ilsezietsmanblog

Travel – the world is your oyster (and read)

IS DIT NOU ARNISTON OF IS DIT WAENHUISKRANS?

First published in die Burger, May 2012

DSC_1029

Sommige mense noem dit Waenhuiskrans; ander dring daarop aan dit  eintlik Arniston is, of geword het. Blykbaar is Arniston die enigste dorp in Suid-Afrika wat twee amptelike name het.

Die naam Waenhuiskrans is ontleen aan die enorme sandsteengrot wat oor tyd deur erosie gevorm is. Die beskrywende naam het ontstaan omdat die grot kwansius groot genoeg is sodat ‘n ossewa met sy span osse ‘n U-draai daarbinne kan maak.

Die naam Arniston is ontleen aan die Britse skip, die HMS Arniston, wat op 30 Mei 1815 hier gesink het. Uit 378 passasiers – meestal gewonde soldate, maar ook vroue en kinders – het net ses oorleef. Dit was die skip se negende vaart tussen die Verre Ooste en Engeland.

Die storie van die wrak

Met drie dekke was die HMS Arniston stadig nie baie beweeglik nie, maar kon ‘n swaar vrag vervoer. Boonop was daar nie ‘n chronometer aan boord nie: kaptein Simpson kon dit nie bekostig nie, en die skeepseienaars het geweier om een te koop en selfs gedreig dat hul die kaptein sou afdank as hy op een aandring. Die prys wat daarvoor betaal is, kan in menselewens gemeet word.

Met hierdie vaart was die HMS Arniston oppad van die destydse Ceylon (deesdae Sri Lanka) na Engeland. Ten tye van ‘n hewige storm het die kaptein gesukkel om te navigeer – deels as gevolg ou, onbetroubare navigasie-instrumente – en Kaap Agulhas as Kaappunt aangesien. ‘n Fatale fout blyk dit toe te wees.

Die ses skipbreukelinge het eers na Kaapstad probeer loop, maar nie alvorens hul die lyke op die strand begrawe het nie. Na vier en ‘n half dae het hul onverrigter sake teruggekeer na waar hul skip op die rif geloop en gesink het. Na ‘n verdere ses dae is hul deur ‘n boerseun wat gaan jag het, gevind. Op die strand is steeds ‘n replika van die oorspronklike gedenkteken.

‘n Bokvis in ‘n kroeg

Vanaf die lang, legendariese stoep van die Arniston Hotel kyk jy uit oor die see en hier is al oor menige uitgerekte middagetes gefilosofeer.  Van legendes gepraat – Jock Dichmont was jare lank die eienaar van die ou Arniston Hotel waar jy hom amper altyd agter die toonbank van die Strandloper-kroeg kon vind. In die einste kroeg het hy die kop van ‘n mosselkraker gemonteer en vir die snaaksigheid – en om oorsese toeriste, veral Amerikaners, ‘n streep te trek – het hy ‘n bokbaardjie aan die viskop vasgeheg. Jock was ‘n kenner van die skeepswrakke in die omgewing en het tot op ‘n laat ouderdom nog aktief geduik.

As jy voor die Arniston Hotel staan en na die horison kyk, lê die prentjiemooi vissersdorpie, Kassiesbaai, aan jou linkerkant. Kassiesbaai word al twee eeue lank bewoon. Al die rietdak-vissershuisies is wit met blou of groen deure of vensterrame. Regdeur die jaar wapper die wasgoed in die wind wat gewoonlik smiddae begin spoeg en blaas. Lui honde knor kamma-dreigend en waai hul sterte. Plek-plek skrop loslithoenders. Selfs op bewolkte dae loop jy jou vas in nog iemand wat foto’s neem.

As jou maag begin knor

In ‘n  geboutjie wat aan ‘n sendingkerkie herinner, eet jy varser-as-vars lynvis, kerriegarnale of paella by Kassies Cove Restaurant.  Die tafeltjies spog met gladgestrykte, rooi en swart tafeldoeke en wit servette wat aan die sewentigerjare herinner; die glase staan reg vir inskink. Dis sommer ‘n spiekeries plek. Uit die dak hang ‘n visnet en boeie om jou te herinner aan wat daarbuite aangaan.

Kassiebaaiers vlek vis in die jaart, gesels met die bure, vee hul stoepies – al gewoond aan almal wat na hul blyplek wil kom loer. Baie woon al geslagte lank hier. Oumas loer oor onderdeure na ieder en elk se doenighede terwyl hul aanmoedigend vir die kinders skrou. G’n wonder rolprentvervaardigers en kunstenaars vind hul inspirasie hier nie.

Wille Willemien

Na jy die gebeure gadegeslaan het, stap jy oor die knikkie van die kop na waar die sandstrand so ver strek as wat die oog kan sien. Hier tref jy Willeen’s aan. Sy kan ‘n paar mense ‘n ding of drie van entrepeneurskap leer. Willeen’s bedien drie maaltye per dag of tussenin iets ligs soos  botterbroodjies met konfyt. Vir  die hongeriges is daar van bobotie tot ‘n Arniston-bord. Op die rakke is bont hekelkomberse en piekels te koop. ‘n Minuut of vyf se stap verder kan jy ook by Kassiesbaai Crafts rondsnuffel vir iets vir dié wat hierdie naweek met Jan Tuisbly se karretjie gery het.

Langs Willeen’s kan jy oornag in ‘n outentieke vissershuisie wat Kassiesbaai Gastehuis of Kostebaie (hoewel dit allesbehalwe baie kos) genoem word hoewel dit selfsorg is.

Met die terugstap lê die hawetjie regs van jou. Kyk verby die afskeepafdak en die redelik onooglike draad. Stap na die boothelling waar kleurvolle bote dooierus vir mooiweer wag. Seemeeue skreeu hoopvol ingeval ‘n stukkie steenbras na hul kant toe kom.

Arniston bied geen flitsende ligte nie – hier’s nie eens ‘n verkeerslig op die dorp nie, net verdwaalde stopstrate. Dis ‘n wegbreekplek waar jy op poeierwit sandduine of langs ‘n nimmereindigende wit strand stap, waar jy skulpe optel, vars vis eet en net rus. Jy hoef nie tyd in te ruim vir lees nie; jy het eenvoudig net tyd vir lees. En lees.

 

Moenie hier verbyry soos jy deur Bredasdorp ry nie
 
·       Twiice van Ilse van der Westhuizen verkoop stylvolle retro-klere. Hier is bekende en duur etikette, leerbaadjies, jou ouma se kerkskoene, syhemde, frilletjierige serpe en groot handsakke. Kontaknommer: 082 374 9734
·       Bonthuys van Marelize Crafford verkoop ou meubels wat met ‘n lekkie verf of ‘n bont lap opgetower word. Tussenin staan ‘n ou glasfles, ‘n olieverfskildery, ‘n vergete naaimasjien of ‘n rottangmandjie. Kontaknommer: 083 4456 999
·       By Meelmuis is brooddeeg, roosterkoeke, pizza-wiele en ander deeg-erasies – ideaal vir ‘n wegbreeknaweek – te koop of bestel. E-pos: mara@keeper.co.za

 

One comment on “IS DIT NOU ARNISTON OF IS DIT WAENHUISKRANS?

  1. bosmanhessie@gmail.com
    September 14, 2017

    Mooiste artikel….. Dankie xxxxx

    Hester Bosman

    082 8765 561

Leave a comment

Information

This entry was posted on September 13, 2017 by in Oral(s) in die Overberg and tagged .