-Riversdale/447707338633420?sk=info&tab=page_info

·        Die Ou Tronk is Maan- tot Vrydae van 8h00 – 17h00 en op Saterdae van 8h00 – 13h00 oop.

 

3 comments on “Geen gif, baie vergifnis by Riversdal se Ou Tronk

  1. Gerald Erasmus
    February 26, 2019

    Lekker om te lees, veral omdat ons onlangs ‘n paar ure daar saam met vriende deurgebring het.

    • ilsez
      April 29, 2019

      Dankie, Gerald. Ek gaan loer altyd as ou tronke in iets anders omskep is.

    • ilsez
      April 29, 2019

      Dankie, Gerald. Ek gaan loer altyd om te kyk as ‘n ou tronk in iets anders omskep is.

Leave a comment

Information

This entry was posted on February 25, 2019 by in Die res van Suid-Afrika and tagged .