ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

Struisbaai se hawe is soms soos dorp se sirkus

First published in Die Burger, October 2013

As vis gevlek moet word, moet dit gevlek word

As vis gevlek moet word, moet dit gevlek word

Struisbaai Hawe – een van die enigste oorblywende vishawetjies in die land en die laaste tradisionele lynvishawe – is uniek op verskeie maniere. Vermoedelik is dit die enigste hawe waar baie van die vissers ‘n ritueel van draairoomys eet het na daar ‘n goeie vangs op die see was.

 

Ongelukkig is Sakbek, die vrypostige pelikaan, nie meer een van die hawe se inwoners nie. Twee otters woon wel tussen die dolosse waarmee die lang muur gestut word. Laataand as die hawe stil raak en Pelicans, die restaurant wat op die vissersbote uitkyk, al leeggeloop het, bollemakiesie díé twee op die sleephelling.

‘n Paar pylsterte het ook hul intrek by die hawe geneem. Sonja Ahrends wat in die hawe werk, voer hulle getrou om 9h00, 13h00 en 17h00. Sonja ken hulle individueel. Een hardkoppige pylstert eet – op eie aandrang – altyd eenkant, maar gewillig, uit haar hand. Sy is baie trots daarop dat ‘n Britse en ‘n Duitse televisiespan haar al kom verfilm het.

Só het dit begin

A day of rest at Struisbaai harbour

Dis altyd spesiaal as van die tjakkies of vissersbote op die sleephelling rus

Op ‘n manier het die konsep van die hawe in die mid-1800’s met die vragboot  Kadie – wat behoort het aan die Barry-familie  van Swellendam – begin. Die Barry’s het ‘n wolstoor by Witsand besit. Die Kadie is vir ses jaar lank gebruik om produkte met die Breederivier langs op te laai. Daarna het die Kadie  oor  die oop oseaan gevaar na Struisbaai en daar in die middel van die baai geanker,  waar daar gewag is op die omliggende boere wat moes inroei om hul produkte te laai. Vlakker kon die Kadie nie kom nie.

Die boere het skaapvelle en sout van die soutpanne naby Springfield as ruilhandel gebruik. Die Kadie het hierdie items weer na die mark in Kaapstad geneem. Na ses jaar se getroue diens het die Kadie op die rotse geloop.

 

Struisbaai Hawe is in 1959 gebou en in 1990 vergroot en ontwikkel. Voorheen was daar klippe in draadhokke gepak om die branders se krag bietjie te stuit  – dis nou vóór die muur gebou is. Die vissermanne het altoos gesê “as jy neuk met die water se vloei”, gaan die gety sand op die boothelling gooi. Wat deesdae wel gebeur.

Van bakkies na tjakkies

I caught a big yellowtail today!

Trotse vangs

Mettertyd het die vissermanne hier rond met bakkies (kleinerige roeibootjies) begin visvang. Later is tjakkies gebruik en huidiglik begin die vissermanne skibote gebruik,maar die tjakkies bly almal se gunsteling! Die meeste tjakkies wat nog ooit tesame in Struisbaai visgevang het, was 41. Deesdae is daar maar ses oor met party wat op die wal lê en wag.

Goeie dag op die see gehad

Goeie dag op die see gehad

Dra aan, dra aan

Dra aan, dra aan

Hulle spog met name soos Snow Goose, Dagbreek, Tygerberg, No Spares, Bella, Stella, Schoonberg en Weltevrede. Marco, Renata, Quando en Agulhas is tjakkies wat reeds die tydelike met die ewige verwissel het.

Die oudste vissermanne in die Struisbaai-Noord gemeenskap is Johnny Jantjies bekend as Fiela, Hendrik Marthinus bekend as Goedjies, Adriaan van der Berg bekend as Siranie, Sias Marthinus en Charles Thompson.

As die vis lóóp

 

Geelstert is waarvoor Struisbaai se waters – en die 5-myl sowel as die 12-myl bank – bekend is. Die tjakkies vang oorwegend geelstert, geelbek, kabeljou en rooivis. Hengelaars vang die reeds genoemde geelstert asook geelbek, kabeljou, rooiroman en rooistompneus. Die visskieters skiet geelstert (weereens), rooistompneus, banksteenbras, galjoen (in seisoen) en papegaaibekke.

In die baai is ‘n verskeidenheid van wrakke soos die Oriental Pioneer, die Wafra en die Sceptre wat as natuurlike broeiplek vir ‘n groot verskeidenheid van kleiner visspesies soos dassies, bottervis en wildeperde dien.

 

Van die manne kom al jare der jare naweek na naweek (natuurlik veral in die somer) na Struis (soos dit in die volksmond bekend staan). Daarvan getuig bekende bootname soos Gato, Aquaholic, Uncut, Katkos en Poenskop.

Sirkusmanewales op die kaai

Van die plaaslike inwoners beskou die hawe as die dorp se sirkus. Hulle vertel láng stories van ouens (gewoonlik windgat binnelanders) wat hul bote se propêllers breek of daarsonder see toe gaan; wat vergeet om bootpetrol in te gooi of seker te maak die bootbattery is ook op die dek. As die suidoos waai en die vis byt, is die sirkus op sy beste, vertel Martin van der Merwe, oud-inwoner aan hierdie kus. Daai einste skuite moet uit die water weer op die treilers kom. En dit terwyl die wind pomp. Dán wys die plaaslike vissermanne hóé dit nou eintlik gedoen moet word. Sports op sy beste, kry Martin lekker.

As die sirkus eers verby is, byt die (dalk moedswillige) vis op sy beste. Dan gaan almal weer hawe toe en kyk en luister. “Die hawe is maar die hart van die dorp.” aldus Martin.

Kameraadskap tussen vissersbote

Kameraadskap tussen vissersbote

Leave a comment

Information

This entry was posted on June 19, 2019 by in Oral(s) in die Overberg.